Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mogoeng tree reg op oor Zuma, meen kenners
Hoofregter Mogoeng MogoengFoto: Argief

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het reg opgetree deur uit sy pad te gaan om oudpres. Jacob Zuma kans te gun om insette te lewer voordat uitspraak gelewer word in die saak wat hom agter tralies kan laat beland.

Dít is die reaksie van regskenners oor die jongste verwikkelings in die saak waarin die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping vra dat die konstitusionele hof Zuma vir twee jaar tronk toe moet stuur.

Mogoeng het Vrydag direktiewe uitgereik waarvolgens Zuma moet sê wat sy reaksie sou wees indien hy aan minagting van die hof skuldig bevind sou word weens sy weiering om voor die kommissie te getuig.

Hy is ook deur Mogoeng gevra om getuienis te lewer oor wat hy meen die “aard en omvang” van ’n moontlike vonnis kan wees, sou hy skuldig bevind word.

Zuma is tot Woensdag gegee om ’n verklaring van nie meer as 15 bladsye nie daaroor in te dien.

Francis Antonie van die Helen Suzman-stigting, wat as ’n vriend van die hof by die saak betrokke is, sê Mogoeng se werklike bedoeling is nie dat Zuma vir die hof moet voorskryf oor sy vonnis nie.

“In enige strafsaak word daar kans gegee aan die beskuldigde om argumente te voer oor of hy skuldig bevind moet word en om ter strafversagting te getuig.”

Dit blyk nou dat Zuma kans gegee word om albei kwessies in een verklaring te bespreek.

Oudpres. Jacob ZumaFoto: Argief

Zuma het vroeër geweier om argumente aan die konstitusionele hof te lewer.

Prof. Koos Malan, ’n grondwetkenner, sê hoewel Mogoeng duidelik uit sy pad gaan, is sy optrede weens die unieke aard van die saak nie vreemd of onregmatig nie.

“Mogoeng tree reg op, gegewe dat die kwessie met ’n voormalige staatshoof te doen het,” sê Malan.

Voorts is die gewone proses dat ’n strafsaak eers deur die laer howe aangehoor word, maar dié betrokke saak het regstreeks in die konstitusionele hof beland.

Eric Mabuza, Zuma se prokureur, het nie Sondag op navrae gereageer nie.

Zuma wil nie voor adjunkhoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie van ondersoek na staatskaping lei, getuig nie omdat Zondo volgens hom partydig is.

Volgens Antonie tree Zuma irrasioneel op, want die hofsaak kan volgens hom steeds vermy word deurdat hy voor die Zondo-kommissie getuienis lewer.

“Die land het boonop ’n reg om te weet hoe staatskaping ontvou en dit ons land bankrot gemaak het,” sê Antonie.

Indien Zuma Woensdag ’n verklaring indien, moet die Helen Suzman-stigting Donderdag sy eie indien.

“Hoe alles ook al verloop, Zuma moet weet as hy wegloop van die kommissie, sal daar gevolge wees,” sê hy.

Meer oor:  Mogoeng Mogoeng  |  Jacob Zuma  |  Uitspraak  |  Korrupsie  |  Mogoeng En Zuma  |  Staatskaping  |  Optrede Korrek  |  Insette  |  Kenners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.