Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modack hoof van ‘kriminele entiteit’, sê staat
Nafiz Modack verlaat Maandag die landdroshof in Kaapstad saam met lede van die ondersoekspan. Foto: Jaco Marais

Nafiz Modack (39) is volgens die staat die bestuurder van ’n kriminele entiteit wat ’n polisielid omgekoop het om teen betaling inligting aan hom te verskaf.

Modack en die polisielid, sers. Ashley (Puppy) Tabisher (39), het Dinsdag in die landdroshof in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte elk op ’n aanklag van korrupsie en twee aanklagte van geldwassery verskyn.

Tabisher, ’n voormalige uniformlid van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, is Sondag in hegtenis geneem.

Hy is tans gestasioneer by die polisie se taktiese-reaksie-eenheid.

Modack is verlede Donderdag naby Century City in Kaapstad in hegtenis geneem deur lede van die geïntegreerde taakspan wat aangestel is om die moord op lt.kol. Charl Kinnear (52) te ondersoek.

Luidens die klagstaat het ’n korrupte verhouding tussen Modack, Tabisher en Amaal Jantjies (32) van Clarke Estate, Elsiesrivier, bestaan.

Die staat beweer dat Modack, ’n vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, Tabisher ’n bedrag van R10 000 en ’n selfoon met ’n waarde van R3 500 betaal het vir inligting oor klopjagte en polisie-operasies teen Modack. Die inligting en betalings is glo deur ’n tussenganger, Jantjies, hanteer.

Die saak teen Modack en Tabisher is tot Maandag 10 Mei vir ’n streekhof-datum uitgestel. Hul borgtogaansoek sal in die streekhof aangehoor word.

Modack staan ook tereg op aanklagte wat verband hou met sy beweerde betrokkenheid by ’n misdadige bende, vyf aanklagte van sameswering om moord te pleeg, een aanklag van poging tot moord, die onwettige verkryging van plofstof en die onwettige besit van en handel in vuurwapens. Ook dié saak is tot Maandag uitgestel. Die staat het gesê dat hy borgtog sal teenstaan.

Die nuwe aanklagte teen Modack hou verband met die gefnuikte handgranaat-aanval by die vermoorde Kinnear se huis op 23 November 2019 in Bishop Lavis.

Jantjies, haar minnaar, Janick Adonis, en Faeez Smith is reeds sedert November 2019 in aanhouding in verband met die voorval. Smith is in die oggendure van 23 November 2019 deur lede van die teenbende-eenheid met ’n handgranaat in sy besit gevang.

Die staat beweer in die klagstaat dat Jantjies haar na Modack gewend het toe sy besef het dat die teenbende-eenheid hulle nie sal kan help om borgtog of ’n verminderde vonnis vir Adonis te kry nie.

Maar Modack se regstryd eindig nie hier nie.

Lt.kol. Charl Kinnear se weduwee, Nicolette Kinnear, kom by die landdroshof in Bishop Lavis aan. Agter loop hul twee seuns, Carlyle en Cashleigh. Foto: Jaco Marais

Hy staan in die landdroshof in Kaapstad ook tereg op aanklagte van afpersing, ontvoering, intimidasie, geldwassery en die onderskepping van kommunikasie. Dit hou verband met ’n voorval in Maart 2020 toe Modack, Jacques Cronjé en Ricardo Morgan glo vir Sameer Vallie, ’n sakeman van Claremont, Kaapstad, ontvoer en hom gedwing het om R600 000 wat hy glo aan ’n Durbanse sakeman geskuld het, aan hulle te betaal.

Volgens die staat is Vallie se selfoonseine ook nagespeur. Dit is glo op 11 Maart drie keer deur Zane Kilian nagespoor.

Kilian gaan volgens inligting ook Vrydag by die saak gevoeg word.

In die tweede saak word Modack en Morgan aangekla van sameswering om moord te pleeg en poging tot moord.

Dit hou verband met die mislukte huurmoordaanval op 9 April op William Booth, ’n bekende Kaapse regsgeleerde.

Die hof beweer dat Modack en Morgan tussen Maart en 9 April 2020 met ander mense saamgesweer het om Booth te vermoor.

Daar is destyds berig dat Booth Vallie aangeraai het om ’n saak van ontvoering en afpersing teen Cronjé te maak nadat Cronjé hom glo ontvoer en aangerand het weens sy beweerde skuld aan die Durbanse sakeman.

Kilian is ook reeds ’n beskuldigde in dié saak.

Modack is ook Maandag aangekla van roekelose en nalatige bestuur, poging tot moord en verset teen inhegtenisneming. Modack het glo Donderdag toe hy aangekeer is probeer om ’n lid van die taakspan wat hom in hegtenis geneem het, om te ry.

Die staat het Maandag met Modack se eerste verskyning in die hof gesê dat die sake daar saamgevoeg gaan word.

Hy verskyn in die sake saam met Cronjé en Morgan.

Ander sake teen Modack

Modack staan ook saam met sy vrou, haar tweelingsuster, vuurwapenhandelaars en Gautengse polisielede in die landdroshof in Kempton Park tereg op aanklagte van bedrog, regsverydeling en oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Hul verhoor sal in die hooggeregshof in Johannesburg plaasvind. Modack is tans uit op borgtog in dié saak.

Die ondersoek hou verband met ’n beweerde smokkelnetwerk van vals vuurwapenlisensies. Die vermoorde Kinnear het reeds in November 2017 met die ondersoek in dié saak begin.

Sers. Ashley (Puppy) Tabisher Foto: Facebook


Meer oor:  Nafiz Modack  |  Bendebaas  |  Kriminele Entiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.