Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moordsaak teen Packham uitgestel oor geldtekort

’n Tekort aan geld en ’n beskikbare advokaat is die rede waarom Rob Packham se saak vir ’n tweede voorverhoor tot einde November uitgestel is.

Hy staan tereg op aanklag van moord en regsverydeling nadat sy vrou, Gill, se verkoolde lyk in haar uitgebrande motor gevind is.

Adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, het regter Mushtak Parker versoek om die saak met ’n maand uit te stel omdat Packham se opdraggewende prokureur, Ben Mathewson, ’n advokaat moet aanstel om Packham te verteenwoordig.

Rob Packham (regs) en sy prokureur Ben Mathewson. Foto: Adrian de Kock

Mathewson het dit bevestig en gesê hulle het al die besonderhede van die saak van die staat ontvang.

“Ek moet ’n advokaat vind wat beskikbaar is vir die verhoor, wat voorlopig op 4 Februarie moet begin.”

Parker het gevra of adv. Pieter Botha, wat Packham in sy tweede borgtogverhoor verteenwoordig het, nie aangestel is nie. Mathewson het gesê Botha “kan en is bereid” om die saak te hanteer, maar hy moet eers die tye van die verhoor bevestig.

Parker het ook vir Mathewson gevra of daar finansiële probleme is. Mathewson het dit bevestig.

Parker het Galloway se versoek toegestaan en Packham gewaarsku dat hy sy volle samewerking aan sy prokureur moet gee.

“Jou prokureur moet eers jou finansiële instruksies hanteer en dan kyk wie beskikbaar is om die saak aan te pak.”

Die staat voer aan Packham het sy vrou op 22 Februarie vanjaar in hul huis in Rieslingweg, Constantia, aangerand. Sy is met ’n stomp voorwerp teen die kop geslaan en is weens dié besering dood. Sy is ook op ander maniere aangerand. Haar gedeeltelik verkoolde lyk is dieselfde aand in die kattebak van haar uitgebrande groen BMW agter die Dieprivier-stasie gevind.

Volgens die staat was Gill reeds dood toe die voertuig aan die brand gesteek is. Packham is glo gesien waar hy in ’n ander voertuig van die toneel af weggery het. Die staat beweer die Packham-egpaar het in die maande voor Gill se dood huweliksprobleme gehad. Gill is op 22 Februarie as vermis aangemeld nadat sy nie by haar werk as administratiewe beampte by die Springfield Convent in Wynberg opgedaag het nie.

Packham is op 20 September in hegtenis geneem nadat hy sy borgtogvoorwaardes verbreek het. Hy het kontak gemaak met van die staatsgetuies, onder wie die vrou met wie hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Hy is weer op borgtog vrygelaat, maar die borggeld is met R25 000 tot R75 000 verhoog. Hy mag ook geen elektroniese toestelle in sy besit hê nie en is onder huisarres geplaas.


Meer oor:  Rob Packham  |  Uitgestel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.