Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modack vir moord op Kinnear vervolg, sê Cele

Nafiz Modack (39), vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, gaan vir die moord op lt.kol. Charl Kinnear (52) aangekla word.

Dít was Maandag die woorde van Bheki Cele, minister van polisie, kort nadat Modack, Jacques Cronjé (50) en Ricardo Morgan (36) op aanklagte van afpersing, ontvoering, intimidasie en die onderskepping van kommunikasie in die landdroshof in Kaapstad verskyn het.

Modack is verlede Donderdag naby Century City aangekeer deur lede van die geïntegreerde polisietaakspan wat aangestel is om die moord op Kinnear te ondersoek.

Nafiz Modack verlaat die landdroshof saam met lede van die ondersoekspan. Foto: Jaco Marais

Geklee in ’n denim, wit T-hemp met die woord “Boss” daarop, blou baadjie en ’n groen serp het Modack sonder enige emosie vir die duur van die hofverskyning stip voor hom uitgekyk, wetende dat ’n klagstaat so lank soos die arm van die gereg hom in die gesig staar.

Die hof was stampvol, met landdros Ronel Oliver wat genoodsaak was om mense wat nie by die saak betrokke is nie te vra om die hofsaal te verlaat.

Lede van die polisie se taktiese-reaksie-eenheid, tot die tande toe gewapen, het vroegoggend stelling ingeneem in die hofgebou en ook voor Oliver se kantoor.

Ook die polisie se toplui was daar om met hul eie oë te sien hoe Modack Maandag vir die eerste keer voor die hof gebring word.

Nafiz Modack (met blou pet) verlaat Maandag die landdroshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Die aanklagte van afpersing, ontvoering, intimidasie, geldwassery en die onderskepping van kommunikasie hou verband met ’n voorval in Maart 2020 toe Modack, Cronjé en Morgan glo vir Sameer Vallie, ’n sakeman van Claremont, Kaapstad, ontvoer en gedwing het om R600 000 wat hy glo aan ’n Durbanse sakeman geskuld het, aan hulle te betaal.

Volgens die staat is Vallie se selfoonseine ook nagespeur.

In die tweede saak word Modack en Morgan aangekla van sameswering om moord te pleeg en poging tot moord.

Dit hou verband met die mislukte huurmoordaanval op 9 April op William Booth, ’n bekende Kaapse regsgeleerde.

Die hof beweer dat Modack en Morgan tussen Maart en 9 April 2020 met ander mense saamgesweer het om Booth te vermoor.

Ricardo Morgan en Jacques Cronjé verlaat Maandag die landdroshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Daar is destyds berig dat Booth Vallie aangeraai het om ’n saak van ontvoering en afpersing teen Cronjé te maak nadat Cronjé hom glo ontvoer en aangerand het oor sy beweerde skuld aan die Durbanse sakeman.

Die saak teen Cronjé is in April 2020 teruggetrek.

Modack is ook Maandag aangekla van roekelose en nalatige bestuur, poging tot moord en verset teen inhegtenisneming.

Modack het glo Donderdag toe hy aangekeer is probeer om ’n lid van die taakspan wat hom in hegtenis geneem het, om te ry.

Cele, genl.maj. Thembisile Patekile, waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof, en genl.maj. Jeremy Vearey, Wes-Kaapse speurhoof, het onder swaar gewapende polisiebegeleiding die verrigtinge bygewoon.

Cronjé en Morgan het hulself Vrydag aan die polisie oorgegee.

Adv. Dirk Uys, Modack se regsverteenwoordiger, wou by die landdros weet of die swaargewapende polisieteenwoordigheid in die hof nodig is.

Hy het aan die landdros gesê die twee gewapende polisiebeamptes aan weerskante van haar is intimiderend.

Oliver het hierop gesê die hofbestuurder het haar laat weet dat dit tydelike veiligheidsmaatreëls is.

Al drie sake is tot Vrydag uitgestel. Die staat het aan die hof gesê die sake word saamgevoeg en dat hy tyd nodig het om borgtoginligting na te gaan.

Die staat gaan borgtog teenstaan.

Modack verskyn ook Dinsdag in die landdroshof in Bishop Lavis saam met ’n lid van die taktiese-reaksie-eenheid.

Die 39-jarige polisieman word daarvan beskuldig dat hy inligting oor moontlike klopjagte en ondersoeke teen Modack deur ’n tussenganger, Amaal Jantjies (32), aan Modack verkoop het.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Charl Kinnear  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.