Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mohamed Dangor se vermeende moordenaar kry nie borgtog

Die man wat Mohamed Dangor (31) glo verlede maand koelbloedig in sy pa se motoronderneming doodgeskiet en twee ander mense ernstig gewond het, is borgtog in die landdroshof in Klerksdorp geweier.

Tshiamo Confident Sekgoro (37) is ná die skietery op Maandag 11 November by Speedy Car Sales in Klerksdorp na die polisiekantoor om homself oor te gee. Hy is ’n sakeman van Mahikeng.

Tshiamo Confident Sekgoro het hom aan die polisie oorgegee nadat Mohamed Dangor doodgeskiet en nog twee mense ernstig gewond is.

Die hof het tydens die borgaansoek Maandag gehoor die skieter het die dag van die voorval omstreeks 14:00 met ’n handwapen en twee vol magasyne in die vertoonlokaal van die onderneming ingekom en altesame 20 skote afgevuur. Daar is blykbaar beeldmateriaal hiervan.

Dangor is drie keer getref en het op die toneel gesterf, terwyl Mebs Soomra en Joe Ally ook elk ’n paar keer raakgeskiet is. Albei is ernstig gewond en moes operasies ondergaan, maar is nou op die herstelpad.

Soomra is verkoopsbestuurder by Speedy Car Sales en Ally ’n vriend van die Dangors, wat toevallig in die onderneming was toe die skieter losgebrand het. Hy en Mohamed het net klaar gebid toe dit gebeur.

Zaheer Dangor, ’n neef van Mohamed, het Dinsdag gesê die familie is baie tevrede dat Sekgoro nie op borgtog vrygelaat is nie. Hy word aangekla van moord en twee aanklagte van poging tot moord. Sekgoro moes buitengewone omstandighede bewys om op borgtog vrygelaat te word omdat hy van ’n bylae 6-misdryf aangekla word.

Zaheer het Dinsdag gesê die landdros het onder meer bevind Sekgoro is ’n gevaar in die gemeenskap en dat sy vrylating tot oproer in die gemeenskap gaan lei.

Mohamed Dangor en sy pa, Farouk.

Die moord op Mohamed het sy familie gebreek, die plaaslike gemeenskap geruk en landwyd opslae gemaak. Die Dangors is ’n gesiene sakefamilie, welbekend in motorsportkringe en veral geliefd om die uitgebreide liefdadigheidsprojekte waarby hulle al vir jare betrokke is.

Mohamed en sy vrou, Kamilla, het drie jong dogters, waarvan die jongste nog ’n baba is.

“Ons as familie wil die saak in die kollig plaas om te vra dat die doodstraf heringestel word,” het Zaheer gesê.

Righardt Bezuidenhout, Speedy Car Sales en die Dangors se regsverteenwoordiger, het vroeër gesê Sekgoro het onlangs ’n Mercedes-Benz A45 4 Matic daar gekoop.

“Hy het kort daarna ’n klag by die motorbedryf-ombudsman ingedien omdat daar glo sekere defekte aan die voertuig was. Speedy Car Sales het R4 700 bestee om die voertuig te vervoer en weer te laat ondersoek.”

Sekgoro is versoek om dié uitgawes te dek. Hy het glo geweier en ’n dringende hooggeregshofaansoek teen Speedy Car Sales gebring, maar dis van die rol geskrap weens ’n gebrek aan dringendheid.

“Speedy Car Sales het daarna voorgestel die verdagte betaal die hofkoste en R4 700 en kry dan die voertuig, maar hy het nie,” het Bezuidenhout gesê.

Die skietery het kort hierna plaasgevind. Sekgoro se regsverteenwoordiger wou nie kommentaar oor dié kwessies lewer nie.

Sekgoro verskyn weer op 10 Februarie volgende jaar in die hof.

Meer oor:  Speedy Car Sales  |  Tshiamo Confident Sekgoro  |  Klerksdorp  |  Borgtog  |  Moord  |  Hof  |  Mohamed Dangor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.