Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moord op leerkrag: Beskuldigde wil homself verdedig

Die vermeende moordenaar van ’n onderwyseres van Johannesburg wie se lyk vandeesweek in ’n vlak graf gekry is, gaan homself in die hof verteenwoordig.

Lucky Mshubi (36) het Vrydag in die landdroshof in Lenasia verskyn in verband met die moord op Naadira Vanker (31) en ook aangedui hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie.

Naadira Vanker (31), ’n onderwyseres van Johannesburg, is vermoor.

Haar lyk is Dinsdagaand in ’n vlak graf by ’n sinkhut in die Phumlamqashi- informele nedersetting naby Lenasia gekry.

Mshubi is dieselfde aand deur die polisie in hegtenis geneem.

Vanker is verlede Donderdag omstreeks 06:00 in haar woonstel in Grosvenorstraat, Lenasia-Suid, oorval. Nadat sy glo aangerand is, is sy uit haar woonstel ontvoer en in haar motor geboender.

Haar Honda Accord-motor is later dieselfde dag verlate in Ennerdale in die suide van Johannesburg gekry. Daar was geen teken van haar nie.

Vanker was ’n onderwyseres aan die Progress Primary School in Lenasia.

Die polisie, Vanker se familie en die gemeenskap van Lenasia het sedert haar ontvoering sonder ophou na haar gesoek. Pamflette met foto’s en inligting van haar is wyd op sosiale media versprei.

Die polisie het inligting opgevolg wat hulle Dinsdagaand na die sinkhut in die informele nedersetting gelei het. Mshubi is in hegtenis geneem en het glo die vlak graf waar Vanker begrawe is aan die polisie uitgewys.

Die vermoorde Naadira Vanker (31).

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê Mshubi het op aanklagte van moord, huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en dwarsboming van die gereg in die hof verskyn.

Mjonondwane sê die staat voer aan dat Mshubi glo beplan het om Vanker te ontvoer. Luidens die klagstaat het hy glo self ’n vlak graf in sy erf gegrawe waar hy Vanker begrawe het.

’n Lykskouing sal bepaal presies hoe Vanker dood is.

Mshubi het aan die hof gesê hy wil nie nou om borgtog aansoek doen nie. Hy het ook aan die hof gesê dat hy homself sal verdedig. Hy moet op 26 Junie weer in die landdroshof in Lenasia verskyn.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê daar word na nog ’n man gesoek wat glo by die ontvoering en moord op Vanker betrokke was.

’n Familielid van Vanker het aan ’n plaaslike radiostasie gesê dat twee van haar vier kinders glo aangerand is toe daar by die woonstel ingebreek is. Die geskokte kinders het na ’n familielid van hulle se nabygeleë huis gehardloop en vertel wat gebeur het.

Vanker is reeds Woensdagmiddag volgens die Moslem-geloof begrawe.

Vanker se familie is steeds te getraumatiseerd om oor die gebeure te praat.

Meer oor:  Naadira Vanker  |  Lenasia  |  Leerkrag  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.