Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Momberg se prokureur wil haar dagvaar ná uitbarsting
Vicki Momberg
Vicki Momberg Dinsdag in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

Die veroordeelde rassis Vicki Momberg se prokureur het bevestig hy wil haar dagvaar ná haar groot kabaal Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg waar Momberg midde-in hofverrigtinge ’n uitbarsting gehad het, hom sleggesê het en ook sy mandaat beëindig het.

Momberg doen aansoek om verlof tot appèl teen haar vonnis van twee jaar.

Sy is die eerste persoon wat vir rassisme tronk toe gestuur is.

Wesley Rogers, al die pad van Durban, was Momberg se sesde regsverteenwoordiger en het pro bono vir haar opgetree. By navraag of hy haar wel gaan dagvaar, het Rogers gesê “dis die aanduiding, ja”.

Die dagvaarding hou vermoedelik verband met reputasieskade, maar Rogers wou nie verder met die media praat nie.

Die kabaal

Momberg het Dinsdagoggend in die hof opgestaan en adv. Anesh Sukdeo, wat namens haar verskyn, gaan lastig val terwyl hy met regter Thifhelimbilu Mudau in gesprek was. Die verrigtinge was reeds onderweg.

Toe hy haar onderlangs sê en wys om te gaan sit, het sy teruggeloop na haar sitplek, kiertsregop gaan staan, hom in die rede geval en gesê sy wil haarself verteenwoordig.

Dit volg nadat Sukdeo navraag gedoen het oor die media se videokameras en die regter gesê het hulle het toestemming om die verrigtinge en vir Momberg af te neem. Daar was geen tersydestellingsaansoek van Momberg se kant af nie.

Momberg het in haar uitbarsting gesê joernaliste bedreig haar en haar familie se lewe.

“Ek het al die bewyse hier op my selfoon.”

Momberg het direk aan die regter gesê sy wil alle joernaliste en fotograwe uit die hof verbied hê.

Momberg se eie regsverteenwoordiger het aan die regter gesê die redes waarmee sy hom in die rede geval het is nie genoeg om ’n hangende mediabevel tersyde te stel nie. Die saak is toe vir ’n paar minute verdaag sodat Momberg instruksies aan haar regshulp kon gee.

Sukdeo het ná ’n kort verposing aansoek gedoen om aan die saak te onttrek.

“Ek het verduidelik dat sy ook nou my mandaat saam met dié van haar prokureur beëindig en dat sy aan die hof sal moet kom verduidelik wat haar plan is en of sy wil voortgaan met die saak,” het Sukdeo gesê.

‘Valse media mishandel’

Momberg het die geleentheid gekry om die hof aan te spreek en toe gesê hoe die “vals media” haar al “mishandel” het en “haar geloofwaardigheid en gesondheid skade aangedoen (het)”.

Sy het aangevoer die media het ’n “spektakel” van haar afgehandelde verhoor gemaak en gaan voort om dit te doen met haar jongste aansoek.

“Ek is in die hof in Randburg baie mishandel. Ek het gevra dat die media verwyder moet word, want die media het eensydig verslag gedoen. Ek het vanoggend aan my regsverteenwoordigers gesê dat eNCA my al skuldig bevind het nog voordat my verhoor begin het. Die staat mors my tyd en my geld . . .”

Ek is in die hof in Randburg baie mishandel. Ek het gevra dat die media verwyder moet word, want die media het eensydig verslag gedoen.

Mudau wou duidelikheid hieroor kry.

“Wag, laat ek reg verstaan: Jy het toestemming gekry om aansoek om verlof tot appèl te bring – wat het die media daarmee te doen?”

Momberg het voortgegaan om te verduidelik hoe die media haar vals voorstel.

“Ek weet nie waarheen hierdie ding gaan nie. Dalk gaan ek my tot die appèlhof en hoër hof wend, wat ek ook sal doen.”

Mudau het gesê die mense van Suid-Afrika het ’n reg om te weet wat aangaan.

“Die media het ’n belangrike rol om te speel. Hulle moet die publiek inlig van so ’n belangrike saak.”

Sukdeo het saamgestem.

Momberg het gesê sy is gereed om haar eie saak te betoog as die media nie by is nie. Sy het haarself toe onmiddellik daarna gekorrigeer en gesê die media kan teenwoordig wees, maar daar mag geen kameras op haar gerig wees nie.

Mudau het haar daarop gewys as haar regspan nie onttrek het nie, kon hulle die saak nou op meriete hanteer het. Hy het ook gesê dis nie nodig vir haar om in die hof te wees nie. Die betoë vir haar aansoek is immers op skrif. Hy het gesê die kabaal oor die media in die hof is onaanvaarbaar.

Regspan en staat is ’n probleem

Momberg het aangevoer Rogers het haar verkeerd geadviseer en “sy vinger in haar gesig geswaai”.

Rogers het toestemming gevra om die hof toe te spreek en gesê hy ag die vertrouensverhouding tussen kliënt en prokureur as heilig, “maar ná wat vanoggend gebeur het, het dié verhouding in duie gestort”.

Ek weet nie waarheen hierdie ding gaan nie. Dalk gaan ek my tot die appèlhof en hoër hof wend, wat ek ook sal doen.

Momberg het aan die regters gesê sy het nie geld vir regshulp nie. In dieselfde asem het sy gesê dat sy nie weer die Regshulpraad sal nader nie. Sy het wel gesê sy sal Sukdeo as advokaat graag wil behou. Sy wil net ’n ander prokureur kry om op pro bono-basis vir Sukdeo opdrag te gee om te betoog, het sy gesê.

Netwerk24 het verneem dat Sukdeo nie verder vir haar gaan optree nie, selfs al kry sy ’n nuwe opdraggewende prokureur.

Momberg is uit op borgtog van R2 000 hangende haar aansoek om verlof tot appèl teen haar vonnis van twee jaar tronkstraf.

Momberg het telkens buite die hof op joernaliste en fotograwe afgestorm en hulle aangesê om die waarheid te berig.

Momberg sal ná middagete haar eie aansoek bepleit.

 

15:28

* Uitspraak is voorbehou nadat Momberg namens haarself betoog het. Volg Netwerk24 vir Momberg se betoog.

Meer oor:  Rassisme  |  Vicki Momberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.