Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mooinooi: Só is Joey en Anisha dood

Hulle het saggies gehuil en die trane het oor hul wange gerol, het Moses Rakhubu getuig oor Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi, Noordwes, se laaste oomblikke waarin hulle verkrag en toe opgehang is.

Koos en Mercia Strydom het Woensdag openlik gestry voordat Mercia vir Heinrich Moldenhauer in die pad gesteek het. Foto: Isabel Venter

Rakhubu het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria begin getuig.

Hy was medepligtig en is aanvanklik saam met die Strydoms en hul medebeskuldigdes aangekla.

Rakhubu sê hy het eers gelieg oor sy aandadigheid omdat hy bang was vir Koos.

“Ek ken hom, hy is ’n misdadiger en sou my doodgemaak het,” het Rakhubu gesê.

Koos Strydom (54), sy vrou, Mercia (23), Alex Modau (36) en twee broers, Aaron James (26) en Jack Chinkinya Sithole (19), staan tereg op die moord van die paartjie. Die Sithole-broers word ook van verkragting aangekla.

Rakhubu het getuig hoe die twee vroue op 11 Desember deur James en Jack verkrag is.

Hy was op die plaas omdat Koos gesê het hy “moet ’n kliënt se motor wegvat”.

Die Van Niekerks het later saam met James en Jack in ’n wit Nissan X-trail opgedaag.

James het ’n vuurwapen gehad en hy en Jack het die vroue uit hul voertuig gepluk. Die vrou met die swart hare – Joey – is deur Jack na ’n staalhouer geneem. James het Anisha na die huis gedwing. Rakhubu het James gevolg.

“Mercia het my nadergeroep en gevra ek moet vir James sê om nie die vrou te verkrag nie,” het Rakhubu gesê.

Hy het nadergegaan en gesien hoe James Anisha verkrag, met sy broek om sy enkels.

Koos Strydom (54) het Woensdag oudergewoonte eers met Heinrich Moldenhauer gekonsulteer voordat die hofverrigtinge begin het. Moldenhauer sal voortaan net vir Koos verteenwoordig nadat Mercia, Koos se vrou, besluit het om haar eie prokureur aan te stel. Foto: Isabel Venter

“Hy wou met my baklei en het gesê sy het hom lankal wellustig gemaak,” het Rakhubu getuig.

In die staalhouer was Jack besig om Joey te verkrag, het Rakhubu gesê.

Mercia het later vir hom ’n dokument gegee wat die vroue moes teken.

Anisha en Joey was toe al met hul hande in die lug aan hake in die staalhouer vasgebind.

James en Jack Sithole sit langs mekaar in die beskuldigdebank. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle Joey en Anisha van Niekerk eers verkrag en toe vermoor het deur hulle te hang. Regs van hulle sit Alex Modau. Foto: Isabel Venter

“Ons het hul hande losgemaak en vir hulle ’n pen gegee, waarna hulle die dokument onderteken het,” het Rakhubu gesê.

Dit was vir hom duidelik die paartjie was getraumatiseerd.

“Hulle het nie hard gehuil nie, die trane het net teen hul gesigte afgeloop,” het Rakhubu gesê.

Die ondertekende dokument – ’n “kontrak” waarin Anisha se hoewe aan Koos “verkoop” word – is aan Mercia gegee.

Rakhubu het saam met die broers by die vroue in die houer gestaan en Koos het oor die telefoon vir James gesê “die mense moet doodgemaak word”.

Rakhubu het tou en draad gekry wat in lusse geknoop en aan die hake in die houer vasgemaak is.

Hy het die broers gehelp om die vroue op te lig. Jack het seker gemaak die toue is goed geknoop om hul nekke.

Anisha en Joey se voete het nog aan die grond geraak en Jack het hulle opgelig deur in hul nekke te skop en die tou af te trek.

So is hulle een vir een gehang.

Rakhubu is nie gevra wie eerste gehang is nie.

Hy het buite gaan staan en eers later teruggekeer en gesien albei is dood.

Koos en Mercia Strydom het Woensdag woorde met mekaar gehad in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Pretoria. Mercia het besluit om haar eie prokureur aan te stel. Foto: Isabel Venter

James het die twee vroue se lyke in komberse toegerol en in ’n vullishouer in die spruit agter Koos se huis gaan weggooi.

Intussen het Rakhubu en Modau die klere en ID’s verbrand.

James het petrol oor die lyke gegooi en sy broer het hulle aan die brand gesteek.

Koos het James later R2 500 gegee en gereël om Jack en Modau later te betaal.

Later het Koos vir Rakhubu aangesê om saam met Vincent, sy seun, te ry en die X-trail te gaan verbrand.

Koos, Mercia, Koos se minderjarige seun en Maruschka Opperman (Vincent se gewese meisie) het agterna gery om hulle terug te bring.

Koos het self die motor aan die brand gesteek, waarna hy Rakhubu R2 000 betaal en by die huis afgelaai het.

Mercia Strydom verlaat Woensdag die hooggeregshof in Pretoria vinnig nadat sy Heinrich Moldenhauer in die pad gesteek het. Sy het hom in die hof daarvan beskuldig dat hy “dinge verdraai”. Foto: Isabel Venter

Intussen het Mercia ná dié getuienis besluit om haar eie regsverteenwoordiger aan te stel.

Heinrich Moldenhauer, wat die Strydom-egpaar tot dusver verteenwoordig, het ná etenstyd gesê Mercia is ontevrede met sy dienste.

Mercia het aan regter Bert Bam verduidelik dat sy geïmpliseer word omdat sy Koos se vrou is en dat dit vir haar beter sal wees om haar eie regsverteenwoordiger te kry.

Sy en Koos het openlik gestry in die beskuldigdebank.

“Moldenhauer verdraai die goed. Wat ek sê en wat hier gesê word, is twee verskillende goed,” het Mercia verder gesê.

“En ek wil my storie regstel. Ek is hier om die waarheid te praat.”

Die saak hervat Donderdag sodat sy die kans kan kry om ’n nuwe prokureur te gaan soek.

Meer oor:  Koos Strydom  |  Joey En Anisha Van Niekerk  |  Mooinooi  |  Dood  |  Vermoor  |  Sterf  |  Geweld Teen Vroue  |  Moord  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.