Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modack-saak: Sersant sê hy word as ‘pion’ gebruik

Verskeie lede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, insluitend die bevelvoerder, genl.maj. Andre Lincoln, was glo betrokke by vergaderings tussen die staat, Janick Adonis en dié eenheid.

Die vergaderings het volgens sers. Ashley Tabisher by die teenbende-eenheid se basis in Faure buite Kaapstad plaasgevind.

Volgens Tabisher was die doel van die vergaderings om te praat oor ’n verminderde vonnis vir Adonis.

Genl.maj. Andre Lincoln is Vrydag in die streekhof in Blue Downs deur ’n voormalige lid van die teenbende-eenheid betrek by die Nafiz Modack-verhoor. Foto: Facebook

Tabisher, wat op 2 Mei by sy huis in hegtenis geneem is, het Vrydag in die streekhof in Blue Downs verskyn op aanklagte van korrupsie – saam met Nafiz Modack, ’n vermeende kernfiguur in die Kaapse onderwêreld.

Hy word daarvan beskuldig dat Modack hom R10 000 en ’n selfoon van R3 500 betaal het vir inligting oor klopjagte en operasies teen hom (Modack).

Die betaling is glo deur ’n tussenganger, Amaal Jantjies (32), gedoen. Jantjies is Adonis se vriendin.

In ’n verklaring wat Tabisher se prokureur, Bruce Hendricks, Vrydag by die streekhof op rekord ingelees het, sê Tabisher dat hy nooit alleen of uit sy eie ten opsigte van Jantjies en Adonis opgetree het nie.

Hy sê dat hy nou deur Lincoln en ander as ’n pion vir eie gewin gebruik word.

“Alle voorvalle was onder die leiding, toesig en instruksies van kapt. Andy Stone, my regstreekse bevelvoerder, en genl.maj. Andre Lincoln."

Sers. Ashley Tabisher beweer hy is ’n pion wat deur genl.maj. Andre Lincoln vir eie gewin gebruik word. Foto: Facebook

Hy sê in sy verklaring ook dat Lincoln voorgegee het dat hy met adv. Shareen Riley van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap oor die kwessies oor Adonis praat. “Ek het bewyse daarvoor. Ek was daarom onder die indruk dat al die nodige instellings bewus was van die handelinge met Amaal Jantjies en Janick Adonis.”

Volgens Tabisher was adv. Blaine Lazarus, een van die staatsaanklaers in die Modack-verhoor, ook deel van die vergaderings met Adonis en Jantjies.

Lazarus het glo die vergaderings op uitnodiging van Lincoln bygewoon.

Lazarus was die staatsaanklaer in Adonis se verhoor in 2018 en 2019 in die prioriteitshof in Khayelitsha.

Adonis is in dié saak tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Hy en Jantjies staan saam met Faeez Smith tereg weens ’n mislukte handgranaat-aanval op lt.kol. Charl Kinnear se huis in November 2019.

Maar volgens Tabisher was dit nie net Lincoln, Lazarus en Stone wat van die vergaderings geweet het nie. Ander wat volgens hom geweet het, is sers. Marlin Adams, ’n ao. Rubain, kapt. Althea Jeftha, sers. Leatitia van der Horst, Charlton Johnson, ’n Popcru-verteenwoordiger, Kinnear en nog ander lede van die teenbende-eenheid.

Tabisher sê hy is die een wat hulle ingelig het dat daar Kinnear se lewe bedreig word.

“Ek het bewyse daarvoor dat ek aangedui het dat hy en sy familie beskerm moet word.”

Volgens Tabisher het ook genl.maj. Jeremy Vearey, Wes-Kaapse speurhoof, van die gesprekke met Adonis geweet. “In ’n daaropvolgende telefoongesprek met genl. Vearey het hy vir my gesê: ‘Pappie, as dit daarby kom, moet jy net die waarheid praat.’

“Hulle wil hê die staat moet glo dat ek as ’n sersant in die polisie ’n eenheid geïnfiltreer het vir mnr. Modack. Ek ken nie vir mnr. Modack nie en ek wil hê die staat moet my sogenaamde betrokkenheid met mnr. Modack bewys.”

Tabisher het ook beswaar gemaak dat sy borgtogaansoek nie kan voortgaan nie. Hy het onder meer verwys na die saak van Wayne Henderson, ’n polisiebeampte verbonde aan die Seepunt-polisiekantoor wat saam met ander vermeende onderwêreld-betrokkenes op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, aanhitsing van openbare geweld, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, regsverydeling en korrupsie teregstaan.

Henderson is met sy eerste verskyning in Februarie vanjaar op borgtog van R5 000 vrygelaat en is ook toegelaat om homself aan die polisie oor te gee.

Tabisher sê dat hy te alle tye sy samewerking aan die staat gegee het en ook verskeie verklarings afgelê het. Hy sê dit is onregverdig teenoor hom dat hy nie ’n spoedige borgtogaansoek kan indien nie.

Sy borgtogaansoek is saam met dié van Modack, Jacques Cronje en Zane Kilian tot 17 Mei uitgestel. Ricardo Morgan, nog ’n beskuldigde in die Modack-verhoor, is op borgtog van R50 000 vrygelaat.

Meer oor:  Polisie  |  Teenbende-Eenheid  |  Nafiz Modack  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.