Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moordverdagte wil nie vingerafdrukke gee
Justice Sethlangu (37) met ’n vorige hofverskyning. Foto: Christiaan du Plessis
Mariandra Heunis het verlede jaar vir die staat getuig in die moordverhoor van Justice Sethlangu.Foto: Isabel Venter

’n Moordverdagte wie se vingerafdrukke op minstens twee ander misdaadtonele gevind is, het Dinsdag geweier dat die polisie sy vingerafdrukke in die hof neem.

Justice Sethlangu (37), een van die verdagtes in die moord op Johann Heunis wat op 1 Oktober 2016 voor sy vrou en dogtertjie doodgeskiet is, het in die hooggeregshof in Pretoria verskyn.

Hy het hom hewig verset toe die polisie sy vingerafdrukke wou neem vir verifikasie-doeleindes.

Adv. Josie van der Westhuysen, staatsaanklaer, het in die hof gesê dit is standaardpraktyk vir die polisie om ’n tweede stel vingerafdrukke van ’n beskuldigde by die hof te neem ten einde te verseker dat die regte beskuldigde in die hof is.

Regter William Letsoalo het Sethlangu beveel om sy samewerking te gee. Sy vingerafdrukke is toe geneem terwyl die hof tydelik verdaag het.

Die polisie het getuig Sethlangu se vingerafdrukke is op minstens twee misdaadtonele gevind; ná die rooftog by die huis van dr. Marti Koen van Kameeldrif op 21 Junie 2016, en ná die rooftog op 29 Julie 2016 by die huis van Stephanus Louwrens (70) en Maria Beets (68) in Kameeldrif.

Konst. Kganyago Mmakgowa het Dinsdag getuig Sethlangu se afdrukke is gevind op ’n kristalbakkie vir juwele en ’n houertjie skoenpolitoer in Louwrens en Beets se slaapkamer.

Justice Sethlangu (37) steek Dinsdag sy gesig weg vir die kamera met sy verskyning in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Isabel Venter

Louwrens het Dinsdag getuig dat hy en Beets deur vyf aanvallers, “waarvan minstens drie gewapen was”, aangehou en vasgebind is.

Hy sal nie sy aanvallers kan uitken nie.

“Ek ken hom (Sethlangu) nie en daar is geen rede hoegenaamd vir sy vingerafdrukke om in my huis te gewees het nie,” het Louwrens gesê.

Mariandra en Johann Heunis.Foto: Verskaf

Hy het ná die aanval sy huis verkoop en verhuis. Beets ervaar steeds erge angs ná die aanval.

Koen, wat sowat ’n maand vroeër aangeval is, is ook vasgebind en beroof. ’n Vuurwapen is op haar gerig.

Die polisie het Sethlangu se regterduimafdruk op ’n glasdeur gevind, maar is onkant gevang toe dit drasties verskil het van die afdruk ná sy arrestasie. Volgens die polisie het dit gelyk of die vel afgesny is. Ten spyte hiervan kon die polisie wel bevestig dat die afdrukke ooreenstem.

Koen, asook Heunis se vrou, Mariandra, het Sethlangu byna dadelik in ’n polisie-uitkenningsparade uitgeken.

’n Emosionele Mariandra het verlede jaar in die hof getuig sy het Sethlangu dadelik herken “omdat sy nooit sy gesig sal kan vergeet nie”.

Sy het getuig Sethlangu was een van die ongewapende aanvallers, maar dat hy aan sy gewapende makker gesê het “just kill him”, voordat dié gehoor gegee en Heunis in die kop geskiet het.

Heunis was toe al swaar gewond. Die gewapende man het sewe skote geskiet wat sy dogtertjie (toe vier jaar oud) rakelings gemis het.

Sethlangu is op 5 Julie 2017 by sy huis in Mamelodi in hegtenis geneem nadat die polisie inligting van ’n informant gekry het. Die ander verdagtes is nog op vrye voet.

Sethlangu se verhoor hervat Woensdag.

Meer oor:  Johann Heunis  |  Justice Sethlangu  |  Hofsaak  |  Moordverdagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.