Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mooinooi: Pa deel glo moordplanne met seun, hoor hof

“Pa, kom ons los eerder hierdie plan.”

Koos Strydom (54) Dinsdag tydens sy verskyning in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Isabel Venter

So het Vincent Strydom (30), seun van die vermeende baasbrein agter die Mooinooi-moorde, Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria getuig.

Vincent het getuig hoe sy pa, Koos Strydom (54), hom die aand voor die moord van Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi, Noordwes, van sy moordplanne vertel het.

Koos en sy vrou, Mercia (23), Alex Modau (36) en twee broers, Aaron James (26) en Jack Chinkinya Sithole (19), se verhoor het Dinsdag vir die derde week hervat.

Die motief vir die moord is glo dat Koos Anisha se plaas wou bekom.

Joey en Anisha is op 11 Desember 2017 as vermis aangemeld nadat hulle veronderstel was om van hul hoewe op Mooinooi na Pretoria te ry.

Die dag voor die tyd het Vincent se pa hom na sy kamer geroep om sy planne te bespreek, het Vincent getuig.

“My pa het gesê die plan is om die twee vroue dood te maak. Ek was geskok. Ek en Maruschka (Opperman, Vincent se gewese meisie) het my pa probeer ompraat en vir hom gesê om dit eerder te los,” het Vincent getuig.

Vincent, Opperman en Moses Rakhubu is aanvanklik saam met die Strydom-egpaar en hul medebeskuldigdes aangekla.

My pa het gesê die plan is om die twee vroue dood te maak. Ek was geskok.
Vincent Strydom

Al drie het later staatsgetuies geword en die aanklagte teen hulle is teruggetrek. Netwerk24 het vroeër berig dié drie se name was glo op een van die moordlyste wat Koos uit die tronk aan ’n huurmoordenaar gegee het.

Vincent het Dinsdag herhaaldelik getuig dat sy pa hom met die dood gedreig het, sou hy iets van die planne uitlap.

“Ek was in daardie stadium bang om die waarheid te praat, maar nou hier, vandag praat ek net die waarheid,” het Vincent gesê.

Hy is uitgevra oor ’n rits WhatsApp-boodskappe waarin hy vir ’n vriend geskryf het werkers van sy pa het die Van Niekerk-paartjie doodgemaak.

“Ek weet nie hoekom nie ma en my pa is niks betroke met dit nie hy het nie eers geweet da van nie (sic),” het in een van die boodskappe gestaan.

Vincent het toe nog saam met Opperman weggekruip vir die polisie nadat Mercia gesê het hy moet “maak dat hy wegkom”.

My pa het vir my in die selle gesê ek moet stilbly. Hy het my ook geld aangebied om niks te sê nie.
Vincent Strydom

Vincent is op 29 Desember 2017 in hegtenis geneem.

Vincent het aan regter Bert Bam gesê dat hy voor en ná die gebeure van 10 Desember 2017 – die dag wat die Van Niekerks glo vermoor is – bang was om na die polisie te gaan.

“My pa het vir my in die selle gesê ek moet stilbly. Hy het my ook geld aangebied om niks te sê nie,” het Vincent getuig.

Vincent het ook getuig dat Sithole en Rakhubu vir hom op die tiende Joey en Anisha se lyke in die spruit agter Koos se huis gewys het.

Hy het pas op die plaas aangekom nadat hy heeldag by die paneelklopperonderneming gewerk het. Dié onderneming, wat Koos bestuur het, is op die perseel wat hy van die Van Niekerks gehuur het.

Regter Bert Bam het gelas dat die vyf beskuldigdes van mekaar geskei word. Sedert die begin van die week sit hulle nie meer so gereeld langs mekaar nie en het Koos en Mercia Strydom eerder langs mekaar begin sit. Van links is Jack Chinkinya Sithole (19), Alex Modau (37) en Mercia (23) en Koos Strydom (54). Foto: Isabel Venter

“Hulle was toe onder komberse en goed, ek het hul gesigte gesien toe die goed gelig is en hul koppe opgetel en aan my gewys is. Ek weet nie wat was die doel daarvan om hul lyke vir my te wys nie,” het Vincent getuig.

Om ongeveer middernag het Koos vir hom en Rakhubu gestuur om die egpaar se motor te gaan verbrand.

Koos en Mercia het, soos met die ander staatsgetuies, alles ontken. Sithole het deur sy prokureur ontken dat hy enige lyke aan Vincent gaan wys het.

Pa en seun het in die hof ook bitter min oogkontak gemaak.

Koos se regsverteenwoordiger, Heinrich Moldenhauer, het Dinsdag gesê Koos sê hy is onskuldig by die saak betrek omdat hy “baie moeilikheid en probleme” met Vincent gehad het toe dié by hom gebly het.

Mercia het bygevoeg dat Vincent ’n byltjie te slyp gehad het omdat hy nie sy pa se huwelik met haar goedgekeur het nie.

Moldenhauer het ook gesê Koos het nooit enige moordplanne met sy seun bespreek nie, maar wel planne om hom en Opperman te help sodat hulle ’n kind kan aanneem.

“Nie op daardie dag nie. My pa het op ’n ander geleentheid gesê hy sal die vrou wat oorkant hulle bly, doodmaak en haar kind vir my en Maruschka gee,” het Vincent getuig.

Die saak hervat Woensdag.

Nog dreigemente

Intussen het regter Bert Bam beveel dat Koos voortaan alleen na en van die hof vervoer moet word.

Dit volg nadat Koos vir James Sithole glo met die dood gedreig het terwyl Sithole besig was om met sy prokureur in die aanhoudingselle te praat.

Netwerk24 het ook betroubaar by ’n geloofwaardige bron verneem dat nog ’n staatsgetuie in getuiebeskerming geplaas moes word.

Nelson Malate, wat oorspronklik by die planne betrek is, het Vrydag getuig Koos het hom R15 000 betaal om vir Joey en Anisha te ontvoer.

Koos het glo gereël vir ’n vuurwapen en Eskom-uniforms, wat deur Mercia afgelewer is, om die vroue te ontvoer.

Malate het koue voete gekry toe hy by die Van Niekerks se huis opdaag en gesien het daar word gekuier saam met ander mense.

Hy het besluit om die geld te hou en eerder nie na Koos toe terug te gaan nie.

Vrydagaand ná Malate se getuienis het iemand glo by sy huis ingebreek met die doel om hom te vermoor. Sedertdien is hy in ’n plek van veiligheid.

Dit is nie die eerste keer dat getuies in die saak gedreig word nie.

Koos is kort ná sy inhegtenisneming in ’n enkelsel geplaas nadat hy glo vanuit die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria huurmoorde op getuies en ondersoekbeamptes beplan het, het Netwerk24 vroeër berig.


Meer oor:  Mooinooi-Moorde  |  Koos Strydom  |  Joey En Anisha Van Niekerk  |  Mooinooi  |  Pretoria  |  Moord  |  Vermis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.