Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Modise-man handig eindelik verklaring oor plaasdiere in

Kapt. Tebogo Mokolobate, Thandi Modise se voormalige veiligheidshoof, het eers met sy vierde hofverskyning in Potchefstroom gehoor gegee om ’n volledige, getekende verklaring oor gebeure in 2014 op haar plaas in te dien.

Mokolobate het dié verklaring Woensdag in die landdroshof in Potchefstroom aan AfriForum oorhandig. Dit kom nadat die hof reeds vroeg in April gelas het Mokolobate en Bejani Chauke, Modise se voormalige raadgewer, moet teen 29 April verklarings indien of self getuig oor die gebeure op die plaas.

Adv. Gerrie Nel, aanklaer in die Modise-saak en hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, praat vroeg in April met kapt. Tebogo Mokolobate in die landdroshof in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

AfriForum vervolg Modise privaat namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) weens bewerings van diereverwaarlosing op haar plaas naby Potchefstroom.

Chauke en Mokolobate het in 2014 nog vir Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, gewerk. AfriForum beweer hulle het sedert verlede jaar nie gehoor gegee aan verskeie versoeke om verklarings in te dien nie en dat die organisasie daarom ’n dagvaarding ingevolge art. 205 van die Strafproseswet moes aanvra om hulle te dwing om dit te doen. Albei ontken dat hulle nie hul samewerking gegee het nie.

Chauke het teen 29 April sy volledige, getekende verklaring ingedien, maar Mokolobate het nie. Hy het tot

6 Mei uitgestel gekry. Toe hy die verklaring op 6 Mei indien, het ’n bladsy ontbreek. Dit het blykbaar belangrike inligting bevat.

Mokolobate moes gevolglik wéér Woensdag in die hof verskyn om aan die hofbevel gehoor te gee. Dié keer het hy eindelik die volledige, getekende verklaring verskaf.

Mokolobate is nou dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, se veiligheidshoof. Modise was die provinsie se premier tot kort voor die herrie op haar plaas. Chauke is deesdae ’n raadgewer van pres. Cyril Ramaphosa.

AfriForum het in 2018 besluit om Modise privaat te vervolg nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in 2017 besluit het om dit nie te doen nie, glo weens ’n gebrek aan bewyse. Tientalle dooie en uitgeteerde diere is in Julie 2014 op Modise se plaas, Modderfontein, naby Potchefstroom gevind. Die NDBV moes destyds 162 diere van kant maak en meer as 100 verwyder. Modise het toe gesê sy was nie bewus van die probleme op haar plaas terwyl iemand dit namens haar bestuur het nie.

AfriForum se ondersoek is byna afgehandel.

Meer oor:  Afriforum  |  Thandi Modise  |  Potchefstroom  |  Dieremishandeling  |  Verklaring  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.