Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Motorfietsryer mag eis nadat hy slaggat tref

’n Motorfietsryer wat ernstige beserings opgedoen het toe hy ’n slaggat in ’n teerpad getref het, mag voortgaan met sy eis van R613 571 teen Mpumalanga se LUR vir openbare werke, paaie en vervoer.

Die hooggeregshof in Pretoria het Hennie Grundlingh Maandag verskoon omdat hy nie betyds kennis gegee het dat hy skadevergoeding van Dikeledi Mahlangu, die LUR, wil eis nie.

Volgens sy hofstukke is Grundlingh (44), van Lydenburg, Mpumalanga, beseer toe hy en sy vriendin in Augustus 2012 op die R536-pad naby Hazyview die slaggat getref het. Albei het van die motorfiets afgeval.

Juan Terblanche van Pieter Nel-prokureurs in Nelspruit, wat namens Grundlingh optree, sê die vriendin is “aansienlik erger beseer”. Sy het ’n eis by die Padongelukkefonds ingedien.

Grundlingh beweer in sy hofstukke die provinsiale departement van openbare werke, paaie en vervoer het onder meer nie die nodige stappe gedoen om te verseker dat die pad veilig is nie. Die departement moes ook voldoende waarskuwingstekens langs die pad opgerig het om motoriste teen die potensiële gevare van slaggate te waarsku, voer hy aan.

Die LUR sê egter in die verweerskrif die paaie is in ooreenstemming met die beskikbare finansiële en ander hulpbronne in stand gehou. Die departement se begroting weerhou hom daarvan om al die paaie in sy jurisdiksie te herbou en die ontstaan van slaggate heeltyds te moniteer.

Daar kan nie redelikerwys verwag word (van die departement) om bewus te wees van al die bestaande paaie in sy jurisdiksie nie.
Dikeledi Mahlangu

“Daar kan nie redelikerwys verwag word (van die departement) om bewus te wees van al die bestaande paaie in sy jurisdiksie nie.”

Die LUR hou vol die bestuurder se nalatigheid het die ongeluk veroorsaak. Luidens die verweerskrif het Grundlingh die spoedbeperking oortree en kon hy dus nie sy motorfiets beheer nie. Hy het ook nie betyds stilgehou nie.

Grundlingh het nie binne ses maande ná die ongeluk ’n kennisgewing op die departement bedien dat hy ’n eis wil instel nie. Daarom het hy die hof gevra om daarvoor verskoon te word.

Terblanche sê die indiening van die kennisgewing was slegs met ’n paar maande vertraag. Daar is onder meer vir die verslag oor die ongeluk en die hospitaalrekords gewag.

Grundlingh het ’n oop wond op sy regterkuit gehad wat met talle steke geheg moes word. Hy het ook verskeie sny- en skaafwonde gehad. Sagteweefsel in sy regterenkel en -voet is beseer, lui sy eisbesonderhede.

Hy eis sowat R535 000 vir sy mediese uitgawes en sy verlies aan inkomste. Hy sal boonop R78 571 moet betaal om sy silwer Suzuki-motorfiets te laat herstel.

Volgens Terblanche is Grundlingh ’n elektrisiën by ’n myn in Lydenburg.

Meer oor:  Padongelukkefonds  |  Pretoria  |  Hooggeregshof  |  Hazyview  |  Motorfietsryer  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.