Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Muishond Malan ‘moenie klippe uit sy glashuis gooi’

Muishond Malan, ’n rubriekskrywer van Kimberley wat inligting op sosialemedia-platforms met ’n hofaansoek wil uitsnuffel, moet in sy pasoppens wees “dat sy eie rassistiese opmerkings nie ook daardeur ontbloot word nie”.

Só het Mark Fletcher namens Linja Allen aangevoer in haar interdikaansoek teen Rudi Ferreira, wat onder die skuilnaam Muishond Malan ’n rubriek op Facebook skryf.

Allen het Ferreira in Maart vanjaar daarvan beskuldig dat hy haar onder sy eie naam op WhatsApp en as Muishond Malan op Facebook beledig en gedreig het.

Rudi Ferreira, alias Muishond Malan, saam met sy vriendin, Jana Grobbelaar, by die hof. Foto: Charné Kemp

Ferreira het na bewering op WhatsApp vir Allen gesê daar sal “f*kk*l” van haar oorbly.

Kragtens die tussentydse interdik word Ferreira verbied om op enige wyse met Allen en haar naasbestaandes kontak te maak.

Sy het vroeër ook strafregtelike klagte van crimen injuria en intimidasie teen Ferreira ingedien. Ferreira het intussen ’n interdikaansoek teen Allen laat vaar.

Riaan Bode het namens Ferreira in sy aansoek om private WhatsApp-boodskappe en persoonlike inligting te bekom aangevoer dat hy dit benodig om Allen se kruisondervraging te voltooi.

Sy grondwetlike reg tot ’n regverdige verhoor en moontlike appèl is ter sprake. Die hof moet ook kan bepaal of Allen ’n geloofwaardige getuie is.

Ferreira eis al die lede van die WhatsApp-groep No Filter Admin se volle name, identiteitsnommers en range (waar polisielede betrokke is), asook toegang tot die teksboodskappe self.

Allen is een van die groepadministrateurs.

Ferreira voer aan dat hy, Muishond Malan, en sy vriendin, Jana Grobbelaar, redakteur van die Glitter-tydskrif en FinditinKimberley-webwerf, deur die groeplede beledig word.

Rudi Ferreira, alias Muishond Malan, praat met sy vriendin, Jana Grobbelaar. Foto: Charné Kemp

Hy beweer die gesprekke handel ook oor polisiewreedheid wat lasterlik, politiek onaanvaarbaar en suggestief kan wees. Die inligting kan in openbare belang wees.

Hy voer aan dat Allen, wat ook lid van die gemeenskapspolisiëringsforum is, toegang het tot polisieradio’s wat sy tot voordeel van haar sekerheidsmaatskappy en ’n ambulansdiens aanwend.

Allen kom weens haar gekruide taal nie voor asof sy weerloos teen Ferreira is nie.

Fletcher het aangevoer dat Ferreira se aansoek geen verband hou met Allen se saak waarin sy op ’n openbare platform geteister is nie.

“Ferreira, alias Muishond Malan, swaai ’n towerstaffie oor die saak om verwarring te veroorsaak.”

Die private boodskappe op die betrokke WhatsApp-groep was net tussen genooide lede, wie se regte Ferreira met sy aansoek wil aantas. Die lede se getuienis sal nie die hofsaak verder neem nie.

Ferreira moet eerder klagte indien as hy bekommerd is oor wanpraktyke in die polisie.

Mark Fletcher praat met Linja Allen en Craig van Rensburg oor hul interdikaansoeke teen Rudi Ferreira. Foto: Charné Kemp

Fletcher vermoed sterk die WhatsApp-groep is deur kuberkraking ontbloot.

“Ferreira wil inligting uitsnuffel in die strafregtelike saak teen hom.”

Hy het Ferreira gewaarsku om “nie klippe uit sy glashuis te gooi nie”, omdat sy beweerde rassistiese inskrywings op sy Muishond Malan-Facebook-blad in die hofsaak geopenbaar kan word.

Volgens Fletcher is Ferreira se beuselagtige en ontersaaklike aansoek die “ergste vorm van teistering” wat hy al in sy loopbaan teëgekom het. Boonop mors dit die hof se tyd.

Landdros Celeste Nameka sal op 22 Mei uitspraak lewer. Die onverwante interdikaansoek van Craig van Rensburg teen Ferreira, waarin Ferreira dieselfde inligting versoek as wat hy van Allen eis, sal ook aangehoor word.

Meer oor:  Rudi Ferreira  |  Muishond Malan  |  Rubriekskrywer  |  Hof  |  Uitlatings  |  Interdik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.