Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moord op Mihalik ‘met gemene doel beplan’
Vuyile Maliti Maandagmiddag by die landdroshof in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Adv. Pete Mihalik (50) se moord is vooraf deur ’n groep mense met ’n gemeenskaplike oogmerk beplan.

Dit was Maandag die woorde van landdros Greg Jacobs in die borgtogaansoek van Sizwe Biyela, Nkosinathi Khumalo en Vuyile Maliti in die landdroshof in Kaapstad.

Die drie staan op aanklagte van moord, twee aanklagte van poging tot moord en ’n aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie tereg.

Hulle word daarvan aangekla dat hulle Mihalik, ’n bekende Kaapse regsman, op 30 Oktober 2018 ’n hanetree van sy kinders se skool in Groenpunt, Kaapstad, met ’n 9 mm-pistool doodgeskiet het.

Jacobs het gesê ondanks hul ontkenning dat hulle by Mihalik se moord betrokke was, is daar kringtelevisiebeelde van kameras in die omgewing wat hulle drie en die Volkswagen Polo wat Maliti gehuur het, die dag voor die moord en die oggend van die moord in die omgewing plaas.

Daar is ook selfoonrekords wat die drie in die dae voor die huurmoord en op die moorddag met mekaar verbind, asook dat hulle die dag voor en op die moorddag op die toneel was.

Sizwe Biyela Maandagmiddag nadat landdros Greg Jacobs borgtog vir hom en sy medebeskuldigdes geweier het. Foto: Jaco Marais

Daarbenewens het Biyela sowel as Khumalo mekaar en vir Maliti in hul verklarings geïmpliseer. Hulle noem Maliti glo op sy naam in hul verklarings en voer aan dat hy die een is wat die moord beplan en die reëlings getref het om dit uit te voer.

Daar is kringtelevisiebeelde wat wys hoe Biyela die oggend van 30 Oktober deur Khumalo, Maliti en ’n onbekende man op die hoek van Thornhill- en Cavalcadeweg afgelaai word, ’n paar minute voordat Mihalik met sy kinders in sy voertuig naby die skool stilgehou het. Die beskuldigdes ry onder meer in ’n Renault Clio en die gehuurde silwer Volkswagen Polo.

Biyela kan glo gesien word waar hy die voertuig nader en Mihalik dan vinnig twee keer in sy kop skiet. Hy hardloop dan weg en word deur sy twee medebeskuldigdes en die vierde onbekende man naby die toneel opgelaai.

Mihalik is op die toneel dood verklaar. Sy seuntjie is ook in die voorval gewond en moes mediese hulp ontvang.

Jacobs het in sy uitspraak gesê die drie mans het in hul borgtogaansoek staatgemaak op beëdigde verklarings wat namens hulle by die hof ingedien is, maar daar is niks daarin wat dui op buitengewone omstandighede om ’n besluit te regverdig om hulle op borgtog vry te laat nie.

Nkosinathi Khumalo Maandagmiddag buite die hof.Foto: Jaco Marais

Hy het gesê die aanklagte van moord is ’n skedule 6-misdryf. Dit plaas dus die onus op die beskuldigdes om redes aan die hof te gee oor hoekom hulle op borgtog vrygelaat moet word.

Jacobs het gesê die ondersoekbeampte, lt.kol. Charl Kinnear, het in sy beëdigde verklaring waarin hy borgtog vir die drie teenstaan, aangevoer dat hy gesukkel het om Biyela en Khumalo se adresse in KwaZulu-Natal na te gaan. Hy het ook aangevoer dat hulle glo huurmoordenaars in die taxibedryf in KwaZulu-Natal is.

Kinnear het in sy verklaring aangevoer die moontlikheid bestaan dat hulle hul verhoor sal ontduik. Hy het ook aangevoer dat al drie, ondanks hul ontkennings dat hulle geen vorige veroordelings of hangende sake het nie, wel hangende sake teen hulle het.

Maliti gaan glo ook binnekort vir motordiefstal in hegtenis geneem word.

Jacobs het borgtog geweier.

Die staatsaanklaer, adv. Helene Booysen, het aan die hof gesê dat die saak vir verhoor na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas gaan word. Die saak is tot 12 Augustus uitgestel.

Meer oor:  Sizwe Biyela  |  Pete Mihalik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.