Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
MRK laat vaar klag teen NG leraar

’n Klag van haatspraak teen ’n dominee van die NG Kerk in die Oos-Kaap is dalk vir eers van die baan, maar dit beteken nie noodwendig die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gaan dit daar laat nie.

Dr. Chris van Wyk se regspan, Robin O’Brien en adv. Keith Matthews, het Woensdag in ’n verklaring bekend gemaak die MRK het die klag teen Van Wyk laat vaar.

Die saak raak ietwat meer ingewikkeld toe die MRK by monde van adv. André Gaum, kommissaris van die MRK, sê hulle beskou nie die saak as afgehandel nie.

“Die MRK beskou nie die kwessie betreffende dr. Van Wyk as afgehandel nie. Die kommissie sal met die klaers konsulteer en te gelegener tyd verdere kommentaar lewer,” het Gaum aan Netwerk24 gesê.

Toe Netwerk24 vir die amptelike kennisgewing van die MRK vra dat die klag teruggetrek is, het O’Brian ’n teks per e-pos aangestuur wat aandui dat dit teruggetrek is, alhoewel dit nie daaruit blyk deur wie en wanneer dit gestuur is nie.

Dr. Chris van Wyk Foto: Argief

Die drukgroep Queers without Borders (QWB) het Van Wyk in 2019 by die MRK verkla oor sy kommentaar in 2018 op die Kerkbode se Facebook-blad, waar hy gesê het pedofilie “as ’n seksuele oriëntasie” moet in dieselfde lig as homoseksualiteit gesien word.

In sy kommentaar skryf hy as seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, “sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar”.

Hy het gereageer op die bekentenis in 2018 van ds. Nelis Janse van Rensburg, NG moderator, dat sy (Janse van Rensburg se) persoonlike oortuigings nie strook met die kerk se vorige standpunt oor selfdegeslagverhoudings nie.

Janse van Rensburg het onder meer geskryf: “Ek is oortuig daarvan dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester”.

Van Wyk het in sy repliek aan die MRK ontken dat hy ooit pedofilie met homoseksualiteit vergelyk het.

Die saak is in die gelykheidshof in Port Elizabeth ingedien.

Luidens die verklaring van Van Wyk se regspan het QWB en die MRK Van Wyk van die begin af kwaadwillig beskuldig oor iets wat hy volhou hy nie gesê het nie.

Hulle het verder aangevoer die MRK het in sy hofstukke ’n verkeerde vertaling van die voorval gevoeg. Die regspan voer daarom aan dit was van die begin af nie ’n geldige klag nie.

“Die MRK het nou in skrif bevestig dat hy die klag teen dr. Van Wyk sal terugtrek . . .” lui die verklaring.

Hulle sê verder in hul verklaring die NG Kerk het die feit geïgnoreer dat die MRK, ’n hoofstuk 9-instelling, deur QWB misbruik is.

Hulle was ook spesifiek besorg oor hoe sekere Afrikaanse publikasies oor die saak berig het.

Hulle meen die media het nie die saak regverdig hanteer nie en net die MRK en die NG Kerk se woord hierop aanvaar sonder om ’n oopkop te hou en Van Wyk se kant van die saak te stel.

Vir hulle was die ergste die feit dat Janse van Rensburg nie ’n “medebroer in Christus” gehelp het nie.

“Dit was lafhartige optrede deur ’n medebroer in Christus wat desperaat in nood was vir hulp,” lui die verklaring.

Janse van Rensburg het by navraag gesê: “Chris is my broer in Christus en ek moet verantwoordelikheid aanvaar vir die beskerming van sy karakter. Ek teken daarom hiermee verskoning aan dat ek nie meer gedoen het om Chris se karakter te beskerm nie. Ek is nietemin dankbaar dat die MRK nie voortgegaan het met die ondersoek en ‘verhoor’ van die klag teen Chris nie. Ek vertrou dat ons ruimte en genade sal vind om steeds as kollegas en dienaars van Christus saam te dink, te dien en te werk in God se Koninkryk.”

Hy het gesê Van Wyk is ’n gerespekteerde kollega en vriend, maar dat hy hom in die openbaar uitgedaag het oor sy standpunt oor selfdegeslagverhoudings. “Hy het egter in sy openbare reaksie op my standpunt stellings gemaak wat vurige reaksie van die publiek ontlok het.

“Alhoewel die klag teen Chris gespruit het uit opmerkings wat hy in sy persoonlike hoedanigheid gemaak het, het ons baie deernisvol ons solidariteit met Chris betuig met betrekking tot die klagte. Ons het deur alles mooi verhoudings gehandhaaf ondanks die feit dat die lede van die moderatuur nie oor selfdegeslagverhoudings saamgestem het nie.”

Hennie Pienaar, stigter van QWB, het gesê hulle wag nog op volledige kommunikasie van die MRK.

“Queers without Borders gee erkenning aan die emosie in dr. Van Wyk se verklaring en besef dat hy ’n uitdagende tyd deurgemaak het. Ons verwag daarom ook dat hy erkenning sal gee aan die pyn wat sy destydse woorde oor ’n breë front in kerklike geledere en in die samelewing tot gevolg gehad het. Ons vertrou dit het hom tot nadenke die afgelope tyd gestem. Om pedofilie in dieselfde asem as selfdegeslagverhoudings te noem is inderdaad problematies en herinner aan stereotipes wat eeue lank homofobie aangeblaas het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.