Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modelbaas ‘te platsak’ vir regskoste
Dawie de Villiers net nadat hy in Februarie skuldig bevind is. Foto: Cornél van Heerden

Die berugte modelbaas van Johannesburg wat skuldig bevind is dat hy met sy minderjarige kliënte gelol het, het Woensdag gesê hy is te platsak om die res van sy regskoste te betaal.

Dawie de Villiers (37) is verlede maand skuldig bevind aan 26 klagte wat insluit verkragting, die blootstelling van ’n kind aan pornografie, seksuele aanranding en seksuele aanvoringswerk tot die besit van kinderpornografie en bedrog.

De Villiers, van Kempton Park, het Woensdag ’n netjiese grys baadjie en ’n donkerblou broek gedra tydens sy verskyning in die hooggeregshof in Johannesburg.

Die modelbaas het nie soos voorheen grappies met die mense in die galery gemaak nie.

Hy het gevra dat sy borgtog met “twee tot drie maande” verleng word, omdat hy nie genoeg geld het om te betaal vir ’n verslag wat moontlik ’n impak op sy vonnisoplegging kan hê nie.

Regter Cassim Moosa het sy borgtog in Februarie reeds om dié rede met ’n maand verleng.

“Die mediablootstelling tydens die saak het ’n slegte impak op my besigheid gehad,” het De Villiers gesê.

Adv. Arveena Persad, die staatsaanklaer, het gesê die staat het De Villiers ’n maand gelede reeds aangeraai om die regshulpraad te nader.

Die spiere van sy kakebeen het saamgespan toe regter Carla van Veenendaal sê sy borgtog gaan nie vir so lank soos drie maande verleng word nie.

Van Veenendaal het vir Moosa, wat ’n ander saak in die hooggeregshof in Palm Ridge aangehoor het, ingestaan.

“Ek verstaan jou finansiële situasie lyk beroerd, maar dit beteken nie jy kan die hofprosesse begin manipuleer nie,” het Van Veenendaal gesê.

“Ek stel voor jy sorteer jou situasie baie vinnig uit en oorweeg dit om die verslag op die staat se onkoste te laat opstel.

“Ek adviseer jou ook om die regshulpraad ernstig te oorweeg. Jy kan nie sonder regsverteenwoordiging aangaan en jouself verteenwoordig nie. Dit is nie in jou beste belang nie.”

De Villiers het oorspronklik op 38 aanklagte tereggestaan, maar dit is verminder tot 30 omdat sommige van sy slagoffers nie teen hom wou getuig nie.

“Hy is tydens die bevinding op vier klagte vrygeskeld,” het Persad aan Netwerk24 gesê.

Sy sê De Villiers het sy kliënte uit minstens R300 000 geswendel.

Sy slagoffers was meestal minderjarige meisies wie se modelloopbane hy bestuur het.

Die saak is tot volgende week uitgestel.

Persad het bevestig dat De Villiers skuldig is op 26 klagte. Die klagte is soos volg:

* Een klag van verkragting van ’n minderjarige.

* Een klag omdat hy ’n kind gedwing het om haarself onsedelik aan te rand.

* Twee klagte van die blootstelling van ’n kind aan pornografie.

* Vyf klagte van seksuele aanranding.

* Een klag van seksuele gereedmaking.

* Agt klagte van bedrog.

* Agt klagte van die besit van kinderpornografie.

Meer oor:  Dawie De Villiers  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.