Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mooinooi: Uitbarsting toe Strydom hoor hy kry wéér nie borgtog

As Koos Strydom (54) tydens aanhouding in staat was om drie selfone te bekom, getuies te dreig, en sluipmoordenaars te huur, hoeveel te meer van ’n bedreiging sal hy nie wees nie as hy op borgtog vrygelaat word en toegang tot nog meer hulpbronne sal hê.

Dit was die mening van landdros Semakaleng Thamage Donderdag toe hy Strydom se borgtogaansoek op nuwe feite in die landdroshof in Brits van die hand gewys het.

Koos Strydom (53). Foto: Deaan Vivier

Die hoofredes hiervoor was Strydom se beweerde geneigdheid tot misdadigheid en die bedreiging van ander se veiligheid.

Heinrich Moldenhauer, Strydom se prokureur, het ná die uitspraak aan sy kliënt gesê hulle gaan teen dié weiering van borgtog appelleer.

Strydom het later glo woedend in die aanhoudingsel uitgebars met ’n: “Hulle maak net k*k, man!”

Nadat hy vroeër ook borgtog geweier is, het dié vermeende baasbrein in onder meer die Mooinooi-moordsaak, ’n nuwe aansoek gebring waarin hy aanvoer hy word benadeel omdat hy reeds sedert sy inhegtenisneming in Desember 2017 in aanhouding is en die verhoor teen hom en ander eers in Augustus in die hooggeregshof in Pretoria begin.

Strydom het in ’n verklaring gesê die verhoor sou reeds op 11 Maart begin. Die verdediging het egter eers op 8 Februarie die dossier ontvang om te kon voorberei.

Op 6 Maart het die staat aangedui dat hy nie gereed is om voort te gaan nie, omdat daar nog ondersoekwerk uitstaande is.

Thamage het bevind die vertraging in die verhoor is nie nét die staat se skuld nie, maar deels ook weens ’n aansoek van Strydom om selfoonrekords te bekom, asook ’n aansoek van ’n medebeskuldigde, wie se ouderdom bepaal moet word, omdat dié beweer hy is minderjarig.

Behalwe dat die vertraging van die verhoor nié volgens Thamage uitsonderlike omstandighede is wat Strydom se vrylating regverdig nie, is dit ook nie in belang van geregtigheid nie, in ag genome die bewerings dat die beskuldigde geneig is tot misdrywe en ’n bedreiging is vir die veiligheid van ander.

Drie selfone is in sy besit gevind.

Die landdros het in besonderhede na lt.kol. Johannes Nkosi, die ondersoekbeampte, se getuienis verwys en gesê dié moes ten einde laaste die tronkowerhede versoek om die beskuldigde in ’n enkelsel aan te hou (pleks van saam met ander verhoorafwagtendes), nadat hy getuies gebel en gedreig het terwyl hy in aanhouding is.

“Drie selfone is in sy besit gevind. Dit was (onderskeidelik) tydens sy aanhouding in Bethanie, Brits en die Kgosi Mampuru II-gevangenis,” sê Thamage.

“Lt.kol. Nkosi het getuig hoe die beskuldigde aanhou om mense uit die tronk te dreig. Strydom het volgens die ondersoekbeampte probeer reël dat agt getuies vermoor word. Dié planne is gesien op ’n video-opname van die televisieprogram Carte Blanche.

“Die beskuldigde het ook glo saamgesweer met ’n huurmoordenaar om ’n ondersoekbeampte in ’n ander moordsaak teen hom te vermoor. ’n Saak is in die verband by die polisie ingedien,” sê Thamage.

Dié ander saak wat betrekking het op die moord van Amanda Mey in 2014, word in die hooggeregshof in Mogwase aangehoor.

’n Getuie in dié saak moes uit vrees vir Strydom na die Vrystaat vlug.

Nadat hy Strydom se borgtogaansoek van die hand gewys het, het Thamage die saak terugverwys na die hooggeregshof vir verhoor.

Die Mooinooi-saak teen Strydom en ander:

Koos Strydom, sy vrou, Mercia, sy seun Vincent, dié se destydse meisie, Maroeca Opperman, Moses Rakubu, Alex Modau en twee Mosambiekse broers is destyds inhegtenis geneem nadat Joey en Anisha van Niekerk vermis geraak het.

Die staat voer aan dat Strydom die Van Niekerks se hoewe by Mooinooi, Noordwes, wou koop en ’n kontrak laat opstel het. Die eiendom was in Anisha se naam geregistreer. Die Van Niekerks is glo ontvoer en na Strydom se plaas gebring waar Anisha met vasgebinde hande gedwing is om die koopkontrak te onderteken. Die vroue is glo ook wreedaardig aangerand om hul bankkaarte se PIN te kry, deur die broers verkrag en toe vermoor.

Hul lyke is daarna glo verbrand.

Vincent, Opperman en Rakubu het staatsgetuies geword en die klagte teen hulle is teruggetrek.

Dié drie se name was glo op die eerste lys wat Strydom uit die tronk aan die huurmoordenaar gegee het.

Die Mogwase-saak:

Amanda Mey het ook ’n koopkontrak met Strydom vir haar grond aangegaan.

Die twee het, vermoedelik op Strydom se aanbeveling, lewenspolisse op mekaar se lewe uitgeneem as “versekering vir ingeval iets sou gebeur”.

Mey is op 24 Junie 2014 in ’n “plaasaanval” vermoor en die lewenspolis vir R1,8 miljoen is ná haar moord aan Strydom uitbetaal. Die een Mosambieker (wat ook sy medebeskuldigde in die Mooinooi-saak is) is destyds in verband met dié moord in hegtenis geneem, maar die saak is later teen hom teruggetrek.

Ao. Jannie van der Walt is toe as nuwe ondersoekbeampte aangestel. Hy het in 2018 vir Strydom en die Mosambieker tydens hul borgtogaansoek in die Mooinooi-saak vir die Mey-moord in hegtenis geneem.

Van der Walt was nie net op die eerste “moordlys” nie, maar Strydom het glo in Mei weer ’n prys op sy kop geplaas.

Meer oor:  Koos Strydom  |  Brits  |  Mooinooi  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.