Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Moyhdine Pangarker in hof op aanklag van ontvoering
Mense met inligting oor waar Tazne van Wyk moontlik kan wees, word gevra om die polisie se Stop Misdaadnommer 0860 10111 te skakel, of die Ravensmead-polisie te kontak. Foto: Verskaf

Ontvoering.

Dit is die aanklag waarop Moyhdine Pangarker (54) Dinsdag in die landdroshof op Cradock verskyn het.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het Woensdag dié aanklag teen Pangarker bevestig. Daar is aanvanklik berig dat Pangarker op ’n aanklag wat met die verbreking van sy paroolvoorwaardes verband hou, in die landdroshof verskyn het.

Op die vraag of die aanklag van ontvoering verband hou met die verdwyning van die agtjarige Tazne van Wyk, het Traut gesê: “Dis voldoende om te weet die aanklag teen hom (Pangarker) is dié van ontvoering”.

Tazne is laas op Vrydag 7 Februarie gesien toe sy na ’n huiswinkel naby haar ouerhuis in Clarestraat, Connaught Estate, Elsiesrivier, gegaan het. Sy het glo twee 50c-sigarette vir iemand gaan koop.

Die polisie het Pangarker die Sondag ná Tazne se verdwyning geïdentifiseer as “iemand wat hulle in die ondersoek na haar verdwyning kan help”.

Inwoners van Clarestraat het toe gesê ook Pangarker het daardie Vrydag soos mis voor die son verdwyn.

’n Bron op Cradock het Woensdag gesê Wes-Kaapse speurders verbonde aan dié provinsie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredinge (GKS) is onderweg na Kaapstad met Pangarker.

Hy sal waarskynlik Vrydag in ’n landdroshof in Kaapstad verskyn.

Die bron sê die landdros in die hof op Cradock waar Pangarker voorgekom het, het Dinsdag ’n J9-dokument, wat toestemming verleen dat hy na Kaapstad vervoer kan word, goedgekeur.

Polisiebeamptes het hom glo ook ná die hofverrigtinge na ’n plaaslike hospitaal geneem waar hy glo ondersoek is om seker te maak dat hy geen beserings het nie en na Kaapstad vervoer mag word.

Polisielokval

Pangarker is Maandagaand in die Victoria-hotel op Cradock in ’n polisielokval gelei en in hegtenis geneem.

Die polisie het sy spoor glo verlede week in Kimberley in die Noord-Kaap opgetel.

Hy het hier glo by verskeie moskees in Galeshewe omgegaan en geld gebedel. Hy is daarna glo vort na Colesberg, sowat 280 km verder. Hier het hy die polisie glo weer ontglip en na Cradock, sowat 200 km verder, gevlug.

Pangarker is Maandag omstreeks 22:15 in hegtenis geneem toe hy glo ’n vrou wat in die hotel tuisgegaan het, wou besoek. ’n Bron op Cradock het Dinsdag gesê die ondersoekbeampte in die Tazne-saak, speursers. Clinton Franks, was Maandag reeds om 10:00 by die hotel.

“Ons vermoed die vrou het hulle laat weet dat hy na haar toe gaan kom en dat sy as lokaas gebruik is,” het die bron gesê.

Pangarker word benewens die ontvoeringsaanklag ook deur ’n aanklag wat verband hou met die verbreking van sy paroolvoorwaardes in die gesig gestaar. Hy word glo ook in Worcester vir ’n aanrandingsaak gesoek.

Traut sê die soektog na Tazne duur voort. Volgens hom word die saak nog ondersoek.

Meer oor:  Moyhdine Pangarker  |  Hofsaak  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.