Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modack: Polisielid staan bont in hof oor ondersoek
Nafiz Modack (in ’n blou denimbroek) stap saam met lyfwagte buite die hof tydens ’n vorige verskyning.Foto: Jaco Marais

Die hoofondersoekbeampte in die afpersingsaak oor veiligheidsdienste in Kaapstad het Woensdag bontgestaan in die hof om vrae oor ongerymdhede met die polisie se ondersoek en die optrede van sy kollegas te beantwoord.

Lt.kol. Charl Kinnear Foto: Peter Abrahams/SON

Lt.kol. Charl Kinnear, hoof van die Seepunt-polisie se speurtak, het Woensdagoggend in die streekshof in Kaapstad getuig in die saak teen Nafiz Modack, Colin Booysen, Ashley Fields en Jacques Cronjé.

Hulle is in November 2017 in hegtenis geneem ná aantygings dat hulle die eienaars en bestuur van die Grand Africa Café & Beach in die V&A Waterfront afgepers het om veiligheidsdienste aan die kuierplek te voorsien.

Kinnear, wat die oorname van die uitsmytersbedryf in Kaapstad ondersoek, sê daar is op ’n vergadering van senior polisielede in April 2017 genoem dat die “gewelddadige oorname” van veiligheidsdienste by nagklubs in Langstraat en ander dele vir probleme in die polisiegebied sorg.

Hy is deur genl.maj. Jeremy Vearey, toe die groepspolisiehoof van Kaapstad, beveel om die kwessie te ondersoek.

Adv. Dirk Uys, Modack se regsverteenwoordiger, het gevra of die probleme waarna Kinnear verwys die mededinging in die uitsmytersbedryf is, maar Kinnear het gesê dat dit gegrond is op inligting van misdaadintelligensie.

Daarna het Uys gevra of Kinnear weet dat die sakeman Mark Lifman ook ’n belang in die veiligheidsbedryf het en dat daar onmin tussen die beskuldigdes en Lifman is. Kinnear het bevestig dat hy deur die loop van die ondersoek daarvan bewus geword het.

Later het Kinnear ook erken dat hy nie toe geweet het dat Radley Dijkers, handelsmerkbestuurder van Grand Africa Café & Beach, ’n maand nadat hy ’n beëdigde verklaring aan die polisie ingedien het, met Lifman vergader het nie.

Jacques CronjéFoto: Jaco Marais

Verder het Kinnear gesê hy het nie geweet dat Dijkers met kapt. Althea Jeftha van die bende-eenheid vergader het nie en “het in die koerante daarvan gelees”.

Dit het Uys laat vra of Kinnear nie daaraan gedink het om vir Jeftha te vra waarom sy hom nie in kennis gestel het nie.

Uys het aangevoer daar was ongerymdhede met die ondersoek en hy wonder waarom ’n dossier nie aangelê is met die ontvangs van die verklarings wat Kinnear geglo het op ernstige misdade dui nie.

Kinnear het gesê hy het voorgestel dat ’n ondersoekdossier geopen word vir verdere ondersoek na die klagte, voordat ’n dossier vir ’n strafregtelike saak geopen word en dat dit ook glo die geval met ander sake teen Modack is.

Colin BooysenFoto: Peter Abrahams/SON

Hy het op ’n vraag van Uys bevestig dat Jeftha die verklarings van Dijkers oorhandig het, maar dat sy nie ’n dossier geopen het nie.

Uys het Kinnear toe herhaaldelik gevra waarom hy as die senior offisier nie vir Jeftha gevra het waarom sy nie ’n dossier geopen het nie, soos normaalweg wanneer die polisie ’n klag van die publiek ontvang nie.

Kinnear het aanvanklik aangedui dat “dit ’n vraag is wat aan Jeftha gestel moet word”. Mettertyd het hy erken na sy mening moes ’n dossier geopen word, maar daar is toe besluit om eers met ’n ondersoekdossier te begin.

Landdros Byron Pedro het tussenbeide getree en gevra waarom Kinnear nie vir Jeftha dié vraag gestel het nie.

Kinnear het toe gesê dat hy wel vir Jeftha gevra het en sy verduidelik het dat sy bykomende verklarings wil bekom.

Later het Kinnear ook aangedui dat ander werknemers van Grand Africa Café & Beach nie verklarings wou aflê nie en selfs met ’n besoek aan hul kantoor nie met die polisie wou praat nie.

Genl.maj. André Lincoln, hoof van die bende-eenheid, het Woensdagoggend ook vir ’n ruk in die hofsaal gesit tydens die verrigtinge.

’n Getuie van die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf (Psira) het die oggend verduidelik watter stappe ’n maatskappy moet volg om geregistreer te word in die veiligheidsbedryf. Hy het bevestig dat die direkteurs van maatskappy en alle veiligheidswerkers geregistreer moet word. Daarby het hy bevestig dat Modack, Booysen en Fields nie by Psira geregistreer is nie. Booysen se aansoek is in 2014 afgekeer en Modack se aansoek is voorlopig van die hand gewys.

Modack het met ’n koeëlvastebaadjie onder sy baadjie in die hof gesit en ’n groep van tien na 20 mans, grootliks in swart geklee, het buite die hof gestaan en hom na ’n viertrekvoertuig begelei nadat die hof verdaag het.

Hy het Dinsdag bevestig dat hy in ’n telefoonoproep gedreig is dat hy ten tyde van sy hofverskyning doodgeskiet gaan word, berig Maygene de Wee.

Modack het toe egter gesê hy is nie bang nie en dat die mense “vir hom kan kom”.

Die saak word Donderdag verder aangehoor.

Meer oor:  Polisie  |  Hof  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.