Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Model eis R1 mjd. van finansminister

Die onderkleremodel Candice van der Merwe dagvaar die minister van finansies vir R1 miljard omdat hy glo haar reputasie geskend het.

Die onderkleremodel Candice van der Merwe. Sy dagvaar die minister van finansies vir geskende reputasie. Foto: Wire Photo

Dié 26-jarige model sê sy is vir jare geteister oor ’n skenking van $15,3 miljoen wat sy van haar “metgesel” gekry het.

In die nuutste hofstukke word dié metgesel geïdentifiseer as Saad Hariri.

’n Bron na aan die saak sê dit is die skatryk eerste minister van Libanon. Rapport kon dit egter nie onafhanklik bevestig nie. Tim Dunn, Van der Merwe se prokureur, wou by navraag nie bevestig of ontken dat Hariri die skenker is nie.

Van der Merwe het vroeër in hofstukke gesê sy kan net dink dat dit haar “innemende persoonlikheid, gesonde leefstyl en sober gewoontes” was wat haar so gewild gemaak het by The Plantation-oord op die Seychelle-eilande.

$15,3 m.: Dié ruim skenking van haar ‘metgesel’ bring vir die Suid-Afrikaanse model glo net teistering mee.

Volgens Van der Merwe het haar agentskap, Ice Models, gereeld modelle na dié oord gestuur waar die rykstes van die rykes in absolute privaatheid kan ontspan. Die modelle se paspoorte word met hul aankoms afgevat en hulle mag glad nie foto’s neem of verklap wat daar gebeur nie, sê Van der Merwe.

Die eerste twee keer het sy ekonomiese klas gevlieg, maar daarna besigheidsklas of eersteklas. Sy het ’n Audi R8 en Range Rover Evoque gekry nadat sy op die eiland laat glip het dit is haar gunstelinge. Sy het Hariri by dié oord ontmoet.

In korrespondensie tussen die Reserwebank en Standard Bank wat by haar nuwe hofsaak aangeheg is, word die verhouding tussen die skenker en Van der Merwe as ’n “kêrel-meisie-situasie” beskryf.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het sedert 2013 vermoed die geskenke was eintlik die geld van haar pa, die sakeman Gary van der Merwe, en het pa en dogter aan ’n grootskaalse belastingondersoek onderwerp. Uit dokumente oor die nuutste regsgeding blyk dit die SAID en Van der Merwe het die strydbyl begrawe toe sy in 2016 R44 miljoen inkomstebelasting betaal het.

Skenkings deur buitelanders is nie belasbaar nie, maar in die skikking tussen die SAID en Van der Merwe is die geld nou as “ander inkomste” geklassifiseer.

In haar eis teen die minister sê sy die SAID het deurentyd geweet dit was ’n skenking, maar het doelbewus dié inligting in vorige hofsake weerhou.

Die foltering deur Jan Taks het haar onmeetbare skade berokken, sê sy.

“Haar verhouding met mnr. Hariri is beëindig, wat tot ’n verlies van geldelike voordele gelei het wat sou voortspruit indien hul verhouding voortgesit kon word sonder inmenging,” lui haar prokureur se aanmaning aan die tesourie.

Die hofsake en meegaande publisiteit het die verhouding met haar pa so gestrem dat hulle in ’n stadium vervreemd was en “sekere vriende en sakekennisse het lugtig geword om met haar geasso­sieer te word”, lui die brief.

Weens die gemene spel van die SAID, sê Van der Merwe, kan sy nie haar gekose beroep as model beoefen nie. Luidens haar belastingopgawe vir 2014 wat sy by die aanmaning aangeheg het, het sy in dié jaar R3 333 van ’n advertensie-agentskap verdien en haar verklaarde inkomste uit ander modelwerk was R11 530. Vroeër jare het sy jaarliks R20 000 verdien uit modelwerk. Die skenking in 2013 was $15 299 965.

Van der Merwe sê in vorige hofstukke sy het R98,6 miljoen hiervan gebruik om drie eiendomme in Kaapstad te koop. ’n Verdere R25 miljoen is geleen aan Luera Movables, ’n maatskappy waarby haar pa betrokke is. Haar pa was ook die agent wat die ontvangs van die skenking by Standard Bank gefasiliteer het.

Sy sê sy het haar pa as agent gebruik vir haar geldsake omdat sy nie self sake-ervaring gehad het nie en hy ’n gesoute sakeman is. Dié faktore het die SAID laat vermoed dat Gary, wat in ’n dispuut met die SAID was en gesê het hy het geen geld nie, dalk meer betrokke was by die transaksie as wat hulle voorgegee het.

Van der Merwe sê dit was verkleinerend en “uiters ongerieflik” om ’n kurator te vra vir haar eie geld toe haar bates destyds bevries is. Sy het onder meer geld nodig gehad vir “vier huishoudelike knegte, vier tuiniers en opsigters en drie veiligheidswagte” by haar huis.

Jabulani Sikhakhane, woordvoerder van die tesourie, het bevestig die kennisgewing van die nuwe hofsaak is ontvang.

Meer oor:  Saad Hariri  |  Candice Van Der Merwe  |  Ice Models  |  Said
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.