Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘My regte is nooit aan my verduidelik’ – Xander

Xander Bylsma (19) beweer nou die polisielid wat sy bekentenis oor die Stella-moorde afgeneem het, het 27 van die 35 vrae in die bekentenisvorm nié aan hom gestel nie.

Adv. Johan Smit SC, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, het Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho vir dié polisielid gevra: “Is dit moontlik dat jy (in die uur en 20 minute) wat jy Bylsma ondervra het, 78% van die vrae nié aan hom gestel het nie?

“Nee, ek het al die vrae aan hom gestel,” het kol. Corrie Kochlan vir die soveelste keer uit die getuiebank gesê.

Kol. Corrie Kochlan voor wie Xander Bylsma die bekentenis afgelê het. Foto: Deaan Vivier
Adv. Niven Rai, Xander Bylsma se regsverteenwoordiger.Foto: Deaan Vivier

Dit was nadat adv. Niven Rai, Bylsma se regsverteenwoordiger, feitlik die hele Donderdag daaraan gewy het om Kochlan daarvan te beskuldig dat hy omtrent geen van Bylsma se regte aan hom voorgehou het nie.

Hy is glo nooit gevra of hy ’n prokureur of sy ouers teenwoordig wil hê nie, en of hy voorgesê, gedreig en beïnvloed is om die bekentenis af te lê nie. Bylsma is ook nie gevra of hy die gevolge van die bekentenis besef en of hy tevrede met die inhoud is nie, het Rai aangevoer.

Kochlan was onwrikbaar: Hy het ál die vrae aan Bylsma gestel, insluitend of hy beïnvloed of voorgesê is en of hy ’n prokureur teenwoordig wou hê. “Hy het op alles nee gesê.”

Rai voer nou aan Bylsma se bekentenis dat hy Sharnelle Hough (17) en Marna Engebrecht (16) in Mei 2018 in die Hoërskool Stella se koshuis verwurg het, is vals en dat dit nie toegelaat kan word nie omdat Bylsma se regte geskend is.

Bylsma beweer nou hy het enkele ure ná die meisies se dood teenoor die private speurder Chris Saunders gebieg en kort daarna ’n bekentenis by die polisie afgelê terwyl hy onder die invloed van ’n oordosis angsmedikasie was. Hy voer aan hy was kalm omdat hy die medikasie gedrink het, maar glad nie by sy volle positiewe nie.

Xander Bylsma praat met sy ma, Mercia, in die hof.Foto: Deaan Vivier
Adv. Johan Smit SC, direkteur van openbare vervolging in Noordwes. Foto: Deaan Vivier

Bylsma beweer nou ook hy was nie op die moordtoneel nie, maar het bloot in sy bekentenis beskryf hoe hy Sharnelle en Marna met onderskeidelik ’n tou en handsak verwurg het omdat Saunders hom voorgesê om dit te doen. Sou hy dit nie doen nie, het Saunders gedreig om sy ouers te vermoor, beweer Bylsma. Stefans Engelbrecht, Marna se pa, het glo ook gedreig om hom te skiet.

Saunders ontken dat hy Bylsma ooit voorgesê of gedreig het.

Kochlan het Donderdag getuig hy het ’n spesifieke voorgeskrewe vorm gebruik toe Bylsma die bekentenis op 26 Mei 2018 by die Vryburg-polisiekantoor voor hom afgelê het. Hoewel Bylsma meerderjarig is, het hy hom tog gevra of hy sy ouers, wat ook by die polisiekantoor was, teenwoordig wou hê. “Hy wou nie.”

Toe Kochlan hom vra of hy nugter en by sy volle positiewe was, het hy glo ja gesê en geen melding van pille gemaak nie.

Xander Bylsma het deurentyd ‘n notaboek by hom in die hof, waarin hy tydens die verhoor aantekeninge maak.Foto: Deaan Vivier
Stefans Engelbrecht, Marna se pa, in die hof. Hy het glo gedreig om Xander Bylsma te skiet die dag wat sy dogter se lyk gevind is.Foto: Deaan Vivier

Rai het teruggekap dat Kochlan by daardie vraag in die bekentenisvorm eers “nee” begin skryf, dit toe doodgetrek en “ja” geskryf het. Hy het Kochlan daarvan beskuldig dat sy “ja” net verwys het na of Bylsma alkohol gebruik het of nie.

Kochlan het geantwoord hy het ’n fout gemaak toe hy “nee” begin skryf en dit dadelik reggestel, en dat hy deeglik besef die vraag strek wyer as net alkohol.

“Hy was nooit lomerig nie en deurgaans kalm, samehangend en logies. Hy het normaal gepraat. Bylsma was nugter en by sy volle verstand.”

Lt.kol. Reuben Masire, met wie Bylsma in die Vryburg-polisiekantoor gepraat het voordat hy die bekentenis afgelê het, het getuig Bylsma het ook aan hom gesê hy wil nie sy ouers of ’n prokureur teenwoordig hê wanneer hy sy bekentenis aflê nie. “Hy het aan my gesê hy het die meisies vermoor. Terwyl ek met hom gepraat het, het ek ’n oproep gekry dat sy pa (Monté) vir hom ’n prokureur gereël het, maar hy het volgehou hy wil nie een hê nie.”

Bylsma voer aan hy wou nie sy ouers teenwoordig hê nie omdat hy gevrees het vir hul veiligheid ná Saunders se dreigement.

Die verhoor duur voort.

Ronnie Hough, Sharnelle se pa, by sy tweede vrou, Anna Hough (met die donker hare), en Sonja Hough, sy eks en Sharnelle se ma. Foto: Deaan Vivier
Xander Bylsma Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Deaan Vivier
Xander Bylsma Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Deaan Vivier
Xander Bylsma praat met sy regspan, Adriaan Janse van Rensburg (links) en Niven Rai (regs).Foto: Deaan Vivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.