Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moordenaar vra familie vergifnis
Inlas: Luresha Govender. Hooffoto: Anthony Strauss nadat hy sy brief in die getuiebank aan sy slagoffer, Luresha Govender, se familie voorgelees het. Foto: Simone Kley

“Ek sal dié kruis vir die res van my lewe dra . . . Vergewe my asseblief,” het Anthony Strauss (39) sy moordslagoffer, Luresha Govender (36), se familie gevra.

Die Govender-familie het Woensdagoggend in swart T-hemde met #JusticeForLuresha daarop die Randburgse landdroshof ingestap met die verwagting dat Luresha se moordenaar swaar gestraf sou word.

Strauss se advokaat het egter onverwags ’n brief aan die hof gegee wat hy blykbaar ’n week ná sy inhegtenisneming aan die familie geskryf het.

Strauss het die brief met bewerige hande in die getuiebank voorgelees. “Ek verstaan julle het baie pyn. Ek het nie beplan om dit te doen nie. Dit is iets wat net gebeur het. Ek verwag nie dat julle my vergewe nie. Ek is baie jammer.”

Dit is te laat, het ’n paar familielede gesê.

Strauss se regspan het die brief tot nou stil gehou omdat dit in Ja-nuarie, toe hy dit geskryf het, “te gou was en net genesende wonde sou oopkrap”.

Strauss is verlede maand skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede. Hy het Govender op 30 Desember 2014 met ’n elektriese verlengkoord verwurg en haar motor gesteel.

Nazeem Abrahams, ’n verslawingspesialis, het Woensdag oor Strauss se geestestoestand getuig.

Luidens sy verslag het tien jaar se dwelmmisbruik groot skade aangerig. Hy het aan die hof verduidelik al het Strauss nie op die dag van die moord op Govender dwelms gevat nie, was dit klaar in sy stelsel.

“Dit gaan lê in jou vet en wanneer dit verbrand word, kom jy nie eens agter wat jy doen nie.

“Hy is nie net ’n bedreiging vir die samelewing nie, maar ook vir homself,” het Abrahams gesê.

Strauss het aan die hof gesê hy wil gedurende sy tronkstraf teologie studeer en sport speel om hom van die dwelms af weg te hou.

Die vonnisverrigtinge is uitgestel tot 9 Desember omdat daar geen water in die landdroskantoor was nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.