Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moordenaar help dae lank na ‘vermiste’ vrou soek

Vir vyf dae het Karabo Mabuse die polisie en familielede “help soek” na sy vermiste vrou – wetend dat hy haar vermoor en haar lyk versteek het.

Dit was eers nadat hy by ’n geestelike leier gaan bieg het, wat die polisie Lesego se lyk in die veld naby die Hartbeespoortdam-/Britspad gevind het.

Dié pa van twee kinders van vier en sewe jaar het onlangs in die streekhof in Pretoria-Noord skuld op aanklagte van moord en regsverydeling beken.

As ek haar daaroor konfronteer, sou sy net glimlag en vra wat sou ek doen as ek uitvind dat ek nié die biologiese pa van my sewejarige seun is nie.

Landdros Pieter Nel het dié eerste oortreder tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis en bygevoeg: “Met een handeling het twee kinders albei hul ouers verloor”.

Mabuse, wie se gesondheid so sleg is dat hy verskeie kere om mediese redes nie die hofverrigtinge kon bywoon nie, was tydens vonnisoplegging so swak dat hy met ’n loopring vanuit die aanhoudingsel die hof ingekom het.

Hy het in sy pleitverduideliking gesê hy en sy vrou het verlede jaar huweliksprobleme begin ondervind. Volgens hom het sy ’n buite-egtelike verhouding gehad.

“As ek haar daaroor konfronteer, sou sy net glimlag en vra wat sou ek doen as ek uitvind dat ek nié die biologiese pa van my sewejarige seun is nie.

“As ek haar vra om te verduidelik, sou sy weier,” het Mabuse gesê.

Op 4 Januarie die jaar het die egpaar na die omgewing van Hartbeespoortdam gery. Tydens die rit het die beskuldigde Lesego weer gekonfronteer.

“Wéér het sy geweier om te antwoord en net geglimlag. Ek het so kwaad geword, dat ek my pistool uitgehaal en haar geskiet het. Ek weet nie hoeveel keer nie. Ek weet dit was meer as een keer.

“Toe ek besef my vrou is dood, het ek die kar gestop en haar liggaam in die gras, waar dit nie maklik sigbaar was nie, gegooi en huis toe na my kinders gegaan,” het Mabuse verduidelik.

Op 5 Januarie het hy vroeg opgestaan om die bloed van die voorste passasiersitplek af te was. Toe het hy sy werk gebel om te sê hy kan nie inkom nie weens ’n persoonlike probleem.

“Ek en my kinders is na ’n tannie van die oorledene, waar ek spesifiek gevra het of sy weet waar die oorledene is.”

Toe die tannie nie kon help nie, het hy die kinders daar gelos en sy vrou by die polisie as vermis aangemeld. Hy het tot ’n foto van haar verskaf.

Hy en die polisie is na verskeie kennisse en familielede van Lesego, selfs na haar werk, op soek na haar.

“Ons het haar nie gevind nie,” het Mabuse bygevoeg.

Lesego se erg ontbinde lyk is eers op 9 Januarie gevind, nadat haar man gaan bieg en die polisie ingelig is.

Hanlie du Preez, staatsaanklaer, het voor vonnisoplegging betoog hoe ironies dit is dat dié saak in Vrouemaand aangehoor word.

“Dit is ’n tyd van bewusmaking van vroueregte. Dit is hartseer dat hierdie misdrywe gepleeg is in ’n intieme situasie waar ’n vrou moet veilig voel,” het sy gesê.

Du Preez het ook verwys na slagofferimpakverslae wat breedvoerig vertel van die trauma en invloed van die moord op Lesego se familie.

Meer oor:  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.