Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moord op Tanya Wiers ‘wreedste in jare’

Die moord op Tanya Wiers (44) van Polokwane is een van die wreedste moorde wat die afgelope paar jaar in die hoofstad van Limpopo gepleeg is.

“Dit is moeilik om ’n mens in te dink waardeur sy moes gaan terwyl sy in haar eie huis verkrag en vermoor is," het adv. David Sebelebele, staatsaanklaer, Maandagoggend in die hooggeregshof in Polokwane gesê.

Tanya Wiers, 'n ma van drie, is meer as 30 keer met 'n steakmes en skêr doodgesteek. Foto: Verskaf
Tanya Wiers het hierdie foto van haarself geneem enkele ure voordat sy in 2017 in Polokwane vermoor is. Foto: Verskaf

Hy het betoë ter strafverswaring gelewer in die vonnisverrigtinge van Frans Maela (28), wat Vrydag skuldig bevind is aan die moord op en verkragting van Wiers.

Maela is ook skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede.

Sebelebele het na Maela se dade as “duiwels” verwys. “Mev. Wiers is erg gemartel voordat sy dood is. Haar oë is uitgekerf. Maela het harteloos opgetree.”

Luidens die staatspatoloog se lykskouingsverslag is Wiers meer as 30 keer eers met ’n skêr en toe met ’n steakmes in Februarie 2017 in haar huis gesteek.

Wiers se oudste seun, Rolf jr. (18), was 16 jaar oud toe hy ná skool op sy ma se halfnaakte en bebloede lyk in die gesin se huis in Eduanpark afgekom het.

Wiers se ouers, Linda en Gé Geyer van Pretoria, was Maandag weer in die hof om Maela se vonnis aan te hoor. Die moord op hul dogter het hulle so erg geraak dat hulle vir sielkundige berading moes gaan.

Gé het Maandag nie ’n woord gepraat nie en stil vooroor gebuk in die hofbank gesit terwyl hy moes hoor hoe sy enigste dogter vermoor is.

Frans Maela (28) het Tanya Wiers verkrag, vermoor en beroof. Foto: Verskaf

Sebelebele het die hof gevra dat Maela tot lewenslange tronkstraf gevonnis word weens die moord op en verkragting van Wiers. Hy het ook vir die maksimum vonnis weens roof met verswarende omstandighede gevra.

William Kovani, Maela se prokureur, het aan die hof gesê Maela is sy gesin se enigste broodwinner en het ’n minderjarige kind. Hy het aangevoer dat Maela gerehabiliteer kan word en ’n bydrae tot die samelewing kan lewer.

Kovani het die hof om genade vir sy kliënt gevra.

Regter Gerrit Muller het aan Kovani gesê Maela het nooit enige berou getoon of vir die familie om verskoning gevra nie. Kovani het gesê Maela ontken steeds dat hy Wiers verkrag, beroof en vermoor het, en dit is hoekom hy nie jammer sê nie.

Muller sal Maela om 14:00 vonnis.

Meer oor:  Frans Maela  |  Tanya Wiers  |  Polokwane  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.