Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moordbeskuldigde dreig, vloek beampte in hof

“Ek gaan jou bl*ks*m . . .”

Vermoor: Koos van der Leeuw. Foto: Verskaf

Bibi Ngcamphalala, een van die Potchefstroomse boer Koos van der Leeuw se vermeende moordenaars, het die ondersoekbeampte in die saak Donderdag dié woorde in Afrikaans in die rondgaande hof in die stad toegesnou.

Dit het ten aanskoue van talle mense in die hof gebeur net nadat Ngcamphalala die getuiebank verlaat en na die beskuldigdebank teruggestap het. Terwyl die hof nog in sitting was, het hy oor die houtreling geleun, ’n dreigende houding teenoor ao. Bonita Dry ingeneem en haar gevloek. Regter Steph Bezuidenhout het nie gesien wat gebeur nie omdat Ngcamphalala se rug na hom gekeer was en Ngcamphalala sag gepraat het. Toe die hof kort hierna verdaag, het ’n polisielid en adv. Stranger Matlapeng, Ngcamphalala se regsverteenwoordiger, hom gemaan om homself in toom te hou.

Ngcamphalala se uitbarsting het gekom nadat adv. Kobus Jacobs, vir die staat, hom tydens kruisondervraging in ’n hoek gedryf het oor onder meer selfoonrekords wat hom met die saak verbind. Ngcamphalala word saam met Idah Lebaka, Samuel Motsi en Tefo Mohua verhoor weens die moord op Van der Leeuw (68).

Hy is doodgeskiet in ’n rooftog by die Potchefstroomse slagplaas in Augustus 2015, waartydens sowat R77 000 gebuit is. Die vier ontken almal skuld op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

’n Polisielid vermaan Bibi Ngcamphalala Donderdag in die rondgaande hof in Potchefstroom nadat hy die ondersoekbeampte in die Van der Leeuw-moordsaak gedreig en gevloek het. Foto: Susan Cilliers
Ao. Bonita Dry, ondersoekbeampte in die Van der Leeuw-moordsaak, roep Donderdag Bibi Ngcamphalala (links) se regsverteenwoordiger om hom in te lig dat Ngcamphalala haar kort tevore gevloek en gedreig het. Foto: Susan Cilliers

Ngcamphalala se uitwysings waartydens hy aanvanklik betrokkenheid by die rooftog erken het, is ná ’n binneverhoor toegelaat as getuienis in die hof. Hy ontken nou betrokkenheid en sê hy het dit bloot vroeër erken om sy lewe te beskerm nadat die polisie hom glo aangerand en met die dood gedreig het.

Ngcamphalala het Donderdag getuig hy was die dag van die rooftog nie eens naby Potchefstroom nie, maar by sy woonplek in Palm Springs in Gauteng. Jacobs wou weet hoekom sy selfoonrekords dan wys hy was verskeie kere in Potchefstroom tydens beplanningsvergaderings vóór die rooftog en ook in die stad tydens die rooftog.

“Ek stem nie saam met die rekords nie, my (ander) foon bewys ek was in Palm Springs,” het Ngcamphalala geantwoord.

“Hoekom het jy dit dan nooit tydens Dry se getuienis aan haar gestel nie?” wou Jacobs weet. “Die bewyse teen jou is oorweldigend.”

Dit was kort hierna wat Ngcamphalala Dry gedreig en gevloek het.

Ngcamphalala het kort ná sy inhegtenisneming sowat twee weke ná die aanval in ’n beëdigde verklaring van etlike bladsye lank in fyn besonderhede aan die polisie beskryf hoe hy betrokke was by die rooftog. Daarin erken hy onder meer hy was vooraf in Potchefstroom vir beplanningsvergaderings én die dag van die rooftog. Ngcamphalala beskryf ook hoe die rowers ná die aanval in twee wegkommotors met ’n ompad deur Klerksdorp na Johannesburg gevlug het, en hul gewonde makker by ’n rivier naby Johannesburg afgelaai het nadat hy in een van die voertuie dood is. Van der Leeuw het hom tydens die rooftog geskiet.

Bibi Ngcamphalala (links) en Idah Lebaka, twee van die vier beskuldigdes in die Van der Leeuw-moordsaak, Donderdag in die rondgaande hof in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers
Samuel Motsi wat ten tyde van die rooftog by die slagplaas in Potchefstroom gewerk het, Donderdag in die rondgaande hof in Potchefstroom. Hy word daarvan verdink dat hy die rooftog help orkestreer het. Foto: Susan Cilliers

In sy verklaring noem Ngcamphalala voorts dat hulle elkeen R7 000 van die buit gekry het. Staatsadvokaat Jacobs het hom gepols oor hoe hy al dié besonderhede weet indien hy geensins betrokke was nie.

Jacobs wou ook weet hoe Ngcamphalala geweet het om die polisie na Mohua se karwasplek in Soweto te neem en hom uit te wys as een van die betrokkenes, terwyl die polisie nog nie eens van Mohua geweet het nie. “Ek was net soontoe om die eienaar in te lig ek is in hegtenis geneem, sou daar enigiets met my gebeur (in die lig van die beweerde aanrandings),” was Ngcamphalala se verduideliking.

Die verhoor het vandeesweek voortgegaan in die afwesigheid van Mohua, nadat sy regsverteenwoordiger ’n siekbrief ingehandig het. Die verhoor duur Vrydag voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.