Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mooinooi-verdagte voor in ander huurmoord-saak

Een van die mans wat in die opspraakwekkende Mooinooi-saak van moord en verkragting aangekla word, was Dinsdag glo te siek om te hoor of hy aan moord in ’n ander soortgelyke saak skuldig bevind is.

Die uitspraak in die saak, waarin die 26-jarige James Aaron Sithole aangekla word daarvan dat hy Mandie Mey in 2014 in ’n huurmoord naby Rustenburg in die kop geskiet het, is gevolglik uitgestel.

Mandie Mey
Mandie Mey Foto: Facebook

Die uitspraak sal na verwagting op 20 Julie in die rondgaande hof in Mogwase gelewer word, het kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

Mey se man, George Janse van Rensburg, het gesê hy is teleurgesteld dat die saak nie afgehandel kon word nie.

“Dit bly seer en ek mis haar. Ons was vyf jaar saam en vier maande getroud toe sy vermoor is. Ons het alles saam gedoen. Sy het altyd uit haar pad gegaan om ander te help en mense aangery welsyn toe.”

Koos Strydom (54), vermeende meesterbrein agter die Mooinooi-moorde, het Sithole na bewering gehuur om Mey in Junie 2014 te gaan vermoor om voordeel uit ’n lewenspolis te trek. Hy en Sithole is saam aangekla in Mey se moordsaak, maar het skuld ontken.

Koos Strydom
Koos Strydom in die hof. Hy het in September verlede jaar vermoedelik sy eie lewe geneem. Foto: Isabel Venter

Daar word gegis dat Strydom in September verlede jaar sy eie lewe in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria geneem het. Hy is dood enkele dae nadat hy bewusteloos in sy enkelsel aangetref is – vermoedelik nadat hy pille of gif gedrink het.

Hy sou op 11 Augustus saam met Sithole en drie ander verskyn het vir die moorde op Joey en Anisha van Niekerk in Mooinooi wanneer die saak hervat word. Die twee vroue is in Desember 2017 verkrag en gehang. Strydom wou hulle glo dwing om ’n koopkontrak vir hul hoewe te onderteken.

James Aaron Sithole (links) en Koos Strydom met een van hul hofverskynings in die Mooinooi-saak. Foto: Deaan Vivier

Die moord op Mey was ’n soortgelyke scenario. Strydom wou glo Mey se skrootwerf-onderneming naby Rustenburg koop. Hulle het glo ooreengekom dat elkeen ’n lewenspolis sou uitneem om albei te beveilig totdat die transaksie afgehandel is. Indien een van die twee tot sterwe sou kom, sou die ander ’n uitbetaling ontvang.

Strydom was glo nooit van plan om die perseel te koop nie, maar het Sithole toe na bewering gehuur om Mey te gaan vermoor. Dit moes glo soos ’n rooftog lyk en Strydom het sy polis-uitbetaling van R1,8 miljoen gekry, het Augoustides gesê.

Die polisie het egter agterdogtig geraak toe die polis ter sprake kom. Strydom het glo ook aan ander gesê dat Mey “nie Desember sal sien nie”.

Volgens Janse van Rensburg was sy vrou “bang” vir Strydom en het hy haar glo gedreig.

Ao. Jannie van der Walt, ondersoekbeampte in die saak, het verlede jaar ’n oproep ontvang van iemand wat gesê het dat hy gestuur is om hom, sy vrou en kinders te vermoor, sê Augoustides.

“Jannie het die beller se nommer nagespoor en vir hom gesê hy weet wie hy is en waar hy woon, en dat hy op pad is om hom te gaan haal. Die vermeende huurmoordenaar het toe belowe om sy samewerking te gee en inligting te verskaf. Strydom het hom glo gehuur om Jannie te gaan vermoor.”

Meer oor:  Mandie Mey  |  James Aaron  |  Koos Strydom  |  Mooinooi-Verdagte  |  Huurmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.