Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modack-regsman: Ons kry nie inligting waarvoor ons vra

Die borgtogaansoek van Nafiz Modack (39), vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, en drie ander – Zane Kilian (39), Jacques Cronje (50) en Ashley Tabisher (39) – is Maandag in die streekhof in Blue Downs tot Vrydag uitgestel.

Adv. Dirk Uys SC, Modack se regsverteenwoordiger, het Maandag aan die hof gesê die staat het ondanks ’n versoek van hom vir nadere besonderhede dit nog nie aan hom gegee nie.

Uys sê dit is sy kliënt se reg om te weet presies wat die aanklagte teen hom is sodat hulle vir ’n borgtogaansoek kan voorberei en het ’n tussentydse aansoek gebring waarin hy die hof gevra het om die staat te beveel om die inligting aan hulle te verskaf.

Hy het ook aan die hof gesê hulle wil ook die beëdigde verklaring hê waarop die lasbrief vir sy kliënt se inhegtenisneming bekom is, sowel as die sertifikaat van die nasionale direkteur van openbare vervolging wat toestemming gee dat sy kliënt ook ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) aangekla kan word.

Nafiz Modack, Zane Kilian en Jacques Cronje tydens een van hul vorige hofverskynings. Foto: Maygene de Wee

Die hof het Maandag gehoor dat landdros AC Masala, wat veronderstel was om die borgtogaansoek aan te hoor, nog steeds “ongesteld” is.

Die hof het verlede week gehoor Masala is “siek”. Dit het egter later bekend geword dat hy op 16 Mei in ’n skietvoorval in Mfuleni by ’n karwasplek in sy linkerboud gewond is.

Landdros Deon van der Spuy, wat Maandag se hofverskyning waargeneem het, het ook aan die staat en verdediging gesê die betrokke hof waar die borgtogaansoek aangehoor gaan word, is ’n verhoorhof en dat daar reeds ander sake op die hofrol is wat voorkeur moet geniet.

Hy het dit vir die partye op die hart gedruk oor die beskuldigdes in die ander sake op die hofrol wat ook reeds al lank in aanhouding is en vir die beskuldigdes saam met Modack gesê hulle moet nie verwag hul borgtogaansoek gaan binne dae geskied nie.

Hy het ook vir die partye gevra hoe hulle die aansoeke gaan hanteer, of daar verklarings ingedien gaan word en of hulle mondelinge getuienis gaan lewer.

Uys het hierop gesê die tussentydse aansoek waarin hulle vra vir nadere besonderhede kan ook in sy kliënt se borgtogaansoek gebruik word.

Van die inligting wat hy soek, is wanneer Modack sodanig saam met ander mense saamgesweer het om vir William Booth, Charl Kinnear en die mense in die ander pogings tot moordaanklagte waarop hy teregstaan.

Hy wil ook weet wanneer en waar hy kommunikasie onderskep het.

Modack staan onder meer saam met Kilian, Cronje, Ricardo Morgan en Tabisher tereg op 62 aanklagte wat insluit die moord op lt.kol. Charl Kinnear in September 2020. Hy staan ook saam met Morgan en Kilian en Cronje tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg en die onderskepping van kommunikasie, sowel as poging tot moord, ontvoering en intimidasie.

Hierdie aanklagte hou verband met die mislukte huurmoordaanval op William Booth in April 2020.

Ander aanklagte is dié van geldwassery, korrupsie en ingevolge Poca. Hy staan saam met Tabisher tereg op aanklagte van korrupsie en aanklagte ingevolge Poca.

Die hof het ook gehoor Cronje, Kilian en Tabisher se regsverteenwoordigers is gereed om met hul borgtogaansoeke voort te gaan.

Die landdros het egter die saak tot Vrydag uitgestel vir die staat om die nadere besonderhede aan die betrokke partye te gee om teen Vrydag vir die borgtogaansoek voorbereid te wees.

Meer oor:  Jacques Cronje  |  Zane Kilian  |  Ashley Tabisher  |  Nafiz Modack  |  Blue Downs  |  Kaapstad  |  Uitstel  |  Borgtogaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.