Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Myburgh-gesin ‘tevrede met vonnis’ ná vrou se moord

Die twee mans wat skuldig bevind is aan die moord op ’n vrou van Witrivier in 2016, is Vrydag in die hooggeregshof in Mbombela albei lewenslank tronk toe gestuur.

Annatjie Myburgh wat in 2016 eers ontvoer en toe vermoor is.

Selby Mabila (28) en Paul Mathebula (34), wat skuldig bevind is aan die moord op Annatjie Myburgh in 2016, is ook elkeen tot nog 15 jaar tronkstraf gevonnis weens roof met verswarende omstandighede en agt jaar elk vir ontvoering. Hul vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Annatjie is op 15 Junie 2016 voor haar huis in Rocky Drift naby Witrivier ontvoer en later vermoor. Haar lyk is ná ’n uitgebreide soektog op 19 Junie 2016 sowat 7 km buite Witrivier in die bosse opgespoor.

“Ek is verlig dat die saak uiteindelik afgehandel is en ons die gebreekte stukke kan optel en probeer om met ons lewe aan te gaan,” het haar man, Wendell Myburgh, ná die vonnisoplegging aan Netwerk24 gesê.

Hy is gedurende die vonnisverrigtinge, wat oor twee dae gestrek het, deur sy seun, ook Wendell, en dogter, Marlize, by die hof ondersteun.

“Die vonnis het my weer geloof in ons strafregstelsel gegee. Ek is dankbaar vir die mense wat ons as gesin in dié moeilike tyd ondersteun en bygestaan het – van al die vrywilligers, nooddienste, veiligheidsmaatskappye en polisie wat na Annatjie gesoek het, tot die speurders en die regsmense wat enduit by die saak betrokke was. Ek wens ek kon elkeen persoonlik bedank,” sê Myburgh.

Volgens hom het regter Annemarie van der Merwe Vrydag in haar vonnisoplegging gesê die skuldiges het regdeur die verhoor geen vorm van berou getoon nie en het hul aandadigheid aan die misdade ontken.

Van der Merwe het vroeër verduidelik dat die saak drie misdaadtonele bevat. Die eerste is die huis waar die vrou verdwyn het. Die tweede plek die omgewing waar haar wit Mitsubishi Pajero Sport-voertuig gevind is en die derde plek waar die polisie haar lyk gevind het. Mabila en Mathebula se skoene het met afdrukke op die misdaadtonele ooreengestem.

Annatjie en Wendell Myburgh

Met sy inhegtenisneming het Mabila die polisie na die plek gelei waar hulle Annatjie se voertuig gelos het. Mathebula se vingerafdrukke is ook op die voertuig gevind. Annatjie is volgens patologiese verslae aan versmoring of verwurging dood.

“Ons is tevrede en kon nie vir ’n beter vonnis gevra het nie. Almal wat ons gehelp het, is helde in my oë,” sê Myburgh.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Vrydag gesê hulle is ook tevrede met die vonnis.

“Dit is ’n bewys dat die howe geweldsmisdaad met die nodige erns bejeën – soos dit hoort,” sê Monica Nyuswa, woordvoerder van die NVG in Mpumalanga.

Meer oor:  Annatjie Myburgh  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.