Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mkhwebane weer hof toe gesleep

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) eis toegang tot inligting wat adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), in haar verslag van Mei 2019 gebruik het om adj.pres. David Mabuza kwyt te skeld vir die onreëlmatige aanskaffing van luukse motors ter waarde van R5 miljoen.

Adv. Busisiwe Mkhwebane

Outa het Dinsdag gesê hy het stukke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin hy die hof vra om Mkhwebane te verplig om ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) die dokumente wat verband hou met die ondersoek na Mabuza, aan hom beskikbaar te maak.

“Outa se aansoek vra die hof om die OB se weiering om die inligting te verskaf onwettig te verklaar en haar te verplig om dit wel te doen,” het adv. Stefanie Fick, Outa se hoofregsbeampte, gesê.

Mkhwebane het in haar verslag bevind dat Mabuza nie betrokke was by die onreëlmatige aanskaffing van vier luukse voertuie ter waarde van R5 miljoen vir sy kantoor nie. Dit was toe hy premier van Mpumalanga was.

Terwyl Mkhwebane bevind het dat die aankope van ’n BMW X5, ’n Audi A8, ’n Lexus en ’n Range Rover Evoque vir Mabuza wel onreëlmatig was, het sy bevind dat dr. Nonhlanhla Mkhize, wat toe sy direkteur-generaal was, verantwoordelik gehou moet word.

Aankoop van BMW X5

Mkhwebane het bevind dat die kantoor van die premier ingevolge die ministeriële handboek uitgesluit is by die aankoop van ’n BMW X5 aangesien dit nie die amptelike voertuig van die premier was nie en dat dit daarom die voorskrifte van dié handboek oortree het.

Mkhwebane het bevind dat die kantoor van die premier ook in gebreke gebly het om te voldoen aan tesourievoorskrifte ten opsigte van die aankope van die Audi. Daarbenewens is die Range Rover Evoque aangekoop op ’n manier wat afgewyk het van die voorgeskrewe aanskaffingsproses.

Desondanks het sy bevind dat Mabuza geen hand in die skandaal gehad het nie.

Nadat die verslag bekendgestel is, het Outa versoek dat Mkhwebane die dokumente wat sy in haar ondersoek gebruik het, ingevolge Paia aan hom oorhandig, maar sy het “geweier” om daaraan te voldoen.

“Outa glo dat Mkhwebane buite haar magte opgetree het in dié kwessie, insluitende deur persoonlik te weier om toegang te gee tot die rekords. Haar brief is vervat in die hofstukke. Ingevolge Paia is dit net die inligtingsbeampte van ’n openbare instelling wat formeel ’n versoek vir inligting mag toestaan of weier,” het Fick gesê.

Wanvertolking van voorskrifte

“Sodanige verontagsaming of wanvertolking van die voorskrifte van Paia hou moontlik ’n bedreiging in vir die geloofwaardigheid en integriteit van die OB.”

Oor Outa se hofaansoek het Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, bevestig dat hulle die hofstukke ontvang het, maar dat hulle nie kommentaar kan lewer nie aangesien die saak “sub judice” is.

’n Parlementêre ondersoek na haar geskiktheid vir haar amp staar Mkhwebane ook in die gesig. Dit teen die agtergrond daarvan dat die hooggeregshof in Pretoria bevind het dat sy “haar plig versuim het” deur nie behoorlik ondersoek in te stel na die Guptas se suiwelplaasprojek by Vrede in die Vrystaat nie.

Verslag tersyde gestel

’n Ander verslag deur Mkhwebane wat ter syde gestel is, was dié oor haar ondersoek na die apartheidsera-reddingsboei van die Reserwebank aan Bankorp, wat later deur Absa gekoop is.

In Julie verlede jaar het die konstitusionele hof ’n beslissing van die Noord-Gautengse hooggeregshof gehandhaaf dat Mkhwebane ’n persoonlike strafkostebevel van 15% moet betaal oor haar hantering van die Bankorp-ondersoek. Dié bedrag beloop na raming R900 000. Dan is daar ook nog haar hofstryd in die konstitusionele hof met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oor die sogenaamde “rogue unit” destyds in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Mkhwebane appelleer teen ’n beslissing van die Noord-Gautengse hooggeregshof wat die implementering van haar regstellende aksie uitgestel het dat pres. Cyril Ramaphosa dissiplinêre stappe teen Gordhan moet doen weens sy instelling van die eenheid toe hy kommissaris van die SAID was. Dit totdat haar verslag op hersiening geneem is.

Mabuza se woordvoerder, Thami Ngwenya, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Outa  |  Ob  |  Hofgeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.