Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ministers gekap oor kleintjies

Twee ministers is in die hooggeregshof in Pretoria verguis omdat hulle “hul magte misbruik het” en omdat “hul optrede ’n gewetenlose en onomkeerbare invloed op 2,7 miljoen kinders se behoeftes het”.

Regter Hans Fabricius het Maandag saamgestem met die aansoekers in die saak dat private kleuterskole wat onder die departement van maatskaplike ontwik-keling (DMO) val, mag heropen en dat Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, en Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, hul magte misbruik het.

In ’n uitspraak wat deur sommiges “met trane en blydskap” begroet is, het hy het gelas dat dié private kleuterskole onmiddellik mag heropen indien die toepaslike en voorgeskrewe veiligheidsmaatreëls ter beskerming teen Covid-19 reg is.

Dit sluit dagmoeders, speelgroepe en naskoolsentrums in.

Fabricius het ook met die aansoekers – Solidariteit se beroepsgilde vir maatskaplike werkers, hul Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die Bronkieland-kleuterskool – saamgestem dat daar ook geen rasionele of regverdigbare gronde bestaan waarom sentrums vir vroeë kinderontwikkeling (VKO’s) wat deel is van skole in vlak 3 van die inperking mag open, maar private kleuterskole nie.

Die applikante het verder gevra dat die DMO se besluit om dié kleuterskole gesluit te hou, as ongrondwetlik en onwettig verklaar en tersyde gestel word.

Volgens Fabricius het die regulasies hieroor ’n onregverdige, onwettige en irrasionele gaping laat ontstaan.

Motshekga het op 29 Mei die regulasies gepubliseer waarvolgens kinders in VKO’s en gr. R van gister af mag terugkeer.

Zulu het op 5 Junie in ’n verklaring gesê dat VKO’s wat onder die DMO val, onbepaald gesluit moet bly.

Op 22 Junie is die onderwysregulasies weer gewysig om private kleuterskole onder DMO se beheer, uit te sluit.

Fabricius het Zulu ook gekasty en gesê dit is “onaanvaarbaar” dat sy nie ’n opponerende eedsverklaring in ’n saak, wat miljoene kinders raak, teen die sperdatum van 15 Junie ingedien het nie.

Sy het wel ter elfder ure, op 30 Junie, terwyl iemand al sy uitspraak getik het, ’n boodskap gestuur het waarin sy vra dat die aansoek met koste van die hand gewys word.

Die applikante het dit beskryf as ’n “strategies beplande hinderlaag” deur die twee ministers om die hof op die nippertjie te verhoed om oor die saak te beslis en die applikante sonder regskeuses te laat.

Hulle het ook aangevoer dat dit ’n taktiek geword het om regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur te wysig sodra die wettigheid daarvan in die hof uitgedaag word en sodoende aanspreeklikheid vry te spring.

Onderwysers kan hul dienste hervat en die talle personeellede wat ook onder hierdie sinlose stilswye van die departement gely het, kan nou weer daarna uitsien om gesond en veilig te werk.

Farbricius het met hierdie en ander argumente, onder meer dat die regulasies absurde situasies skep, saamgestem.

Die hof het ’n kostebevel teen Zulu toegestaan en bygevoeg haar optrede tydens die hofverrigtinge voldoen nie aan die standaard wat tydens sulke belangrike kwessies verwag word nie.

Lumka Oliphant, woordvoerder van die DMO, sê dat Zulu en die departement eers die hofuitspraak sal bestudeer voordat hulle verder daaroor kommentaar lewer.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers, het gesê die uitspraak beteken verligting vir duisende ouers vir wie dit nou weer moontlik gaan wees om hul kinders in die sorg van hul bekwame onderwysers te laat.

“Onderwysers kan hul dienste hervat en die talle personeellede wat ook onder hierdie sinlose stilswye van die departement gely het, kan nou weer daarna uitsien om gesond en veilig te werk,” sê sy.

Anéll Harper (foto), eienaar van die Koeitjies en Kalfies-kleuterskool in Centurion, was gister baie ingenome met die beslissing.

“Ons hele sektor was in trane vanoggend. Dit was trane van absolute verligting en blydskap dat hierdie nagmerrie net uiteindelik verby is,” het sy gesê.

Ons hele sektor was in trane vanoggend. Dit was trane van absolute verligting en blydskap dat hierdie nagmerrie net uiteindelik verby is.

Harper is gereed om vandag al te open. “Die meeste van ons wat gereed is en die week personeel gehad het om skoon te maak en die protokols in plek te kry, begin sommer al môre (vandag). Ons wil nie nog ’n dag langer wag nie, so my skool is van môre (vandag) af oop. My ouers is almal baie opgewonde. Gelukkig het ons alles in plek, ek dink daar is nog ’n paar skole wat dalk nog die week gaan vat om net alles in plek te kry.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Kleuterskole  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.