Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moord op diereliefhebber: Kêrel verskyn in hof

Die vermeende moordenaar van ’n geliefde roofdierkenner van Bela-Bela in Limpopo het haar roudiens ’n week ná haar raaiselagtige dood bygewoon.

Chris Luus (44) en Annel Snyman (38) kort voor Snyman se dood in September.

Chris Luus (44) het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Weenen in KwaZulu-Natal in verband met die moord op Annel Snyman (38) verskyn.

Luus en Snyman was in ’n aan-en-af-verhouding van sowat twee jaar. Sy was die eienaar van die Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela.

Haar lyk is Maandagaand 9 September gekry waar sy aan ’n rekverband aan die haak van ’n badkamerdeur gehang het in ’n hotelkamer by die Cayley Mountain Resort in die Drakensberge in KZN.

Nardus Snyman, haar broer, sê die familie en van haar vriende het haar teen Luus gewaarsku.

“Baie mense het haar gewaarsku . . . maar dis iets waaraan ons nou niks kan doen nie.”

Luus het op Woensdag 18 September Snyman se roudiens in Bela-Bela bygewoon.

Nardus sê sy ouers, Antoinette en Hennie, is in rou gedompel na Snyman se dood.

“Ons familie gaan deur diep waters.”

Polisielede van Winterton in KZN het Luus Donderdag by sy huis op ’n hoewe buite Bela-Bela in hegtenis geneem. Luus is die eienaar van Clear Water Pools in die dorp.

Snyman was saam met die polisie en het gesien hoe Luus in die vangwa gelaai word.

“Dit was ’n baie emosionele ding en nie lekker nie. Ons familie wil net hê geregtigheid moet geskied.”

Chris Luus (44) en Annel Snyman (38), wat die eienaar van Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela was. Hulle was vir sowat twee jaar in ’n verhouding.

Luus het twee minderjarige kinders uit ’n vorige huwelik.

Hy het kort ná Snyman se dood aan Netwerk24 gesê: “Ek het bitter seer en daar gaan nie ’n sekonde van ’n dag of nag verby dat ek nie aan haar dink of oor haar huil nie. My hart is stukkend. Annel was my alles en ek het haar verloor.”

Chris Luus (44) en Annel Snyman (38) toe hulle by die see vakansie gehou het.

Veiligheidswagte by die oord, waar die paartjie vakansie gehou het, het die aand van Snyman se dood glo ’n bakleiery gehoor.

Luus ontken dat hulle baklei het.

“Ons het nie baklei nie. Ons het net woorde gehad vir mekaar omdat sy verdwyn het toe ek geshower het en ek haar sewe keer aanhoudend gebel en sy nie geantwoord het nie. Ek was net bekommerd oor waar sy was en omdat sy my nie gesê het nie.”

Luus sê Snyman het haar selfoonlaaier in sy bakkie gaan haal en haar selfoon se klank was nie aangeskakel nie.

Hy sê hy het die aand omstreeks 23:00 op haar lyk afgekom waar sy aan die voorkant van die badkamerdeur in hul kamer by die oord gehang het. Hy sê die rekverband wat om haar nek was, was aan die agterkant van die deur aan ’n haak vasgemaak. Hy sê hy het buite in ’n hangmat ontspan en gewag dat Snyman by hom aansluit.

“Ons het albei ons slaappilletjies gedrink en sy haar pille vir haar ‘eina’. Toe sê ek vir haar ons kan ’n bietjie buite langs die swembad op die hangmatte gaan lê tot ons vaak word en vir die sterre kyk en sigarette rook. Ek moes aan die slaap geraak het en toe ek wakker word het ek huis toe gegaan en haar lyfie teen die deur gesien!” het Luus in September aan Netwerk24 gesê.

“Ek was histeries van skok en kan nie wat ek daar gesien het uit my gedagtes kry nie. Dit was baie traumaties om haar daar te sien hang,”

Volgens hom het hy die rekverband afgesny en Snyman op die bed neergesit waar hy mond-tot-mond-asemhaling op haar toegepas het, maar dit was tevergeefs.

Chris Luus (44) en Annel Snyman (38) van Bela-Bela in gelukkiger dae.
Annel Snyman (38)
Annel Snyman (38)
Annel Snyman
Annel Snyman (38) by haar ma, Antoinette.

Snyman het die rekverbande gebruik vir ’n wond aan haar regterarm waar ’n hiëna haar ’n maand tevore gebyt het.

Antoinette Snyman, haar ma, sê die paartjie sou tot die Vrydag by die oord gebly het, maar Snyman het haar die aand van haar dood omstreeks 21:30 in ’n WhatsApp-boodskap laat weet “ons kom vroeër terug”.

“Ek het geantwoord ‘oukei’ en dat sy lekker moet slaap. Die volgende oggend word ek gebel en hoor my kind is dood.”

Luus het aan Netwerk24 gesê hy het die nag van Snyman se dood “gebid en gehuil” en in sy voertuig voor die Winterton-polisiekantoor geslaap voordat hy haar ouers die oggend omstreeks 07:00 gebel het.

Annel Snyman
Annel Snyman (38) by een van haar leeus by die Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela in Limpopo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.