Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mooinooi: Familie geskok oor DNS-fout met beendere

Joey van Niekerk se familie is Vrydag ingelig dat die ondersoekbeampte in die Mooinooi-saak ’n “fout” begaan het: Die beendere wat gevind is en waarvan die DNS-uitslag verlede maand bekend gemaak is, is toe nié die van Joey nie, maar dié van Anisha.

“Ek het net lam geraak. Ek het met die foon teen my oor gestaan met kol. Mojalefa Nkosi op die lyn en net gedink hoe sê ek dit vir Joey se sussie en boetie en ma?” sê ’n steeds ontstelde Joey Burnard, Joey se tannie.

Joey en Anisha van Niekerk

Die Van Niekerk-egpaar se families is in April ná ’n gewag van vier maande in die Brits-landdroshof ingelig dat die DNS-uitslae die beendere met Joey verbind.

Op Vrydag 11 Mei het die ondersoekbeampte, Nkosi, vir Burnard gebel. Hy wou haar Saterdag kom sien, maar sy was nie beskikbaar nie.

“Toe sê hy dat hy jammer is om dit oor die foon te moet sê, maar hy dink hy het die DNS-verslag verkeerd gelees. Die beendere behoort aan Anisha; dis nie Joey s’n nie.

“Hoe maak ’n mens so ’n fout? Dis net onaanvaarbaar. Ons het ná die DNS-uitslag gedink ons kan dalk nou begin totsiens sê. Nou is ons terug by square one, want alles is van vooraf oopgekrap,” sê Burnard.

Joey en Anisha het op 10 Desember 2017 verdwyn toe hulle van hul plaas in Mooinooi, Noordwes, na Pretoria sou ry nadat Joey se pa, Kallie Erasmus, op 4 Desember dood is.

Teen einde Desember is beendere en oorskot gevind wat gestuur is vir forensiese en DNS-toetse.

Ses mans en twee vroue, insluitende die man wat sy duikkloponderneming vanaf die Van Niekerks se plaas bedryf het, is intussen gearresteer.

Die staat het tydens die beskuldigdes se borgtogaansoek aangevoer dat die vermeende “baasbrein” die slagoffers se plaas wou hê. Joey en Anisha is daardie Sondag glo na sy eie plaas ontvoer, aangerand, beroof, verkrag, gedwing om ’n koopkontrak te onderteken, en toe gehang.

Hul lyke is verbrand.

Drie van die beskuldigdes het op 26 April borgtog gekry.

Dit was juis tydens hierdie borgtoguitspraak dat die aanklaer, Christine Molautsi, aan Joey se familie gesê het die DNS-toetse se uitslag is bekend en sy wag vir die ondersoekbeampte met die verslag.

Joey en Anisha van Niekerk se uitgebrande motor.

Nkosi het aan die familie en Molautsi bevestig dat die beendere wat gevind is met Joey verbind word.

Burnard sê hulle was van plan om die beendere te gaan haal, dit te veras en saam met Joey se pa s’n te strooi as deel van ’n tipe roudiens.

Toe kom Nkosi se oproep.

“Ons familie het dit nie nodig nie. Ons is reeds deur hel. Jy hanteer mos nie dié tipe saak so nie?

“Ek soek nie meer daardie man (Nkosi) op die saak nie. Ons het geweet DNS-toetse vat lank. Ons het nie druk op iemand geplaas nie. Ons het egter nooit terugvoering van die ondersoekbeampte gekry nie.

Wyle Joey van Niekerk en haar pa, wyle Kallie Erasmus.

“Ek soek daardie verslag dat iemand vir my kan verduidelik hoe dit werk. Ons gaan hierdie ding beslis verder neem. Ek weet mense maak foute, maar dié is onprofessioneel.

“Ons familie is in ’n kwessie van ’n week deur twee sterftes. Dit is net te veel,” sê Burnard.

Sy moes toe ook Anisha se familie hieroor inlig.

Ao. Mpeile Talane, die Brits-polisiewoordvoerder, het bevestig dat die beendere wel dié van Anisha is en nie Joey s’n nie.

“Ons is jammer vir die ongerief dat die beendere oorspronklik as dié van Joey geïdentifiseer is. Ons vra om verskoning, veral in die lig dat ons baie goeie samewerking en ondersteuning van die twee families kry,” sê hy.

* Anisha se broer, Wynand van Niekerk, kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.