Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moord-pa: ‘Ek slaap elke nag goed, my gewete pla nie’
Liam Nortjé
Liam Nortjé Foto: Argief

Die vermoorde peuter Liam Nortjé (2) se pa, Nantes (48), sê hy is spyt hy het nie sy kinders anders grootgemaak nie.

“Ek sou party dinge anders gedoen het, maar ek is nie spyt oor Liam nie. Cheinelle (sy gewese vrou en Liam se ma) was nie ’n goeie ma nie,” het Nortjé Donderdag aan Netwerk24 gesê terwyl hy gewag het dat hofverrigtinge begin.

Hy sou Donderdag in die rondgaande hof op Harrismith gevonnis word nadat regter Corné van Zyl hom Dinsdag skuldig bevind het aan moord op Liam. Twee kragkabels het egter in die nag op die dorp uitgebrand. Omdat geen klankopnames van die hofverrigtinge gemaak kan word nie, het Van Zyl die verhoor vir vonnisoplegging na Bloemfontein verskuif.

Nortjé word nou Vrydag gevonnis.

Nantes Nortjé Donderdag op Harrismith in die rondgaande hof.Foto: Alet van der Walt

Nortjé hou vol dat hy Liam vir ’n kinderlose egpaar gegee het en dat hy nog leef, maar in die buiteland is. Nortjé sê hy slaap elke nag 12 uur lank; sy gewete pla hom nie oor Liam nie.

Hy is ook skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en een van gewone aanranding op sy gewese vrou en hul twee volwasse dogters.

Liam het in November 2017 verdwyn terwyl hy in Nortjé se sorg was.

Liam het gedurende die week by Nortjé op Kestell gebly en naweke by Cheinelle (43) op Harrismith.

Die egpaar was 23 jaar lank getroud voordat hul huwelik op die rotse beland het.

Nortjé is in Julie 2018 in Ladysmith in hegtenis geneem nadat hy die polisie maande lank ontduik het. Hy is sedertdien in aanhouding.

Niemand het Liam ooit weer gesien nadat hy en die kind uit Kestell verdwyn het nie.

Cheinelle sê sy en hul twee dogters het tyd nodig om die trauma te verwerk.

Liam se lyk is nooit gevind nie.

Adv. Amanda Bester het aangekla en Peter van der Merwe het namens Nortjé opgetree.


Meer oor:  Liam Nortjé  |  Nantes Nortjé  |  Beurtkrag  |  Vonnisoplegging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.