Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mooinooi: Vermeende baasbrein se seun, nog 2 vry

Alle aanklagte is Donderdag in die landdroshof op Brits in Noordwes teen drie van die beskuldigdes in die Mooinooi-saak van Joey en Anisha van Niekerk teruggetrek.

Christine Molautsi, die aanklaer, het die hof ingelig dat Moses Rakubu, Vincent Strydom en Maroeca Opperman, Strydom se gewese meisie verskoon kan word.

Mercia Strydom, Alex Modau en Koos Strydom saam met die twee Mosambiekse broers, wat glo vir Joey en Anisha van Niekerk verkrag het, staan alleen in die beskuldigdebank nadat alle aanklagte Donderdag teen drie ander teruggetrek is. Foto: Hanti Otto

Strydom se pa, Koos Strydom, die beweerde baasbrein in die saak, het hard probeer om oogkontak met sy seun te maak, maar dié het strak voor hom bly staar.

Molautsi het daarna die akte van beskuldiging, waarop die res later in die hooggeregshof in Pretoria verhoor sal word, op twee Mosambiekse broers, onderskeidelik 25 en 18 jaar oud, Strydom (52), Alex Modau (36) en Mercia Strydom (22), Koos se vrou, beteken.

Die beskuldigdes is voorheen nie geïdentifiseer nie omdat hulle destyds in hegtenis geneem is op aanklagte van verkragting met ’n gemeenskaplike oogmerk. Volgens wet moet verdagtes in ’n seksmisdaad eers pleit voordat hul name bekend gemaak mag word.

Luidens die akte word net die twee Mosambiekse broers nou van verkragting aangekla. Hulle het albei vir Strydom by sy duikkloponderneming gewerk, wat op Joey en Anisha se grond geleë was.

Al vyf die oorblywende verdagtes staan ook tereg op twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van ontvoering, drie van diefstal en aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die staat voer aan dat Strydom die Van Niekerk-egpaar se hoewe wou koop en ’n kontrak laat opstel het. Die hoewe was in Anisha se naam.

“Beskuldigde twee (Strydom) het besluit dat, om die koopkontrak af te dwing, Anisha van Niekerk gedwing moet word om dit te teken. Sy oogmerk was dat albei die oorledenes vermoor sou word nadat die kontrak geteken is. Vir dié doel het hy die ander beskuldigdes om hulp genader,” lui die akte.

Die oorledenes is op 10 Desember 2017 na Strydom se plaas. Hier is Anisha glo gedwing om die koopkontrak te teken, waarna sy en Joey “wreedaardig aangerand en uiteindelik vermoor is”.

Die saak is na later die maand uitgestel sodat ’n regshulp-prokureur vir Modau en die Mosambiekse broers aangestel kan word.

Die akte lees ook: “Die twee oorledenes is meer as een keer deur beskuldigdes een en drie verkrag (voordat hulle vermoor is). Hul lyke is toe verbrand”.

Joey en Anisha is volgens die staat voor hul dood ook van hul voertuig beroof, wat later uitgebrand is. Hulle is aangerand om hulle te dwing om hul bankkaarte se PIN’s aan die beskuldigdes te gee, beweer die staat.

Duisende rande is op 11 en 12 Desember uit Joey se bankrekening onttrek, terwyl R800 op 12 Desember uit Anisha s’n onttrek is.

Net Anisha se oorskot is uiteindelik gevind, maar die oorsaak van haar dood kon nie bepaal word nie. Joey se lyk is nooit gekry nie.

“Die staat sal bewys dat al die beskuldigdes saamgewerk het aan ’n voorafbeplande misdaad. Die moorde is vooraf beplan en uitgevoer in ’n rooftog. Die slagoffers is (in die uitvoering van die plan) herhaaldelik verkrag,” aldus die akte.

’n Lys van 36 staatsgetuies is aangeheg.

Die saak is na later die maand uitgestel sodat ’n regshulp-prokureur vir Modau en die Mosambiekse broers aangestel kan word. Die Strydom-egpaar het ’n private prokureur. Almal is steeds in aanhouding, behalwe Mercia wat vroeër, saam met Vincent en Opperman, op borgtog vrygelaat is.

Strydom se plaas is intussen verkoop.

  • Strydom en die oudste Mosambiekse broer sal in September in die hooggeregshof in Mogwase in Noordwes verskyn. Hulle word daar aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede. Dit hou verband met ’n voorval in Rustenburg in 2014 waar Strydom glo ook die slagoffer se plaas wou koop.
Meer oor:  Joey Van Niekerk  |  Anisha Van Niekerk  |  Baasbrein  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.