Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modelbaas wil teen skuldigbevinding appelleer
Dawie de Villiers buite die hooggeregshof in Johannesburg.Foto: Jeanelle Greyling

Die modelbaas wat vroeër vanjaar skuldig bevind is aan onder meer verkragting, se nuwe regsverteenwoordiger het Woensdag aangedui sy kliënt gaan teen die bevinding appelleer.

Dawie de Villiers (37) is in Februarie in die hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind op 26 aanklagte wat insluit verkragting, die blootstelling van ’n kind aan pornografie, seksuele aanranding en seksuele aanvoorwerk, die besit van kinderpornografie en bedrog.

Adv. Riaan Greyling van die Regshulpraad wat vir De Villiers verskyn, het Woensdag gesê hy het transkripsies van die verrigtinge nodig sodat hy sy kliënt “behoorlik” kan verteenwoordig.

“My kliënt het ook aangedui dat hy aansoek wil doen om te appelleer en ons gaan die transkripsies ook daarvoor nodig hê,” het Greyling gesê.

Adv. Arveena Persad, die staatsaanklaer, was ontevrede oor die feit dat De Villiers ’n nuwe regsverteenwoordiger aangestel het, omdat dit die verrigtinge vertraag.

Persad het gesê De Villiers se vorige regsverteenwoordiger het met die laaste hofverskyning gesê sy sal Woensdag gereed wees om te argumenteer.

Die versoek om die transkripsies te kry, is volgens Persad ’n “uitsteltegniek” omdat De Villiers sy inhegtenisneming probeer uitstel.

De Villiers se borgtog is sedert sy skuldigbevinding verleng omdat hy aangevoer het dat hy nie genoeg geld het om te betaal vir ’n verslag wat moontlik ’n impak op sy vonnisoplegging kan hê nie.

“Die mediablootstelling tydens die saak het ’n slegte uitwerking op my onderneming gehad,” het De Villiers in Maart gesê.

Persad het gesê die klankopnames van die verrigtinge, wat De Villiers se regspan ontvang het, behoort Greyling op die hoogte van sake te bring.

Sy het gevra dat De Villiers se borgtog teruggetrek word omdat hy reeds op “diverse klagte” skuldig bevind is.

Greyling het gesê die Regshulpraad se bestuur het besluit hy moet De Villiers voortaan verteenwoordig.

“Dit is nie regverdig om my kliënt te blameer nie.”

Greyling het ook gesê die verslag wat ’n maatskaplike werker opgestel het wat moontlik ’n impak op De Villiers se vonnisoplegging kan hê, is “foutief omdat sy nie genoeg inligting tot haar beskikking gehad het nie”.

Hy het die transkripsies vroeg in April reeds aangevra.

De Villiers, geklee in ’n grys baadjie en ’n blou das, het die verrigtinge stip dopgehou.

Persad het ingestem om die verdediging se transkripsies met haar notas aan te vul.

Persad het in Maart gesê De Villiers se slagoffers was meestal minderjarige meisies wie se modelloopbane hy bestuur het.

De Villiers is skuldig bevind op die volgende aanklagte:

* Een aanklag van verkragting van ’n minderjarige;

* Een aanklag omdat hy ’n kind gedwing het om haarself onsedelik aan te raak;

* Twee aanklagte van die blootstelling van ’n kind aan pornografie;

* Vyf aanklagte van seksuele aanranding;

* Een aanklag van seksuele gereedmaking;

* Agt aanklagte van bedrog;

* Agt aanklagte van die besit van kinderpornografie.

Die saak hervat Donderdag.

Meer oor:  Dawie De Villiers  |  Pornografie  |  Verkragting  |  Appelleer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.