SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Hof
‘Moordspan’ stap doodluiters uit ná kopskote

’n Huurmoordenaar het vir Yawei Wu in die hoek van sy kantoor laat kniel, die pistool op hom gerig en die 54-jarige winkeleienaar drie keer in die kop geskiet.

Toe stap die skieter en sy drie makkers doodluiters by die Ceramic Wholesaler in Wonderboom-Suid, Pretoria, uit – soos ’n “goed-geoliede moordspan”.

Wu is op Donderdag 26 Julie om 15:20 vermoor.

Die gru-detail is vasgevang op kringtelevisiekameras in die dubbelverdieping-teëlwinkel.

Yawei Wu (54) wat in Julie in sy kantoor vermoor is.

Nou het Wu se familie nie net die polisie nie, maar ook vir Mike Bolhuis van Specialised Security Services by die ondersoek betrek én ’n beloning van R50 000 uitgereik vir inligting wat sal lei tot inhegtenisnames en suksesvolle vervolging.

Bolhuis sê dit is duidelik aan die vier aanvallers se liggaamstaal op die beeldmateriaal dat dié nie hul eerste huurmoord was nie.

“Hulle was baie blatant. Geen handskoene, geen vrees vir die veiligheidskameras nie en hulle het presies geweet waar om te gaan. Hulle het nie eens senuagtig of gejaagd voorgekom nie,” sê hy.

Die vier het by die winkel ingestap en werknemers met vuurwapens gedreig.

Toe het hulle een vroulike werknemer, pistool teen die kop, die trappe opgedwing.

Konst. Mandla Zwane, polisiewoordvoerder, het vroeër aan Ischke de Jager gesê die vrou is gedwing om die biometriese stelsel met haar vinger te aktiveer om toegang tot Wu se kantoor te kry.

“Een van die moordenaars het die mense op die onderste vloer aangehou, terwyl die drie ander die kantoor in is. Mnr. Wu is koelbloedig geskiet en toe stap hulle doodluiters uit, so asof dit vir hulle ’n walk in the park was.

Een van die mans wat moontlik met die huurmoord verbind kan word.
’n Identikit van een van die vermeende verdagtes.
Die polisie en Specialised Security Services is ook op soek na dié man.

“Niks is geroof nie, behalwe sy skootrekenaar en iPhone. Die aanvallers het buite die winkel ’n vrou se karsleutels by haar gevat en met haar voertuig weggery.

“Die voertuig is nie ver daarvandaan gelaat nie. Die rekenaar en foon is in ’n kroeg, net ’n paar honderd meter van die toneel af, in ’n badkamer gelos,” het Bolhuis vertel.

Verskeie motiewe word ondersoek, maar diefstal en roof is reeds uitgesluit.

Bolhuis en ander bronne kyk na verskeie moontlikhede soos die betrokkenheid van die Chinese Mafia, ’n moontlike sakedispuut of “sakewedywering” vir die onderneming wat reeds sedert 1994 bestaan.

Wu se familie en sekere personeellede is intussen onder beskerming geplaas.

Die polisie het ook identikits uitgereik van drie van die verdagtes wat moontlik by die voorval betrokke was.

  • Mense met inligting kan die Wonderboompoortpolisiekantoor by 012 335 2812 bel of die ondersoekbeampte, speurkonst. Lebogang Raleteng, by 065 908 0642. Bolhuis se nommer is 082 447 6116 of snr. ondersoeker oud-kolonel Vince Harris by 082 673 1830.
Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Huurmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.