Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
MIV-klag: Saak in Januarie aangehoor

Die verhoor van ’n oudsoldaat wat sy vriendin glo bewustelik besmet het met MIV deurdat hy sy status vir haar weggesteek het, sal volgende jaar in die streekhof in Pretoria begin.

Die 44-jarige man word aangekla van poging tot moord, alternatiewelik van verkragting onder valse voorwendsels.

Luidens die klagstaat het die man, wat eers geïdentifiseer mag word nadat hy op aanklagte van ’n seksuele aard gepleit het, “opsetlik” probeer om die vrou te vermoor deur sowat vier maande lank gereeld onbeskermde seks met haar te hê, wetend dat hy ’n ongeneeslike siekte aan haar kan oordra wat tot die dood kan lei.

Dit blyk dat die beskuldigde deeglik van sy MIV-status bewus was. Terwyl hy destyds as stafsersant by die weermag se spesiale magte in Phalaborwa gestasioneer was, moes hy gereeld verpligte mediese ondersoeke, onder meer toetse vir MIV, ondergaan.

Die klagstaat voer aan dat hy op 8 Oktober 2007 positief vir die siekte getoets is en toe ingelig is oor die behandeling en die voorgestelde berading vir iemand met sy toestand.

Hy het ook medikasie hiervoor begin gebruik.

In Desember 2016 het hy glo in ’n romantiese verhouding met ’n korporaal in die lugmag betrokke geraak. Ook sy moes gereeld die mediese toetse ondergaan. Tot Augustus 2016 is sy negatief vir MIV getoets.

“Die klaagster het vanaf Augustus 2016 tot 16 Desember 2016 geen seksuele interaksie met enige man gehad nie,” lui die hofdokument.

Toe ontmoet sy die beskuldigde. Hy het haar glo verseker – en laat glo – dat ook hy MIV-negatief is en hulle het tot April 2017 onbeskermde seks gehad.

“Die seksuele verhouding is gepleeg deur die beskuldigde onder valse voorwendsels, onder meer waar hy die klaagster laat glo het dat hy MIV-negatief is.

“Die beskuldigde het (egter) geweet hy is MIV-positief en dat hy die klaagster kon besmet sou hy onbeskermde seksuele omgang met haar hê. Die beskuldigde het geen voorsorgmaatreël getref nie en/of die kondoom gedurende seksuele interaksie met die klaagster verwyder.

“Hy het haar gereeld verseker dat hy nie MIV-positief is nie, ten spyte daarvan dat hy op 8 Oktober 2007 deur die SANW (Suid-Afrikaanse nasionale weermag) oor sy status ingelig is,” voer die klagstaat aan.

Die bewering is voorts dat die klaagster nie sou ingestem het tot ’n seksuele verhouding as sy van die stafsersant se MIV-status bewus was nie.

Hy het haar gereeld verseker dat hy nie MIV-positief is nie, ten spyte daarvan dat hy op 8 Oktober 2007 deur die SANW (Suid-Afrikaanse nasionale weermag) oor sy status ingelig is.

Op 26 April 2017 is die vrou positief getoets vir die virus.

Dit blyk dat die verdagte egter steeds tot onlangs in diens van die weermag was, terwyl laasgenoemde geen stappe teen hom gedoen het nie.

In 2018 het AfriForum se private vervolgingseenheid betrokke geraak nadat ’n lid van die media hul hiervan ingelig het.

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer van AfriForum se private vervolgingseenheid, het in ’n verklaring gesê hulle het ná oorlegpleging met die aanklaer verneem dat die weermag “versuim het om die nodige inligting aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te verskaf”.

“Ná volgehoue druk deur die eenheid is die dossier nou volledig en kon die NVG voortgaan om die beskuldigde aan te kla.”

Woensdag het die beskuldigde, wat op waarskuwing vrygelaat is nadat hy vroeër gedagvaar is om in die hof te verskyn, met ’n advokaat as regsverteenwoordiger in die beskuldigdebank gestap.

Die inhoud van die dossier, behalwe vir drie uitstaande verklarings, is aan die verdediging oorhandig, waarop die hof gehoor het dat die saak gereed is vir verhoor.

Voorts sal die beskuldigde, wat voorheen aangedui het dat hy kontrakwerk in Angola gekry het, nie meer versoek dat hy Suid-Afrika daarvoor mag verlaat nie, omdat hy Woensdagoggend ingelig is dat dit gekanselleer is.

Hy is dus tans werkloos.

• Die verhoor sal in Januarie begin.

Meer oor:  Phyllis Vorster  |  Oudsoldaat  |  Klag  |  Miv  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.