Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Monster’ huil soos ’n baba

‘Ek is die Springs-monster.”

Dis hoe die man wat die afgelope week tot 67 jaar gevangenisstraf gevonnis is omdat hy sy vyf kinders gemartel en sy oudste dogter verkrag het, hom in die tronk aan mede-aangehoudenes voorgestel het.

Die Springs-monster en sy eksvrou.

Die media het hom dié naam gegee omdat hy nie geïdentifiseer mag word nie om die identiteit van sy kinders te beskerm.

Jan*, een van mense wat met die Springs-monster, Sakkie*, ’n sel vir 20 gedeel het in die Modderbee-gevangenis, sê hy dink hy het die bynaam gebruik om vrees te wek by ander gevangenes. Maar dit kan ook wees dat dit vir hom ’n manier was om homself oor sy wandade te kasty. Hy het homself partykeer ook net “die monster” genoem.

Jan sê in dié tyd het hulle vriende geword en Sakkie het hom na God gelei. Sakkie self is in die tronk gedoop. “Nooit het Sakkie sy sel sonder sy Bybel verlaat nie en nooit sou hy van die jaart af terugkeer sonder om vir iemand te bid nie,” vertel hy.

“Sakkie het vir my gesê voor hy tronk toe is, het hy geweet van die Here, maar nie geworrie oor Hom nie. In die tronk het hy die Here ontmoet.”

"Maar dit pla hom dat mense gaan dink hy was ’n slegte pa.”

Volgens Jan het Sakkie ’n nuwe vriendin gekry terwyl hy in die tronk was. Die donkerkopvrou het vir hom kom kuier in Modderbee. “Ek weet al drie jaar van haar. Hy het gesê sy is ’n dierbare vrou, dat hy mal is oor haar en dat sy hom help. Sy glo vas in sy onskuld.”

Hy het vir Sakkie gevra hoe hy sy kinders in ’n huis kon toesluit, maar hy het net gelag en alles ontken. “Toe ek sê hulle was dan nie in die skool nie, het hy gesê hul ma het gesê sy gee vir hulle tuisonderrig, ‘want die wêreld daar buite is lelik’. Sy vrou het hom beheer, want sy is die ma van sy kinders en ’n ma is alles.” Sakkie het wel erken hy was ’n streng pa en dat hy dinge verkeerd gedoen het.

“Hy het erken die manier wat hy sy kinders gestraf het, was te hard. Hy het eenkeer sy seun aan ’n tafel geboei omdat hy stout was, en hy het erken hy het sy seun geslaan.”

Hy het ten sterkste ontken dat hy sy dogter verkrag of gemolesteer het. “As enigiemand dit gesê het, het daai man berserk geraak. Sy dogter was sy lewe.”

Sowat vier maande nadat hy Sakkie ontmoet het, het Jan een aand toilet toe gegaan. “Sakkie het op die muurtjie gesit en huil soos ’n baba. Hy het gesê hy weet nie meer nie. Hy weet hy gaan lank tronk toe, maar hy weet hy het nie alles gedoen waarvan hy beskuldig word nie. Hy het gesê hy gaan skuld beken op dit waaraan hy skuldig is en daarvoor gaan hy lank in die tronk sit. Maar dit pla hom dat mense gaan dink hy was ’n slegte pa.” Hy was ook bekommerd oor wat sy kinders van hom gaan dink.

Jan was in 2016 in aanhouding nadat hy ’n beskermingsbevel oortree het.

Sakkie en sy vrou is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy sy seun aangerand het. Hy is skuldig bevind aan poging tot moord, verkragting, kindermishandeling en -verwaarlosing en dwelmklagte. Sy vrou is skuldig bevind aan dwelm- en verwaarlosingsklagte. Sy het ’n opgeskorte vonnis gekry.

* Skuilname

Meer oor:  Springs-Monster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.