Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘My hart huil heeltyd,’ sê pa wat seun skiet

Die Oos-Randse man wat Vrydag in die hof verskyn het omdat hy per ongeluk sy seun geskiet het nadat hy gedink het hy is ’n inbreker, sê hy dink “elke sekonde van elke dag” aan die verskriklike oomblik.

Coert Kruger se vrou, Riana, troos hom terwyl hy vertel van die verskriklike nag toe hy sy seun Coert, doodgeskiet het. Foto: Elizabeth Sejake

Coert Kruger (51) word van die moord op sy 30-jarige seun, ook Coert, aangekla. Hy het hom op 22 Maart geskiet toe hy, saam met veiligheidswagte, ondersoek ingestel het nadat die alarm by ’n huis op sy kleinhoewe afgegaan het.

“My emosies ry die hele tyd wipplank. Dit was vandag verskriklik traumaties om daar te staan. Ek het net oor en oor gedink – dís waarvoor ek aangekla word! Hoe is dit moontlik?” het hy Vrydag aan Rapport gesê.

“Ag man, dis net een groot nagmerrie. Ek is stukkend en moeg en leeg. Hoe verwerk ’n mens so iets? Ek het gedink ek het nou nie meer trane oor nie want my oë is droër, maar my hart huil heeltyd.

‘Dís waarvoor ek aangekla word! Hoe is dit moontlik?’

“Daar is nie ’n boek wat ’n mens kan koop om te sê hoe jy dit moet verwerk nie,” het hy gesê terwyl die trane oor sy wange rol.

Hy wil nie oor die voorval self praat nie omdat die hofsaak nou eers begin het. Die polisie het vroeër aan Rapport gesê op die noodlottige aand was lede van die sekuriteitsmaatskappy reeds in die huis toe Coert daar aankom.

Binne-in die huis het hulle geskree op iemand wat skynbaar deur die dak probeer ontsnap het. Coert het gesien die man probeer wegkom en ’n skoot afgevuur wat hom getref het.

Coert Kruger (links) saam met sy oudste seun en naamgenoot langs die viswaters as seuntjie. Hy sê dis waar hulle “gebond” het. Hy was die vierdie generasie wat die naam Coert Johannes Kruger gedra het en dit was ‘n “great dag” toe die seun van hom gebore is. Foto: Verskaf

Die wagte het die lyk afgehaal en toe sien Coert dis sy eie seun. ’n Sakkie met juwele is by hom gekry wat hy vermoedelik vir dwelmgeld gesteel het.

“Daar is nie woorde om te beskryf wat ek gevoel het nie. Dit skeur ’n mens. Ek het gefaal as ouer. Ek is ’n failure,” sê hy terwyl sy vrou, Riana (45), Coert se stiefma, haar man troos.

“Al wat my staande hou, is dat ons ’n regverdige God het. Maar terselfdertyd wil ek vir Hom en Coert vra – hoekom was julle so blerrie stupid?”

Hy sê dis vir hom moeilik om te erken dat sy seun ’n dwelmprobleem gehad het. “Ek was bewus daarvan en ek en hy het ’n gesprek of twee gehad.” Hy sê hy het nie besef hoe ernstig dit was nie.

Coert Johannes Kruger soos wat sy pa hom sal onthou – as goeie hengelaar en ’n mens met ’n fantastiese brein. Foto: Verskaf

“Ek weet nie eers watter dwelms op die mark is nie. Ek as ouer moes 100% bewus gewees het van al die gevaartekens.

“Ek moes hom beter raad gegee het. Ek kasty myself die hele tyd daaroor,” sê Coert.

Die reus van by die twee meter lank begin weer ruk soos hy huil.

“Ons het probeer om hom te vat vir rehabilitasie, maar hy wou nie. ’n Mens kan ’n perd ook net tot by die water vat. . . . hy was so ’n briljante kind. Dis moeilik om so iets oor jou eie kind te glo,” sê hy.

Sy vrou Riana sê in die 22 jaar dat hulle getroud is, het sy Coert nog nooit so verpletter gesien nie.

“Ek het onlangs op ’n tydskrif se voorblad gelees iemand sê hy is vuisvoos en ek het gedink wat ’n mooi woord. Min het ek geweet dat ek kort daarna self sou leer hoe dít voel,” sê Riana.

Volgens haar is daar oral in die huis en op die kleinhoewe tekens van Coert junior se handewerk.

Hy was ’n ware planmaker.

“Vandat hy klein was, het ek altyd goed soos stukkende radio’s gebêre vir wanneer hy kom kuier. Dan het hy die hele ding uitmekaar gehaal en weer aanmekaar gesit.

“Hy het ’n briljante brein gehad en al die goed net verstaan sonder dat enigiemand hom geleer het hoe dit werk. As ek vandag vir hom sê die yskas het ’n probleem is dit môre uitgesorteer,” sê Riana.

Ná skool het hy as elektrisiën gekwalifiseer en sy eie onderneming begin. “Hy was suksesvol en kon enigiets regmaak,” sê Coert.

Hy sê hy was ook ’n uitstekende vlieghengelaar. “Ek kon vir dae lank net sit en kyk hoe hy visvang. Maar ja, dis nou water onder die brug wat jy nooit weer kan terugstoot nie.”

Meer oor:  Coert Kruger  |  Skietvoorval  |  Inbreker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.