Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Moordenaar’ weet nie hoe bloed op sy broek beland

Kevin Johnson kon nie Vrydag verduidelik hoe Danie Dreyer se bloed op sy broek gekom het, of hoekom sy getuienis in die hooggeregshof in Pretoria drasties van sy verklaring aan die polisie verskil nie.

Hy het in die hof ontken dat hy, Gerhard Papenfus en Ruvan Furst vir Dreyer (63) vermoor het.

Hulle word aangekla van die moord in Maart 2016, roof met verswarende omstandighede, regsverydeling, brandstigting en die besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Estelle Reddy, Papenfus se voormalige meisie wat saam met Dreyer gewoon en gewerk het, het skuld beken en dien reeds tronkstraf uit.

Estelle Reddy, Gerhard Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Furst in 2016 in die landdroshof kort ná hul inhegtenisneming. Foto: Theana Breugem

Johnson kon in kruisondervraging nie verklaar hoekom hy ná sy inhegtenisneming op 6 April daardie jaar in ’n polisieverklaring vertel het hoe hy en Furst vir Dreyer vasgehou het terwyl Papenfus hom “herhaaldelik” met ’n bronspot geslaan het nie.

Adv. Arno Rossouw, aanklaer, het Vrydag na getuienis verwys dat Johnson se DNS, sowel as die oorledene se bloed, op ’n langbroek gekry is.

Johnson het nie daarvan geweet nie. Sy weergawe was dat hy gedink het hy en Furst sou die Maandagoggend voor sonop saam met Papenfus na iemand se huis gaan om dwelms te gebruik.

Volgens Johnson was hy nog in die kombuis besig om “dwelm-lyne te sny”, toe hy sien hoe ’n man uit ’n slaapkamer kom en Papenfus hom terugdruk. Hy het iemand hoor skree en gesien Papenfus staan met ’n bronspot in die hande.

Daar was net ’n “klein dammetjie bloed” op die mat en Papenfus het noodhulp op die man toegepas.

Die man was egter dood en hulle het die lyk onder die bed versteek. Hulle het dit later met Reddy se hulp in ’n mangat gegooi.

Toe Rossouw Vrydag uitwys dat Johnson se getuienis verskil van die verklaring wat hy destyds aan die polisie gedoen het, het hy geantwoord: “Ek getuig die waarheid wat ék ken.”

Die aanklaer het uit die verklaring voorgelees waarin Johnson vertel het hoe die drie mans by die slapende Dreyer se kamer ingegaan het. “Die ou toppie het wakker geword. Gerhard het gesê ons moet hom vashou. Ek en Ruvan het dit gedoen. Gerhard vat die speakerkabels en bind die ou toppie se hande en voete vas en sit ’n kussingsloop oor sy gesig.

“Die ou toppie het begin skree. Ruvan druk die ou toppie se mond toe en die ou toppie byt Ruvan se hand stukkend. Gerhard vat ’n brass pot en slaan die ou toppie oor die kop. Hy het hom aanmekaar bly slaan.”

Johnson het die inhoud van die verklaring ontken.

Die saak gaan aanstaande week voort.

  • Furst is saam met die beskuldigdes aangekla, maar die verhore is vroeër geskei weens sy swak gesondheid.
Meer oor:  Gerhard Papenfus  |  Kevin Johnson  |  Estelle Reddy  |  Moordenaar  |  Bloed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.