Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moordenaar swaar gestraf vir moord op boere-egpaar

’n Bouer wat ’n boere-egpaar van Vanstadensrus in die Vrystaat met kopskote tereggestel het terwyl hulle op stoele vasgebind was, is in die hooggeregshof in Bloemfontein tot twee lewenslange vonnisse en 32 jaar tronkstraf gevonnis.

Thabo Bruwer (links) en Jasper Coetzee by die Vrystaatse hooggeregshof nadat die moordenaar van Bruwer se pa en Coetzee se ma gevonnis is. Foto: Mike van Rooyen

Tsediso “Pina” Motankoba (27) is ’n gevaar vir die samelewing en moet daaruit verwyder word, het waarnemende regter Marina Voges gesê voordat sy hom gevonnis het.

Sy het sy dade op 25 Junie verlede jaar toe hy Choppie (78) en Marian (67) Bruwer op hul plaas Florida beroof en vermoor het, as boosaardig beskryf.

Nie lank voor die vonnisoplegging nie het hul seuns uit vorige huwelike, Thabo Bruwer en Jasper Coetzee, gesukkel om die snikke terug te hou terwyl hulle oor hul pa en ma getuig het en oor hoe die moorde hul lewe geraak het.

“My pa was my sielsgenoot. Ek en hy het 25 jaar lank saamgewoon, gekuier en motorfiets gery.

“Hy was ’n streng man met ’n sagte hart. Hy het mense gehelp waar hy kon. My ma het altyd gesê hy is Vader Krismis, hy kan nie nee sê nie,” het Bruwer, wat nou in Zastron woon, getuig.

Coetzee, van die Paarl, het getuig die moorde was enkele weke voor sy ma en Choppie se tweede huweliksherdenking.

“Sy het só geseënd saam met hom gevoel. Hulle het verdien om in hul laaste jare gelukkig te wees. En hulle was, totdat dit van hulle gesteel is.”

Voges het ook in haar vonnisoplegging gesê Motankoba en sy makker, Motlatsi Motsetse, het die lewe van twee mense wat nog goeie jare voor hulle gehad het, beëindig.

Tsediso Motankoba nadat hy Donderdag twee keer lewenslange vonnisse vir twee moorde en 32 jaar tronkstraf vir huisbraak, roof en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie opgelê is. Foto: Mike van Rooyen

Sy het gesê Motankoba het uit gierigheid by die Bruwers se plaashuis ingebreek en die egpaar aangerand.

Hy en Motsetse het op Bruwer getrap terwyl hy op die vloer gelê het, en sy vrou in die been geskiet waar sy ’n ruk lank in pyn vasgebind op ’n stoel gelaat is.

Die egpaar is met minagting en sonder respek op ’n wrede wyse in hul eie huis behandel.

Advv. Moipone Moroka en Soul Khetsi het aangekla. Adv. Agente Motake het vir Motankoba opgetree.

* Motsetse (19) is reeds in April vanjaar tot 64 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuld op die vyf aanklagte beken het. Hy dien effektief 20 jaar tronkstraf uit.

Meer oor:  Choppie Bruwer  |  Marian Bruwer  |  Plaasmoord  |  Moord  |  Boer  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.