Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
MTI se baasbrein nog soek

Maande nadat die vermeende baasbrein agter die beleggingskema Mirror Trading International (MTI), wat beleggers glo uit byna R8 miljard geswendel het, spoorloos verdwyn het, is hy voorlopig gesekwestreer.

Dié sekwestrasieaansoek spruit uit die aanvanklike likwidasie-aansoek.

Johann Steynberg van Polokwane het MTI in 2019 gestig en die skema glo gebruik om geld deur Bitcoin te swendel.

Johann Steynberg
Johann Steynberg van MTI. Foto: Argief

Hy het intussen verdwyn en niemand het sedert Januarie enige kontak met hom gehad nie.

MTI is in Januarie voorlopig in die hooggeregshof in Kaapstad deur regter Owen Rogers gelikwideer nadat twee skuldeisers die aansoek teen hom en MTI ingedien het.

Steven Watkins van Pretoria en Anton Lee van Empangeni het verlede jaar afsonderlik dringende aansoeke by die hof ingedien. Hulle het onderskeidelik R150 000 en R1 miljoen by MTI belê.

Die saak is in Januarie aangehoor en nie MTI of Steynberg het die aansoek teengestaan nie. MTI is voorlopig gelikwideer met 1 Maart as die terugkeerdatum.

Die partye het egter op 1 Maart ooreengekom om die saak tot 31 Mei uit te stel, omdat MTI ’n regspan aangewys het en hulle eers die uitslae van ’n ondersoek deur die Gesagsowerheid vir die Finansiëledienstesektor wil bestudeer.

Intussen het die meester van die hooggeregshof in Kaapstad op 12 Januarie vyf voorlopige likwidateurs aangewys om beheer van MTI te neem. Adriaan Willem van Rooyen, Herman Bester, Jacolien Frieda Barnard, Christopher James Roos en Deidre Basson het nou tydelik beheer oor MTI en moet ondersoek instel na wat in die maatskappy gebeur het nadat tussen R6 miljard en R8 miljard verdwyn het.

Die voorlopige sekwestrasiebevel.
Die voorlopige sekwestrasiebevel.

MTI het meer as 280 000 skuldeisers van verskeie lande en kenners meen dit kan een van die grootste piramide-bedrogskandale met kriptogeld wees wat die land tot nog toe gesien het.

Hierdie voorlopige likwidateurs het, nadat hulle aangewys is, ’n aansoek om sekwestrasie by die hooggeregshof in Limpopo, Polokwane, ingedien om Steynberg en sy vrou, Nerina, te sekwestreer. Die rede hoekom die sekwestrasie-aansoek in Polokwane ingedien is, is omdat die Steynbergs daar woon.

Op 13 April het regterpresident Ephraim Makgoba hulle voorlopig gesekwestreer.

Die bevel moet nou aan Steynberg beteken word en indien hy sou kies om dit teen te staan, sal die saak weer op 20 Julie voor die hof verskyn. Hy sal op hierdie dag redes moet verskaf waarom hy nie finaal gesekwestreer moet word nie.

Hierdie bevel moet ook aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gestuur word, asook die meester van die hof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.