Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Borgtog vir 3 ná moord op onder-burgemeester

Die onderburgemeester van Stellenbosch, sy vrou en ’n taxibestuurder is Donderdag op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Nyaniso Jindela, sy vrou, Unathi, wat ’n laerskoolonderwyseres is, en die taxibestuurder Gladstone Relegu word saam met Phumlani Sibonge van die moord op Cameron Mcako (56), Jindela se voorganger, aangekla. 

Hulle staan ook tereg op aanklag van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die egpaar en Relegu is Dinsdagaand in verband met die moord, wat volgens die polisie polities gemotiveerd was, in hegtenis geneem.

Mcako is in November 2019 in sy taverne, die Happy Rest Tavern, in Mengostraat, Kayamandi, geskiet. Hy is twee dae later in die hospitaal dood. 

beskuldigdes
Die drie beskuldigdes: Nyaniso en Unathi Jindela en Gladstone Relegu. Foto: Breyten Kupido/Eikestadnuus

Hy en ’n vriend het agter die toonbank gestaan toe ’n man na hom gestap en twee keer op hom geskiet het. 

Dit het Donderdag in die hof bekend geword dat sy seun ook verskeie kere geskiet en in die arm gewond is. Hy wil nie geïdentifiseer word nie.

Volgens Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder, word die aanklagte teen Jingela in ’n baie ernstige lig beskou. 

“Die aangeleentheid is deur die munisipale bestuurder na die kantoor van die speaker verwys en dit sal hanteer word ingevolge bylae 1 van die Wet op Munisipale Stelsels: Gedragskode vir Raadslede.”

Grobbelaar sê die polisie moet nou kans kry om die voorval deeglik te ondersoek sodat geregtigheid geskied. 

Nyaniso Jindela
Nyaniso Jindela, onderburgemeester van Stellenbosch. Foto: Stellenbosch-munisipaliteit

Die voorsitter van die DA se Wes-streek sê ’n prokureursbrief is aan Jindela gestuur waarin hy gevra word om redes te verskaf hoekom hy nie geskors moet word nie. Hy het 48 uur om daarop te reageer. 

Sy reaksie sal dan op ’n vergadering van die DA se provinsiale uitvoerende bestuur bespreek word, waar bepaal sal word of hy moet terugstaan of nie.

Die saak teen Sibonge, wat reeds verlede jaar in hegtenis geneem is, is reeds na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas. 

Hy sal weer op 11 Junie saam met die Jindela-egpaar en Relegu in dié hof verskyn.

Dié borgtog

Borgtog is toegestaan met streng voorwaardes. Dit sluit in huisarres vir al die beskuldigdes. Die huisarres word opgeskort as hulle mediese hulp moet kry.

Indien hulle om mediese redes die huis wil verlaat, moet hulle die ondersoekbeampte in kennis stel, tensy dit ’n noodgeval is.

“Dit word ook op Sondae opgeskort wanneer die onderburgemeester en sy vrou kerk moet bywoon en wanneer hulle moet gaan werk,” sê Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag.

“Hulle mag nie woonadresse verander sonder om ’n skriftelike kennisgewing aan die ondersoekbeampte te gee nie, hulle mag nie met getuies inmeng nie, hulle moet hul reisdokumente oorhandig, hul mag nie 500 m van ’n landgrens af wees nie, hulle mag nie die Wes-Kaap verlaat sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel nie en moet hulself Maandae en Vrydae tussen 08:00 en 20:00 by die polisie in Stellenbosch aanmeld.”

Meer oor:  Unathi  |  Moord  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.