Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mooinooi: Man wil tronkbeampte as getuie dagvaar

Die sogenaamde “meesterbrein” in die Mooinooi-moordsaak wil ’n beampte van die departement van korrektiewe dienste as getuie in sy nuwe borgtogaansoek dagvaar.

Koos Strydom se prokureur, Heinrich Moldenhauer, het Dinsdag in die landdroshof in Brits gevra dat ’n sekere kapt. Engelbrecht, van die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria se afdeling vir verhoorafwagtendes, met die volgende hofverskyning daar moet wees.

Koos Strydom (53), een van die vyf beskuldigdes wat teregstaan op die moord van Joey en Anisha van Niekerk, Maandag in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Dié besluit volg vermoedelik omdat Christine Molautsi, die staatsaanklaer, vroeër gesê het die staat staan Strydom se tweede poging op vrylating teen omdat hy na bewering die huurmoorde van getuies vanuit die tronk beplan het.

Sy beoog om beeldmateriaal van die TV-program Carte Blanche te gebruik wat sou wys hoe die beskuldigde glo met ’n “tussenganger” onderhandel om geld en wapens by sy vrou, Mercia, te kry, sodat sekere staatsgetuies, insluitende een van Strydom se seuns, “uitgehaal” kan word.

Volgens Molautsi wys dit hoe sterk die staat se saak teen die beskuldigde is, omdat “ ’n sluipmoordenaar gehuur is om hulle (die staatsgetuies) dood te maak”.

Die verdediging sal aanvoer dat dié beeldmateriaal onwettig en “onregmatig” bekom is. Dit is vermoedelik hiervoor wat hulle Engelbrecht se getuienis nodig het.

Een van die gronde waarop Strydom (53) ’n borgtogaansoek op nuwe feite bring, het Moldenhauer vroeër aangevoer, is dat sy kliënt reeds sedert Desember 2017 in aanhouding is en die saak so lank gaan neem voordat die verhoor op 19 Augustus vanjaar in die hooggeregshof in Pretoria gaan begin, dat Strydom erg benadeel gaan word.

Die nuwe borgtogaansoek kon egter Dinsdag nie voortgaan nie omdat Moldenhauer “noodgevalle” het waaraan hy moes aandag gee.

Engelbrecht was ook nie by die hof nie.

Die aansoek sal nou in Mei aangehoor word en Strydom bly in aanhouding.

Strydom, Mercia (22), Alex Modau (36) en twee Mosambiekse broers staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van die ontvoering van en moord op Joey en Anisha van Niekerk. Die twee broers word ook aangekla van die verkragting van die Van Niekerk-egpaar en mag daarom volgens die Strafproseswet nie geïdentifiseer word voordat hulle gepleit het nie.

Strydom se seun, Vincent, sy (nou) gewese meisie, Maroeca Opperman en Moses Rakubu is ook destyds gearresteer. Die aanklagte teen hulle is later teruggetrek en die drie het staatsgetuies geword.

Die polisie het kort hierna bevestig dat van die staatsgetuies onder getuiebeskerming geplaas is omdat daar vir hul lewe gevrees word.

* Die staat voer aan dat Strydom die Van Niekerk-egpaar se hoewe naby Mooinooi, Noordwes, wou koop en ’n kontrak laat opstel het. Die eiendom was in Anisha se naam geregistreer.

Die twee vroue is glo ontvoer en na Strydom se plaas geneem, waar Anisha gedwing is om die koopkontrak te onderteken.

Joey en Anisha is daarna na bewering wreedaardig aangerand om hul bankkaarte se PIN te kry. Die staat beweer ook Joey en Anisha is verkrag voordat hulle vermoor is, waarna hul lyke verbrand is.

Meer oor:  Koos Strydom  |  Brits  |  Getuie  |  Dagvaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.