Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Monté dam glo Stella-ondersoekbeampte by
Monté Bylsma Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, by sy seun, Xander. Xander se ma, Mercia, staan by hulle. Foto: Felix Dlangamandla

Die emosie oor sy seun se skuldigbevinding aan twee moorde het Monté Bylsma Maandag blykbaar so oorweldig dat hy glo onder andere die ondersoekbeampte bygedam het.

Xander Bylsma (20) is Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade op Sharnelle Hough (17), sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Die hof het bevind dit wás Xander wat die meisies in Mei 2018 in hul koshuis by die Hoërskool Stella vermoor het deur hulle te verwurg.

Bylsma het vroeër gesê hy glo in sy seun se onskuld. Die hof het vir ’n kort rukkie verdaag nadat regter Ronald Hendricks Maandag uitspraak gelewer het. Kapt. Markus Ferreira, die ondersoekbeampte in die moordsaak, vertel hy het net buite die hofsaal gestaan toe Bylsma uitkom.

Hy het na my gestap, ek dag eers hy wil net gesels. Toe stamp hy my (met die plathand) in die gesig. Ek was uit die veld geslaan.

“Hy het na my gestap, ek dag eers hy wil net gesels. Toe stamp hy my (met die plathand) in die gesig. Ek was uit die veld geslaan.”

Ferreira sê die stamp was so hard dat hy boude-eerste op ’n stoel geval het.

Kol. Corrie Coghlan, voor wie Xander ure ná die moorde ’n bekentenis afgelê het, vertel hy het net daarna ook uit die hof gestap. Bylsma het hom glo aan die arm gegryp en gesê hy gaan “vir hom kom”.

Kol. Corrie Coghlan
Kol. Corrie Coghlan Maandag besig om sy verklaring uit te skryf in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, nadat Xander Bylsma se pa, Monté, hom glo aan die arm gegryp en gedreig het. Foto: Susan Cilliers
Stefans Engelbrecht (links) en Chris Saunders, die private speurder vir wie Monté Bylsma glo gedreig het nadat sy seun, Xander, skuldig bevind is aan twee moorde. Foto: Susan Cilliers
Monté Bylsma het glo vir kapt. Markus Ferreira (links), ondersoekbeampte in die Stella-moordsaak, met die plat hand in die gesig gestamp nadat sy seun, Xander, skuldig bevind is aan twee moorde. Regs staan kol. Corrie Coghlan, vir wie Monté glo ook gedreig het.Foto: Susan Cilliers

Chris Saunders, die private speurder teenoor wie Xander eerste oor die moorde gebieg het, vertel hy was volgende. “Monté het met sy vinger teen my borskas gedruk en ook vir my gesê hy gaan vir my kom.”

’n Familielid van Bylsma het hom glo net daarna weggelei. Netwerk24 kon hom later nêrens sien om sy kommentaar te vra nie.

’n Ooggetuie, ene Isaac, het egter vertel hy het gesien hoe Bylsma die mans rondstamp en dreig. Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het die gebeure onder Hendricks se aandag gebring. Hendricks het gesê die betrokkenes moet dit self verder neem. Adv. Sakkie Nel, Xander se regsverteenwoordiger, het onderneem om met Bylsma daaroor te praat. Hy wou nie agterna verdere kommentaar lewer nie.

Intussen het Ferreira, Coghlan en Saunders verklarings by die polisie oor die gebeure ingedien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.