Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
MTI se Steynberg is die ‘fall guy’ meen sy vrou

Johann Steynberg “het nie met miljarde rande verdwyn nie”. Hy “sit nie op ’n eiland met ’n cocktail nie”.

So het Nerina Steynberg, vrou van die vermeende baasbrein van Mirror Trading International (MTI), vroeër vanjaar as deel van die ondervraging ná ’n likwidasie-aansoek voor oudregter Hans Fabricius, kommissaris van die likwidasie-aansoek, getuig.

Die Steynbergs is van Polokwane in Limpopo.

Nerina het haar man in die ondervraging beskryf as ’n goeie mens wat nie vir haar en hul kind net so sal los en verdwyn nie.

Johann Steynberg, die hoof van Mirror Trading International (MTI), is steeds soek. Foto: Argief

Haar getuienis in die ondervraging is deur die vyf voorlopige likwidateurs van MTI as deel van hul hofstukke in die likwidasie-aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien.

Ondervragings ná likwidasie-aansoeke word agter geslote deure gehou, maar omdat haar getuienis nou deel van die hofrekord is, is dit dus in die openbare domein.

MTI het meer as 280 000 skuldeisers van verskeie lande en kenners meen dit kan een van die grootste piramide-bedrogskandale met kriptogeld wees wat die land tot nog toe gesien het, het Netwerk24 vroeër berig.

Steynberg is glo die enigste persoon met toegang tot die bitcoin-beursies waarin die beleggings glo gebêre is.

Nerina het voor Fabricius getuig haar man het op 2 Desember verlede jaar op ’n vliegtuig na Brasilië geklim en was veronderstel om op 23 Desember terug te keer. Volgens haar het hy ’n vliegkaartjie van Qatar Airways gehad vir sy terugvlug.

Sy het sedertdien egter niks van hom gehoor nie.

Hy het ook geen kontak met die ander lede van MTI gehad nie.

Aansoek om MTI se likwidasie

Twee van MTI se skuldeisers, wat gesamentlik sowat R1,2 miljoen verloor het, het in Desember verlede jaar ’n aansoek om MTI te laat likwideer by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien en regter Owen Rogers het ’n voorlopige likwidasiebevel bekragtig.

Die saak het Dinsdag voor waarnemende regter Alma de Wet gedien sodat sy die likwidasiebevel finaal kon maak.

Clynton Marks, wat sê hy het ’n 50%-belang in MTI, het egter intussen aansoek gedoen om as tussenparty toegelaat te word sodat hy die finale likwidasie-aansoek kan teenstaan.

De Wet het dus uitspraak voorbehou.

Steynberg is vroeër vanjaar ook voorlopig in die hooggeregshof in Polokwane gesekwestreer met ’n terugkeerdatum van 20 Julie om ’n finale bevel te bekom.

In Januarie het die meester van die hooggeregshof in Kaapstad vyf voorlopige likwidateurs aangewys om beheer van MTI te neem. Adriaan Willem van Rooyen, Herman Bester, Jacolien Frieda Barnard, Christopher James Roos en Deidre Basson het nou tydelik beheer oor MTI en moet ondersoek doen na wat in die maatskappy gebeur het nadat tussen R6 miljard en R8 miljard verdwyn het.

Dit is tydens hierdie ondersoek dat die ondervraging van alle betrokke persone voor Fabricius geskied het.

Nerina het in Maart getuig haar man is die stigter en hoof van MTI, maar dat sy min tot geen insae tot sy sake gehad het. Hul huis in Polokwane is in haar naam geregistreer en sy het die verbandlening betaal, terwyl die erf langs die huis deur Steynberg gekoop is. Hy het ook in 2020 twee Jaguars gekoop teen R1 miljoen elk.

Nerina het aan Fabricius gesê Steynberg het einde November verlede jaar ’n anonieme e-pos gekry waarin hy aangeraai is om “homself uit die voete te maak”. Hulle het daaroor gepraat dat hy “vir ’n rukkie” landuit sou gaan.

Sy was nie gelukkig hieroor nie, maar sy wou nie inmeng by sy sake nie. Sy was in ’n mate gerus omdat hy ’n vliegkaartjie gehad het om op 23 Desember terug te keer.

Die rede hoekom hy spesifiek na Brasilië is, is omdat Steynberg gesê het hy het nie nodig om ’n koronavirustoets te ondergaan om na dié land te gaan nie, het Nerina gesê.

Tydens die ondervraging het Nerina haar man verdedig en aangevoer dit is ander lede van die maatskappy wat haar man die “fall guy” wou maak.

“Johann is nie weg met hierdie geld nie. Hy het nie hierdie geld gesteel nie, hy sit nie êrens op ’n blerrie eiland en drink ’n cocktail nie. Iemand moes dit aan hom gedoen het.”

Sy het gesê sy was by die werk toe sy ’n e-pos van kollegas van Steynberg kry dat hy “weg is” en dat hulle hom nie in die hande kan kry nie.

“Ek was histeries toe ek die e-pos kry. Johann sal my nooit net so los nie, nooit nie, nooit sy kind net so los nie, nooit, nooit. Hy is ’n goeie mens.”

Steynberg het ook tydens die ondervraging gesê haar man het ’n plantasie in Panama gekoop, maar dat hulle dit nooit bespreek het om daarheen te trek nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.