Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modack wil nie in Drakenstein aangehou word

Nafiz Modack, vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, wil nie in die Drakenstein-gevangenis buite die Paarl aangehou word nie.

Modack se regsverteenwoordiger, adv. Dirk Uys SC, het Maandag met Modack se verskyning in die Bishop Lavis-landdroshof gesê sy kliënt slaap op ’n koue sementvloer, wat sy niere aantas.

Nafiz Modack met sy verskyning verlede Vrydag in die landdroshof in Kaapstad. Soos verlede week het ’n groot groep Modack-ondersteuners Maandag betoog. Foto: Jaco Marais

Uys het aan die hof gesê hoewel Modack mediese sorg ontvang het, wil hy nie daar aangehou word nie.

Hoewel Uys weens veiligheidsredes nie die gevangenis se naam in die hof wou noem nie, het bronne reeds die naweek gesê Modack word in die Drakenstein-gevangenis aangehou.

Uys het aan die hof gesê Modack wil eerder na die Pollsmoor-gevangenis buite Tokai in Kaapstad of die Goodwood-gevangenis oorgeplaas word.

“My kliënt is bereid om sy kanse in Pollsmoor of Goodwood te waag,” het Uys gesê.

Met Modack se verskyning Vrydag in die landdroshof in Kaapstad is gesê dat in by Pollsmoor aangehou gaan word.

Uys het ook gesê dat sy kliënt glo nie halaal kos kry nie. Modack is ’n Moslem.

“Dit is seker die heiligste maand vir Moslems en daar is nie geriewe in die tronk om halaal kos vir my kliënt te berei nie,” het Uys aan die hof gesê.

Bronne by die tronk het Maandag egter gesê dat Uys se bewerings nie waar is nie.

Een bron het gesê elke gevangene van die Drakenstein-gevangenis het ’n bed. “Hy word ook in ’n enkelsel aangehou,” het die bron gesê.

Daar is gesê sy bewerings dat daar nie geriewe is om halaal kos te berei nie, is ook nie waar nie. “Hoeveel ander Moslem-gevangenes was daar nie al (in die tronk) gewees en is daar ook tans nie? Dis seker maar nie vir hom lekker om alleen te wees nie,” het die bron gesê.

Ashley Tabisher Foto: Facebook

Die hof het aan Uys gesê hy het nie die vermoë om te besluit waar gevangenes of verhoorafwagtendes aangehou word nie.

Modack het Maandag in die landdroshof in Bishop Lavis saam met sers. Ashley Tabisher, ’n lid van die polisie, op aanklagte van korrupsie verskyn.

Tabisher, ’n voormalige lid van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, word daarvan beskuldig dat hy ’n korrupte verhouding met Modack gehad het.

Tabisher is tans by die taktiese-reaksie-eenheid gestasioneer.

Hy is volgens die staat R10 000 en ’n selfoon van R3 500 aangebied in ruil vir inligting oor klopjagte en operasies teen Modack.

Tabisher ontken hierdie aanklagte. Tabisher se prokureur, Bruce Hendricks, wou aanvanklik Maandag die staat se aansoek om die saak uit te stel teenstaan.

Hendricks wou ook ’n verklaring wat hulle vir die doel saamgestel het, by die hof indien sodat hulle onmiddellik met ’n borgtogaansoek kan voortgaan.

Daar is egter ná ’n kort verdaging en nadat die staat en verdediging vergader het, besluit dat die saak tot Vrydag 14 Mei uitgestel kan word.

Hendricks het aan die hof gesê dit is belangrik dat sy kliënt se weergawe gehoor word.

Hy het gesê dat hy sy kliënt gekonsulteer het en dat hulle vir eers tot die uitstel gaan instem.

Hendricks het aan die hof genoem dat sy kliënt se bloeddruk hemelhoog is sedert hy in hegtenis geneem is en dat hy bekommerd is oor sy werk as ’n polisielid.

Dit is seker die heiligste maand vir Moslems en daar is nie geriewe by die tronk om halaal kos vir my kliënt te berei nie.

Sy kliënt meen as hy in die beskuldigdebank is, moet sy bevelvoerders ook daar staan.

Modack het ook verskyn op aanklagte wat verband hou met sy beweerde betrokkenheid by ’n misdadige bende, vyf aanklagte van sameswering om moord te pleeg, een aanklag van poging tot moord, die onwettige verkryging van plofstof en die onwettige besit van en handel in vuurwapens.

Ook dié saak is tot Vrydag 14 Mei uitgestel.

Die aanklagte teen Modack hou verband met die gefnuikte handgranaat-aanval by lt.kol. Charl Kinnear se huis op 23 November 2019 in Bishop Lavis.

Amaal Jantjies, haar minnaar, Janick Adonis, en Faeez Smith is reeds sedert November 2019 in aanhouding in verband met die voorval. Lede van die teenbende-eenheid het Smith in die oggendure van 23 November 2019 met ’n handgranaat in sy besit gevang.

Die hof het ook gehoor dat die staat al die sake tans teen Modack gaan saamvoeg.

Die ander sake teen Modack

Modack het verlede Vrydag in drie verskillende sake in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

In die eerste saak het Modack saam met Jacques Cronjé (50) en Ricardo Morgan (36) op aanklagte van afpersing, intimidasie, ontvoering, geldwassery en die onderskepping van kommunikasie verskyn.

Die aanklagte hou verband met die beweerde ontvoering en intimidasie van Sameer Vallie in Maart 2020.

Zane Kilian, wat teregstaan op aanklagte dat hy selfone nagespoor het toe moorde op die prokureur William Booth en Kinnear beplan is, is as ’n beskuldigde in die saak bygevoeg.

Booth (65) het die aanslag op sy lewe voor sy huis in Higgovale op 9 April 2020 oorleef. Kinnear (52), een van die bevelvoerders van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, is op 22 September voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet.

Lede van die geïntegreerde taakspan wat aangestel is om die moord op Kinnear te ondersoek, het Modack op 29 April naby Century City in Kaapstad in hegtenis geneem.

In die tweede saak het Modack saam met Morgan op aanklagte van sameswering om moord te pleeg en poging tot moord verskyn.

Die aanklagte hou verband met die mislukte huurmoordaanval op Booth.

In die derde saak het Modack verskyn op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur, poging tot moord en verset teen inhegtenisneming.

Dié sake, sowel as die saak Maandag teen Modack en Tabisher, is tot Vrydag 14 Mei vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.

Meer oor:  Nafiz Modack  |  Kaapstad  |  Gevangene  |  Verskuiwing  |  Kaapse Onderwêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.