SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Hof
Moord op Siemens ‘haarfyn beplan’
Stanley Kibi Bakili Foto: Mlungisi Louw

Die sluipmoord op Louis Siemens (52), besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in Bloemfontein, was afskuwelik en wreed, het regter Celéste Reinders in die hooggeregshof in Bloemfontein gesê.

“Hy was ’n mediese dokter in die fleur van sy lewe en met sy dood het al die kennis wat hy gehad het, verlore gegaan.”

Sy het Xolisile Mbebeto (38) tot altesaam 35 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van moord met voorbedagte rade en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Hy is effektief 22 jaar tronk toe gestuur omdat hy van die vonnisse gelyklopend sal uitdien.

Uit Mbebeto se pleitverduideliking is dit duidelik dat die moord op 10 Mei vanjaar in die kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum in Bloemfontein haarfyn beplan is.

Die vermeende baasbrein, Kibi Stanley Bakili (37), het seker gemaak die huurmoordenaar, Mbebeto, het presies geweet hoe en wanneer om Siemens te vermoor.

Bakili het twee dae voor die moord vir Mbebeto na Siemens se werkplek in Prellerplein gebring.

Op die dag van die moord het Bakili die wegkom-motor vir Mbebeto gegee, maar omdat hy nie kon bestuur nie, het hy sy vriend, Jali, gekry om die motorbestuurder te wees.

Louis Siemens

Dié twee het die voertuig in die kelderverdieping van die gebou beskadig voordat Mbebeto Siemens doodgeskiet het.

Ná die moord is hulle na Bakili se huis in die Lilyvale-landgoed in Bloemfontein en daarna na die Windmill Casino waar Mbebeto sy betaling sou ontvang. Bakili het hulle daar afgelaai en ’n sleutel vir ’n kamer in die hotel vir hulle gegee. Hulle het niks weer van hom of hul geld gehoor nie.

Mbebeto, wat vantevore in die tronk was, het Bakili ontmoet toe hy Mbebeto se selmaat in die tronk besoek het, lui sy pleitverduideliking.

Daarna het hy hom in Maart vanjaar weer raakgeloop en hulle het drankies gedrink. Bakili het daarvoor betaal. Hulle het selfoonnommers uitgeruil.

Die volgende Maandag het Bakili hom gevra om ’n vrou wat ’n getuie in ’n bedrogverhoor teen hom is, tereg te stel.

Mbebeto het kop uitgetrek toe die vrou agtergekom het hy agtervolg haar.

Bakili het daarna gesê hy het ’n groter werk vir hom. Dit was die moord op Siemens.

* Mbebeto, met ’n kaalgeskeerde kop, het ooglopend baie pyn verduur toe hy op krukke by die beskuldigdebank ingestap het. Sy gesig het telkens van pyn vertrek.

Hy is sowat vier maande gelede in Kimberley raakgery. Die motor wat hom getref het waar hy langs ’n ander motor gestaan het, het weggejaag.

* Omdat vir Mbebeto se veiligheid gevrees word, is ’n bevel verlede maand in die landdroshof in Bloemfontein uitgereik dat geen foto’s van hom gepubliseer mag word nie en ook nie bekend gemaak mag word waar hy aangehou word nie.

Meer oor:  Xolisile Mbebeto  |  Louis Siemens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.