Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Momberg: ‘Staat mors my tyd en geld’
Vicki MombergFoto: Felix Dlangamandla

Die veroordeelde rassis Vicki Momberg meen sy het nie ’n regverdige verhoor gehad het nie weens “mishandeling” deur die “vals media”, “afbrekende behandeling deur die staat” en die weiering van noodsaaklike getuienis vir haar saak.

Dit was deel van haar argumente toe sy Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg haar eie aansoek om verlof tot appèl teen haar tronkstraf van twee jaar voor twee regters geargumenteer het. Dit was nadat sy haar sesde prokureur in die pad gesteek het.

“Alle staatsgetuies het op een of ander manier hul getuienis gemanipuleer of gelieg. Daar was ’n vorm van bedrieglike samespanning . . .”

Volgens Momberg is die streeklanddros van die streekhof in Randburg deel van die sameswering teen haar.

Momberg is tronkstraf opgelê nadat sy in November 2017 aan vier klagte van crimen injuria skuldig bevind is. Sy het op 3 Februarie 2016 die noodnommer 10111 geskakel nadat sy glo die slagoffer van ’n grypdief was en het volgens die vier aanklagte die operateurs en ’n polisielid wat haar wou help herhaaldelik gevloek en die k-woord toegesnou het. Sy is die eerste mens in regsgeskiedenis wat tronkstraf vir rassisme opgelê is.

Vicki Momberg het telkens die hasepad gekies wanneer sy fotograwe met hul langlenskameras gewaar het. Foto: Felix Dlangamandla
Alles wat gebeur het, was ’n regstreekse gevolg van die trauma waaronder ek was.
Vicki Momberg

Sy het Dinsdag weer gestaan by haar verweer van nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid.

“Alles wat gebeur het, was ’n regstreekse gevolg van die trauma waaronder ek was (ná die grypdiefvoorval). Die trauma het my laat beheer verloor.”

Momberg is op borgtog van R2 000 hangende haar aansoek om verlof tot appèl.

Drama in die hof

Toe die hofverrigtinge begin, het Momberg opgestaan en adv. Anesh Sukdeo, wat namens haar verskyn, lastig geval terwyl hy met regter Thifhelimbilu Mudau gepraat het.

Vicki MombergFoto: Felix Dlangamandla

Toe hy haar onderlangs aansê om te gaan sit, het sy hom in die rede geval en gesê sy wil haarself verteenwoordig.

Dit was nadat Sukdeo navraag gedoen het oor die media se videokameras en die regter gesê het hulle het toestemming om die verrigtinge en vir Momberg af te neem. Daar was geen opponerende aansoek van Momberg se kant af nie.

Momberg het in haar uitbarsting gesê joernaliste bedreig haar en haar familie se lewe.

Sy het direk aan die regter gesê sy wil alle joernaliste en fotograwe uit die hof verbied hê.

Haar regsverteenwoordiger het aan die regter gesê die redes waarmee sy hom in die rede geval het, is nie genoeg om ’n hangende mediabevel tersyde te stel nie.

Die hof is toe vir ’n paar minute verdaag sodat Momberg instruksies aan haar regspan kon gee.

Sukdeo het ná ’n kort verposing aansoek gedoen om hom en sy opdraggewende prokureur, Wesley Rogers, aan die saak te onttrek.

Vicki Momberg Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Prokureur wil dagvaar

Rogers, ’n regspraktisyn van Durban, het Momberg pro bono verteenwoordig.

By navraag of hy haar gaan dagvaar, het Rogers gesê: “Dis die aanduiding, ja.”

Dit hou vermoedelik verband met reputasieskade, maar Rogers wou nie verder met die media praat nie.

Tydens middagete het Rogers vir Momberg gesê: “Moenie meer met my praat nie. Gaan weg.”

Hy het haar ook ’n paar maal gemaan om op te hou om oor hom te praat terwyl hy en joernaliste in die hof haar kan hoor.

Momberg het onder meer aangevoer Rogers het haar verkeerd geadviseer en “sy vinger in haar gesig geswaai”.

Rogers het toestemming gevra om die hof toe te spreek en gesê “ná wat vanoggend gebeur het”, het sy vertrouensverhouding met Momberg “in duie gestort”.

Momberg het gesê sy het nie geld vir regshulp nie, maar dat sy nie weer Regshulp SA sal nader nie.

Sy sou Sukdeo as advokaat wou behou, “want sy vertrou hom en hy ken haar saak”; sy wil net ’n ander prokureur kry om op pro bono-basis vir Sukdeo opdrag te gee om namens haar op te tree, het sy gesê.

Netwerk24 het egter verneem Sukdeo sal nie weer vir haar optree nie.

Momberg het ná middagete weer haar prokureur die skuld gegee dat sy nie betyds die staat se betooghoofde gekry het nie, en die staat beskuldig dat hy haar “tyd en geld mors” en laat was met hofdokumente.

Vicki Momberg saam met haar laaste regspan, adv. Anesh Sukdeo en Wesley Rogers, haar (nou afgedankte) prokureur, in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

‘Weg met die media’

Momberg het aan die hof gesê hoe die “vals media” haar al “mishandel” het en “haar geloofwaardigheid en gesondheid skade aangedoen (het)”, ’n “spektakel” van haar afgehandelde verhoor gemaak het en voortgaan om dit te doen met haar jongste aansoek.

“Ek is in die hof in Randburg baie mishandel. Ek het gevra dat die media verwyder moet word, want die media het eensydig verslag gedoen. Ek het vanoggend aan my regsverteenwoordigers gesê dat eNCA my al skuldig bevind het nog voordat my verhoor begin het. Die staat mors my tyd en my geld . . .” het sy aangevoer.

Mudau wou duidelikheid hieroor kry.

“Wag, laat ek reg verstaan: Jy het toestemming gekry om ’n aansoek om verlof tot appèl te bring – wat het die media daarmee te doen?”

Momberg het voortgegaan om te verduidelik hoe die media haar vals voorstel.

“Ek weet nie waarheen hierdie ding gaan nie. Dalk gaan ek my tot die appèlhof en hoër hof wend, wat ek ook sal doen.”

Mudau het gesê die mense van Suid-Afrika het ’n reg om te weet wat aangaan.

“Die media het ’n belangrike rol om te speel. Hulle moet die publiek inlig oor so ’n belangrike saak.”

Sukdeo het saamgestem.

Meer oor:  Vicki Momberg  |  Hofsaak  |  Rassisme  |  Veroordeelde Rassis  |  Rassis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.